Werker sterf toe sloot inval

Foto: ER24

Foto: ER24

ʼn Munisipale werker is Maandagoggend in Welkom in die Vrystaat dood nadat ʼn gedeelte van ʼn sloot bo-op hom ineengestort het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê toe paramedici omstreeks 10:30 na die toneel in Jan Hofmeyerstraat ontbied is, het omstanders op die toneel hulle gewys waar die man steeds in die diep sloot vasgekeer was. “Slegs gedeeltes van die man se kop en bors was sigbaar,” het Vermaak gesê.

“Volgens die man se kollegas was die man heeltemal deur water en modder bedek, maar hulle kon sy kop en bors bo die water uitlig. Die omstanders het gesê die man het nog asem gehaal toe hulle sy kop bo die water en modder uitgekry het.”

Foto: ER24

Foto: ER24

Vermaak het gesê die man was glo besig om aan ʼn waterpyp te werk, toe dit skielik gebars het, wat veroorsaak het dat die kante van die sloot ineenstort. Paramedici se pogings om die man uit die modder te bevry was onsuksesvol en die brandweer se hulp is ontbied. Paramedici het die man ondersoek en gevind hy het reeds aan sy beserings beswyk.

Die polisie sal die voorval ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charles ·

Wat wel deur munisipaliteite erken is, is dat daar nie meer kundiges is wat weet wat hul doen nie. n Bevoegde voorman sou nie n werker se lewe so in gevaar stel nie. n Maand terug wys hul n werker wat halflyf kop onderstebo in vuil water werk om n lek te herstel en deur die kommentaar daarby klink dit asof die persoon geprys word vir wat hy doen. Onbevoegdheid kan tot vele sulke ongelukke lei. Meegevoel aan die oorledene se familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.