Werker sterf toe tier hom in PE-roofdierpark gryp

Een van die tiere by die Seaview-roofdierpark in Port Elizabeth. (Foto: Seaview Predator Park/Facebook)

ʼn Werker by die Seaview-roofdierpark net buite Port Elizabeth in die Oos-Kaap is dood nadat ʼn Siberiese tier hom Woensdagmiddag aangeval het.

Luidens ʼn verklaring van die park was die elektriese heining van die kamp waar die tiere Jasper en Jade aangehou word, besig om herstelwerk te ondergaan toe Jasper oor ʼn buiteheining gespring en ontsnap het.

David Solomon was in hierdie stadium op ʼn paadjie tussen die kampe toe die tier hom aangeval het.

“David het probeer om oor die heining van ʼn ander kamp te klim om na veiligheid te kom, maar Jasper het hom van die heining afgetrek,” lui die verklaring.

Solomon het bytmerke aan sy liggaam gehad, maar dit blyk dat sy nek gebreek is toe die tier hom van die heining afgeruk het. Solomon het sowat 15 jaar by die roofdierpark gewerk en het elk van die diere geken sedert hulle welpies was.

Volgens die park is Solomon nié verskeur nie.

David Solomon het sowat 15 jaar by die roofdierpark gewerk. (Foto: Facebook)

Jasper het daarna oor nog ʼn heining gespring waar die Siberiese tiere Judah en Amber aangehou word. ʼn Geveg het tussen Judah en Jasper uitgebreek en Judah is doodgemaak.

Die park sê die geveg het uitgebreek weens Jasper se wedywering vir Amber se aandag.

“Ná die voorval het die bestuur die park dadelik gesluit en lede van die publiek naby die tierkampe gehelp om hul besittings te kry en die park te verlaat.

“Mense wat by die restaurant was, het daar gebly totdat dit veilig genoeg was vir hulle om na hul voertuie terug te keer en die park te verlaat.”

Die Kabega Park-polisie, die nooddienste, ʼn veearts en amptenare van natuurbewaring is dadelik oor die voorval ingelig.

Jasper en Amber is verdoof sodat Solomon se liggaam verwyder kon word. Judah se karkas is ook weggeneem.

“Ons is ʼn groot familie en David se dood het elkeen van ons hartgebroke en getraumatiseerd gelaat, veral die personeel en vrywilligers wat teenwoordig was tydens die voorval.

“David se teenwoordigheid, grappies, bereidwilligheid om ons jong vrywilligers op te lei en borrelende geaardheid gaan geweldig gemis word. Ons betuig ons diepe medelye met sy familie en vriende,” lui die verklaring.

Die groot katte is veilig terug in hul kampe en die elektriese heining is weer in ʼn werkende toestand.

Volgens die park is Jasper se aanval die eerste voorval van sy soort by die fasiliteit en is dit aangevuur deur hormone. In hierdie stadium is Jasper kalm en deel hy ʼn kamp met Amber. Daar is in hierdie stadium geen planne om hom van kant te maak nie.

Die park het ook besoekers om verskoning gevra wat hul uitstappie gister moes kortknip en het benadruk dat geen lid van die publiek in enige stadium in die gevaar was nie.

“Aan die gaste by die restaurant wat hulp aangebied het, en ons jong besoekers en kinders wat daar woon vermaak het terwyl ons die noodgeval hanteer het, baie dankie vir julle goedhartigheid en ondersteuning.”

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het ʼn bevestig dat ʼn geregtelike doodsondersoek na die voorval gedoen word.

Die park is vandag “uit respek” vir Solomon steeds gesluit vir besoekers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Aai ·

Ek sien die EFF weer oppad na die storie.Sterkte aan David se familie.RIV David.

Misky ·

Ongelukkig wat gebeur as wilde, roofdiere in hokke aangehou word. Sterkte aan David se familie

Fritz ·

Jammer van die ander tier wat doodgebyt is. Siberiese tiere is sulke mooi diere.

Rudolph ·

Geen onskuldige mens of dier behoort in ‘n hok, pen of kamp aangehou word nie. Aanhouding, inperking gee aanleiding tot antisosiale gedrag en aggressie. Voeg daarby die mishandeling wat diere in aanhouding verduur dan skep mens die perfekte toestande vir sulke insidente.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.