Werker verloor hand in ongeluk aan diens

Eugene Jali se hand is in ‘n mieilie-menger afgekap (Foto: Verskaf)

ʼn Jong fabriekswerker van Queenstown (Komani) in die Oos-Kaap is onseker oor sy toekoms nadat hy sy hand ʼn week gelede tydens ʼn ongeluk aan diens verloor het.

Eugene Jali (28) se hand het verlede Dinsdag in ʼn mielie-menger in die Truda Foods-fabriek beland. Dié jong werker is in die hospitaal opgeneem en was vir ʼn paar dae in die intensiewesorgeenheid.

Hy is die afgelope naweek ontslaan en sterk tans by die huis aan.

“Hy verduur nog steeds baie pyn en is onseker oor sy toekoms. Hierdie besering verwoes nou sy hele lewe,” sê Zolile Rodger Xalisa, woordvoerder van die Onafhanklike Komani-inwonersvereniging.

Dié inwonersvereniging het die voorval in ʼn verklaring veroordeel en sy ontevredenheid teenoor Truda Foods uitgespreek.

“Die werkers het gereeld die bestuur van die fabriek ingelig oor die swak gesondheids- en veiligheidstoestande daar. Hulle het die gevaarlike aard van hul werksomgewing aan die bestuur probeer uitwys, maar dit lyk asof dié klagtes op dowe ore geval het.”

Truda Foods ontken dit en sê dat die nodige gesondheids- en veiligheidsmaatreëls wel ingestel is.

Xalisa sê Truda Foods het self aan die gemeenskap bekend gemaak dat daar verlede jaar altesaam 31 beserings aan diens in die fabriek was. “Oor die jare heen is werkers aan diens beseer deurdat hulle geval het. Sommige van hulle het selfs ʼn vinger in die masjiene verloor.”

Die waarskuwingsteken op die mielie-menger (Foto: Verskaf)

Maar Steve Edwards, hoof- uitvoerende beampte (CEO) vir Truda Foods, sê die 31 voorvalle in die fabriek waarna die inwonersvereniging verwys, was voorvalle waar geen of geringe beserings opgedoen is.

Die vereniging het aangedui dat hy ʼn saak van poging tot moord teen Truda Foods aanhangig gaan maak.

“Die bestuur van hierdie maatskappy moet ten volle verantwoordelikheid neem.”

Die vereniging doen ook ʼn beroep op die departement van arbeid om sy eie ondersoek teen die maatskappy van stapel te stuur.

“As die departement nie optree nie, het ons geen ander keuse as om die departement as medepligtige te beskou nie.”

Die mielie-menger (Foto: Verskaf)

Edwards het gesê die maatskappy voel verpletter oor hierdie voorval, maar bevestig dat die nodige veiligheidsmaatreëls wel ingestel en voldoende was.

“Die werkers word verbied om hul hande in die mielie-menger in te steek. Daar is ʼn waarskuwingsgevaarteken op die masjien wat aandui dat niemand sy of haar hand in die masjien mag steek nie. Daar is ook ʼn veiligheidskakel wat die kragtoevoer na die masjien afsny as die deur oopgemaak word. Daar is boonop ʼn noodskakel (ʼn tweede afskakelknoppie) wat gedruk word voordat die masjien se deur oopgemaak word. Dit skakel dan die kragtoevoer na die masjien af,” sê Edwards.

“Hierdie veiligheidsmeganismes was in werking, maar is geïgnoreer. Ons werk nou saam met die relevante departemente. Dié departemente was nog altyd tevrede met ons veiligheidsmaatreëls en -prosedures. Dit is ʼn baie veilige werkplek indien die nodige veiligheidsprosedures gevolg word.”

Hy sê mense moet in gedagte hou dat daar ongeveer 1 000 personeellede is wat skofte werk en dat die fabriekwerkers afwisselend 24 uur vir sewe dae per week werksaam is.

Volgens Edwards het Truda Foods ook ʼn hofinterdik teen die inwonersvereniging en die vakbond Saswu gekry, nadat hulle valse kommentaar oor die maatskappy op sosiale media versprei het en só met Jali se saak inmeng.

Volgens Edwards betaal die maatskappy vir private gesondheidsorg vir Jali. Hulle ondersoek ook die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Wielspore ·

Electrical interlocking soos wat in die berig na verwys is volgens wet nie voldoende om ‘n masjien veilig te maak en aan te werk. Die masjien moet afgeskakel word by die krag toevoer en die skakelaar moet met ‘n slot in die af posisie gesluit word. Die persoon wat aan die masjien werk hou hierdie sleutel by hom om toevallige aanskakeling te voorkom. Die werkgewer het nie voldoende voorsorg getref om die werknemer te beskerm.

Piet ·

Gaan meer kos om ‘n veilige werksomgewing te skep as om beserings te hê. Kapitalisme op sy beste

Johan D ·

Dit is waar wat jy sê onder normale omstandighede maar weet jy dalk wat die geval was want ek weet nie?

Alet ·

Maar die berig sê nie of instandhouding gedoen is of dit tydens produksie was nie. Met instandhouding stem ek saam dan maak jy gebruik van uitsluitstelsel en die sleutel of watter meganisme gebruik word word aan die persoon gedra. Maar as dit tydens produksie was is dit mos onmoontlik om die toerusting af te skakel want hoe produseer jy?

Perske ·

Mnr Jali was nie gemagtig of gevra om aan die masjien te werk nie. Die vraag moet wees, hoekom het hy sy hand daar ingedruk en vir iemand gevra om die veiligheidstelsels te “bypass” en die masjien aan te skakel? Dat dit tragies is, is waar. Hier is egter baie meer agter hierdie storie as wat die artikel sê. Die “ongeluk” kom na maande se ge opstook, intimidasie en vals klagtes en na die vereeniging sy saak by die hooggregshof verloor het.
Ek kan tel en 1 plus 1 is nie 11 nie

Gatvol... ·

Ken jy vir Mnr. Jali persoonlik om so ‘n stelling te maak? Hoe weet jy dat hy nie gemagtig was om aan die masjien te werk nie?

Perske ·

Ken jy hom? Ek weet egter wat die verskil tussen produksie span en “maintenance” span se take is en hoe ń fabriek werk.

H ·

jammer maar die klagtes wat hulle wil maak is belaglik……….. dit was nou maar n ongeluk en klaar !!

Anthony ·

REGTIG…. POGING TOT MOORD !!?? Die waarskuwings teken is groot op die masjien aangebring, wat meer moet mens doen? Die werk eerder jouself doen & niemand indiens neem nie.

Anoniem ·

Stem saam. Sodra daar iets gebeur, dan skree die werkers wolf. Ore is mos daar vir brildra.

Porseleintjie ·

Ek glo Jali is geletterd en kon dus die waarskuwingsteken lees. Persoonlik dink ek hierdie word as n geleentheid gesien om geld uit die maatskappy te maak. Jali het duidelik die reels verontagsam en is self verantwoordelik vir sy besering. Baie jammer oor jou verlies maar erken jou nalatigheid, want jy werk verseker nie net n week vir die maatskappy nie.

Die Wolf ·

Ek vermoed n kortpad geneem. Dit is nou maklik om die wergewer te blameer. Wat is die toesighouer se rol?

Anon ·

Vele maatskappye versuim om wette of regulasies te eerbiedig.. Dis hoog tyd iemand begin iets daaraan doen.

Casper ·

Dit blyk dat veiligheidsmaatreëls in plek was.Hy kon slegs sy hand verloor het as hy dit ingedruk het waar hy nie moes nie.As jy dan iets binne in die masjien moet doen skakel dit eers af.

Deon ·

Sou die kamstige veiligheids skakel by die deur met oopmaak gewerk het sou die masjien mos self afskakel of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.