Werkers hof toe oor Denel se ‘minagting’

Lede van Solidariteit by Denel het Woensdag oor die betaling van hul uitstaande salarisse betoog. (Foto: Solidariteit)

Nadat lede van Solidariteit wat ook werknemers van Denel is Woensdagoggend na die sukkelende wapenvervaardiger opgeruk het om te betoog teen uitstaande salarisse, het die organisasie gesê hy is môre terug in die hof om sy saak van minagting van die hof teen Denel verder te voer.

Denel is reeds in Augustus gelas om alle agterstallige salarisse en kontraktuele en statutêre verpligtinge teenoor sy werknemers na te kom. Hy het die bevel tot dusver verontagsaam. Solidariteit sê hy is ook reeds besig om lasbriewe te bekom om op die maatskappy se bates beslag te lê.

Solidariteit sê dit is ondenkbaar dat gewone werkers sonder hul volle salarisse sit weens die gebrekkige strategiese besluite en die onwilligheid van die aandeelhouer om verantwoordelikheid te aanvaar vir die onderneming. Dit boonop terwyl sommige van Denel se bestuurslede glo steeds hul volle salarisse ontvang.

“Die arrogansie van die Denel-bestuur en die staat is verstommend. Hulle hou aan om die entiteit te wanbestuur en verkwis die geld tot hul beskikking. Daar is sprake dat Denel se hoofbestuur nog volle salarisse ontvang. Dít terwyl ander werkers reeds vir maande minder as die helfte van hul salarisse ontvang,” sê Helgard Cronjé, die sektorkoördineerder van lugvaart en verdediging by Solidariteit.

Denel pleit armoede en sê hy het nie geld om die betalings te doen nie. Solidariteit sê egter hy verwerp hierdie argument en voer aan dat Denel beskikbare geld selektief bestee en die hofbevel doelbewus verontagsaam.

Werkers betoog voor Denel se kantoor in Irene. (Foto: Solidariteit)

“Die prosesse wat Denel tans volg, kom deur die bank neer op ʼn totale versuim van pligte: Besluitneming is stadig en swak; implementering vind bykans nooit plaas nie en waar besluite wel geneem word en mense dit wil implementeer, word die nodige geld nie gemobiliseer nie. Ons nader nou die hof om Denel te dwing om die regte ding, met die nodige geld en so spoedig moontlik, te begin doen. Ons lede se toekoms word andersins bedreig.”

Die vakbond het vroeër vandag saam met sy lede by Denel se kantoor betoog om hul ontevredenheid met die wapenvervaardiger te betuig.

“Denel sleep sy voete. Die onderneming, tesame met die staat, wend geen daadwerklike poging aan om die situasie waarin hy hom bevind, te temper nie en nou moet werknemers, wat geen blaam vir die situasie dra nie, die las van die staat se korrupsie en wanbestuur dra. Solidariteit sal nie terugstaan nie. Ons sal alles in ons vermoë doen om ons lede se agterstallige salarisse te verhaal, al moet ons op Denel se bates beslag lê,” sê Cronjé.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
domheks

Die kaders staan voor in die ry, altyd bakhand! Die res moet maar sien kom klaar. Maar die spreekwoord se mos elke hond kty sy dag, maar ‘n brak kry sy naweek!

Kokerboom

Kry betogings ooit resultate? Land is al afgestomp daarteen ten spyte van simpatie aangesien baie van die goed eindig in verwoesting. Vat skuldiges aan in howe aan of implementer mediasie en los onregverdighede op

PH

Miskien sal Denel begin geld maak as hulle begin ketties maak.

Stefan

Ons weet mos reeds baie jare dat al die staatsinstellings wanbestuur word.
Hoekom nou pas protesteer nou die geld op is.
Dis te laat, op is op, niks meer aan te doen nie.

christo

Denel kon soos SAA, gereeld ‘bailouts’ gekry het en nou is daar nie meer geld nie. Denel moet ontbondel word en elke maatskappy moet sy eie potjie krap. Die geld wat Denel gekry het van die belastingbetaler gekry het is netso gebruik vir salarisse en niks is gebruik vir produksie nie. Vertel my net wat het dié mense gedoen as hulle nie kon produseer nie?
Die SAUK het baie meer meriete om geld te ontvang, want daar is wél gewerk.