Werkers in stoor aangehou tydens NW-plaasaanval

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

Drie plaaswerkers en ’n huiswerker is Maandagoggend deur agt verdagtes op ’n plaas naby Wolmaransstad, Noordwes, oorval.

Dié werkers is vasgebind en in ’n stoor aangehou terwyl die verdagtes die plaashuis glo geplunder het.

Volgens kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het die verdagtes tussen 09:30 en 10:00 die skaapplaas, sowat 30 km buite Wolmaransstad, met ’n wit Ford Ranger-bakkie betree.

“Die plaaseienaar is met vakansie, terwyl die voorman en plaaswerkers ’n oog oor die plaas moes hou. Die verdagtes het aan die voorman gesê dat hulle wil skape koop,” sê Myburgh.

Die verdagtes het die volgende oomblik die 44-jarige voorman oorval. Hulle het hom vasgebind en na ’n stoor op die plaas geneem. Hulle het ook drie ander plaaswerkers en die huiswerker oorval en na dieselfde stoor geneem.

“Een van die verdagtes het die slagoffers met vuurwapens in die stoor aangehou terwyl die ander na die plaashuis is. Hulle het die slagoffers se selfone gevat.”

Volgens Myburgh het die verdagtes die huis omtrent geplunder op soek na waardevolle goedere om te steel.

“Die verdagtes het die kluis se sleutel in die hande gekry en geld daaruit gesteel. Hulle het ook hardeskywe uit kringtelevisiekameras op die plaas gesteel.”

Die verdagtes het daarna in die Ford-bakkie laat spaander.

“Die voorman kon homself loswikkel en het met ’n handradio om hulp geroep.

“Die werkers het geringe beserings opgedoen. Dit lyk asof die verdagtes hulle dalk net geskop en geklap het.”

Teen Maandagmiddag is nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die polisie in Wolmaransstad ondersoek ’n saak van gewapende roof.

“Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan die ondersoekbeampte, kapt. Werner Weyers, by 060 997 3372 bel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Kyk maar watter werker het die minste seergekry of was nie daar nie. Dis die eerste stap om uit te vind wie dit was.

Anoniem ·

Plaashekke moet ten alle tye gesluit bly, want dan is enige besoeker of voornemende koper ‘n plaasaanvaller wat ongemagtigde toegang verkry het en kan dienooreenkomstig hanteer word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.