Werkers kan dalk deel van pensioen in 2022 bekom

(Foto: Unsplash)

Die nasionale tesourie sê die vroegste wat enige veranderinge vir ʼn nuwe onttrekkingsmeganisme in werking sal kan tree, is teen volgende jaar. Tito Mboweni, voorheen minister van finansies, het in Julie gesê werkers behoort toegelaat te word om toegang tot ʼn gedeelte van hul pensioengeld te kry, maar het terselfdertyd gemaan dat dit verantwoordelik aangewend moet word.

Die wetgewing daaroor is egter nog nie deurgevoer nie. Die onttrekkingsproses sal egter nie geld vir lede van die regering se pensioensfonds (GEPF) nie omdat dit nie ingevolge die Wet op Pensioenfondse gereguleer word nie en geen Covid-verwante onttrekkings dus toegelaat sal word nie.

Die tesourie het mense intussen aangeraai om nie hul aftreefondse te kontak om aftreegeld te onttrek nie – tensy hulle aftree, bedank of afgelê is – omdat dié fondse tans nog nie wettig enige vooraftrede-onttrekkings mag toelaat nie.

Die tesourie sê selfs voor die aanvang van die Covid-19-pandemie, het die regering besef dat talle mense onder onverwagte omstandighede toegang tot ʼn gedeelte van hul spaargeld kan benodig.

Die regering beraadslaag al geruime tyd met vakbonde, aftreefondse, reguleerders en ander belanghebbendes oor hoe om spaargeld te verhoog en voorsorg te verbeter, terwyl beperkte onttrekkings toegelaat word sonder om likiditeit- en beleggingsrisiko’s te skep.

Huidige wetgewing verbied enige toegang tot aftreegeld tensy ʼn werker bedank of afgelê word. Aftreefondse is hoofsaaklik ontwerp om mense aan te moedig om te spaar sodat hulle hul aftrede kan finansier. Die tesourie sê die regering gee ook ruim belastingaftrekkings en voordele om mense aan te moedig om te spaar en meer geld vir hul aftrede weg te sit.

“Die herontwerp van die aftree-stelsel om voorsiening te maak vir beperkte onttrekkings met verpligte bewaring is ingewikkeld en vereis deeglike beraadslaging,” sê die tesourie.

Die regering werk aan ʼn gestruktureerde tweeledige stelsel wat toekomstige bydraes sal herstruktureer. Een gedeelte van die geld sal dan vir aftrede bewaar word, terwyl mense tydens noodgevalle of buitengewone omstandighede toegang tot die ander gedeelte van die geld kan kry.

“Hoewel die maatreëls pensioen- en voorsorgfondse dek, word ʼn ooreenstemmende benadering oor onttrekkings ook vir aftreeannuïteite oorweeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Moet nìè geld uit jou aftreefondse onttrek tensy dit absoluut nie anders kan nie!
Inflasie is erg genoeg om teen te baklei, moet nie Jan Taks ook insluit as teenstander nie.
Jy gaan jou aftreefondse nodig hê nà aftrede. Waarskynlik meer dan as nou.

SjN ·

Dit besluit om n deel te mag onttrek sal met groot verantwoordelikheid gedoen moet word.

JohanR ·

Dan kom jy op 65 en wonder hoekom jy nie die selfde leefstyl kan handaaf as toe jy gewerk het nie, want jy het op 45 van jou pensione gevat. Jou pensione, se maar R4000000 van wat jy R500000 kan vat sonder belasting, word dan vir jou bele en daaruit kan jy ‘n maandelike “salaris” trek. Hoeveel in die pot oorbly nadat R500000 uit betaal is bepaal of jy R2500, R8000, R15000 of R25000 “salaris elke maand gaan uitkry. Jy wil nie opeindig mer die regering se R1900 pensione elke maand!

ES ·

‘n Familielid het die fout gemaak om te bedank uit sy werk en sy pensioengeld te onttrek en het nou nie voorsiening gemaak vir sy ou dag nie.

Het sy voertuig afbetaal (wat hy toe in ongeluk afgeskryf het, sonder versekering) en die res van die geld gemors op ‘n foon en peperduur skootrekenaar. Het nou niks om vir daai geld te wys nie… en moet van voor af begin met pensioen as hy ooit weer vaste werk kan kry.

Dis ‘n baie slegte idee om jou pensioen geld vir enigiets te gebruik voordat jy aftree. Daar is baie ou mense wat nou kripeer of selfs nog werk omdat hulle nie genoeg voorsiening gemaak het vir hul ou dag nie.

Fritz ·

Nadat ek n paar jaar gelede bedank het, het ek al my pensioengeld onttrek, belasting betaal, en die res alles net so oorsee belê. Beste finansiële besluit ooit om al my geld te laat emigreer.

Francois Le Cochon ·

Groot, groot fout om pensioengeld te ontrek vir enige ander rede as pensioen. Dit is finansiele selfmoord. Daar moet eerder ‘n wet gemaak word om meer as 25% van jou maandelikse salaris in ‘n pensioenfonds te kan inbetaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.