Kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê vier of vyf verdagtes het toegang tot ʼn kleinhoewe buite Bela-Bela verkry. Twee werkers wat in die tuin besig was, is oorval en vasgebind. Die werkers is van hul selfone beroof. Die rowers het daarna probeer om toegang tot die huis te verkry, maar kon nie daarin slaag nie. Hulle het op die vlug geslaan.
Die polisie is na die toneel ontbied om op die kleinhoewe en naburige plase na voetspore te soek. ʼn Helikopter is ook glo in die soektog gebruik. Volgens Otto is niemand in die voorval beseer nie en word ʼn saak van gewapende roof ondersoek.
Hierdie voorval is een van talle aanvalle op plase en kleinhoewes in Limpopo die afgelope paar maande. Otto het bevestig dat daar ʼn toename in aanvalle in die gebied is, maar sê die polisie het verskeie verdagtes die afgelope tyd in hegtenis geneem. “Dit is moeilik om te sê of dit geïsoleerde gevalle is en of daar ʼn verbintenis is. Ons ondersoek die moontlikheid van ʼn groter groep aanvallers is wat steeds op vrye voet is.”
Ek wonder of die regering hierdie plaasaanvalle op dieselfde vlak gaan behandel as die xenofobiese aanvalle!!!