‘Werkers se enorme e-tolskuld het aandag nodig’

(Argieffoto: ANA)

Uasa ondersteun die vakbondfederasie Fedusa se versoek om alle e-tolskuld af te skryf.

Die federasie sê dit is onredelik om burgers verantwoordelik te hou vir betalings gebaseer op ʼn stelsel wat sonder behoorlike konsultasie geïmplementeer en toegepas is.

E-tol is op 3 Desember 2013 ingestel om die skuld van die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) te delg.

“Motoriste sit steeds met groot skuldrekeninge met geen teken van die pad vorentoe van die regering nie,” sê Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa.

Vervoerminister Sindisiwe Chikunga het gesê motoriste sal steeds fakture ontvang ná die e-tolstelsel afgeskakel is. Geen transaksies sal op die fakture wys nie, maar as jy tolpaaie in die verlede gebruik het, sal jy daarvoor moet betaal.

“Alhoewel die gesprek oor die kwessie van geskiedkundige skuld voortduur, maan Uasa die regering om vinnig moontlike oplossings te ondersoek om seker te maak die skuld word betaal en dat oorbelaste verbruikers in Gauteng bygestaan word.”

Moyo meen Sanral, die Gautengse regering en die tesourie moet voortgaan met die skuldbetaling, soos daar ooreengekom is, met die Gautengse regering wat na verwagting 30% van die GFIP-skuld sal betaal. Die tesourie sal na verwagting 70% betaal.

“Ons hoop dat die skrap van e-tol nie beteken dat infrastruktuur op Gautengse hoofweë ineenstort nie en dat die Gautengse regering verantwoordelikheid sal aanvaar vir die hoofwegverbeteringsprogram en toekomstige instandhoudingskoste, soos belowe.”

Die federasie benadruk die belangrikheid van openbare deelname in beleidsake en versoek deursigtigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cassie Carstens ·

So, die een wat dit begin het is nou doodstil, want sy sakke is propvol geld. Niks pla hom nie. Dis soos die ANC opereer – ten konste van die armes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.