Werkers staak, want munisipaliteit betaal nie salarisse nie

(Foto: pixabay)

Die Tswaing- plaaslike munisipaliteit (Delareyville, Sannieshof en Ottosdal) het weereens nie die salarisse vir Junie aan munisipale werkers betaal nie. Dit kom nadat die geskorste munisipale bestuurder, Isaac Moruti, ‘n hofbevel gekry het om die munisipaliteit se bankrekeninge te vries.

Alle bedrywighede by die munisipale kantore is gestaak en munisipale werkers het dienste opgeskort totdat hul salarisse betaal is.

Volgens gerugte beplan werkers ontwrigtende stakingsaksies. “Die munisipaliteit het ook nie die pensioenfonds, werkloosheidsversekeringsfonds en mediesefondsbydraes van werkers betaal nie,” sê Soret Viljoen, DA-raadslid van die Tswaing- plaaslike munisipaliteit.

Mediesefondsskemas het die lidmaatskapvoordele van munisipale werkers wat geraak word, opgeskort. Die mediesefondsbydraes van afgetrede munisipale werkers is ook nie betaal nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat mediese hulpmiddels tydens hierdie Covid-19-pandemie opgeskort word weens die wanbestuur van die munisipaliteit. Werkers het nie hul IRP5’s betyds ontvang nie, wat gelei het tot die nienakoming van ‘n wetlike plig by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.”

Munisipale werkers kry ook bykomende boetes weens onbetaalde debietorders.

Viljoen sê daar was ook weke se probleme om die swak dienslewering in Tswaing aan te spreek. Rou riool vloei deur die strate van Sannieshof en Ottosdal. Delareyville en Sannieshof ly aan wateronderbrekings wat dae lank duur. Delareyville en Ottosdal is weer sonder elektrisiteitstoevoer en die inbelsentrum is nie in werking nie.

“Noodsaaklike dienste, insluitend elektrisiteit-, water- en sanitasiedienste, kan nie gelewer word nie aangesien daar geen diesel is vir pompe en opwekkers nie. Om noodsaaklike dienslewering moontlik te maak, het besighede en individue geld privaat geskenk.”

Na bewering was kragonderbrekings in Delareyville en Ottosdal op 28 Junie 2021 die doelbewuste optrede van gegriefde munisipale werkers, maar werkers het dit ontken.

“Ondanks verskeie versoeke van die Demokratiese Alliansie (DA) aan die LUR vir samewerkende regering, Mmoloki Cwaile, premier Job Mokgoro en die minister van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake Nkosazana Dlamini Zuma, was daar geen ingryping of oplossing vir die krisis in die Tswaing- plaaslike munisipaliteit nie. In plaas daarvan het die voortgesette faksionele ANC-gevegte gelei tot die agteruitgang en totale ineenstorting van die regering en dienslewering in die munisipaliteit.”

Inwoners betaal steeds vir dienste wat hulle nooit ontvang nie, terwyl die ANC die bietjie wat oorbly, wanbestuur en toesig hou oor die totale ineenstorting van die munisipaliteit.

“Die enigste hoop vir die inwoners van Tswaing is om die mislukte ANC-regering uit te stem en deur ‘n bekwame DA-regering gelei te word. Die topvyf Suid-Afrikaanse munisipaliteite word deur die DA bestuur. Ons gee voorkeur aan dienslewering, stel bekwame individue aan en verseker finansiële aanspreeklikheid,” sê Viljoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nie Verbaas ·

Werkers wat niks doen nie staak. Impak op dienslewering seker maar dieselfde.

wim ·

Hoe sal die inwoners agterkom dat die “werkers” staak as daar buitendien geen dienste gelewer word nie?

marius ·

Die geskorste bestuurder het ‘n hofbevel gekry om alles te vries ?????

Charl ·

Wat ‘n grap/klug, noem dit wat jy wil maar rou riool begin nie spontaan in die strate afloop toevallig dieselfde tyd wat daar begin staak is nie, dit kom met tyd so daar was in elk geval géén voorkomende maatreëls in werking óf reaktiewe aksie nie, so hulle werk in élk geval nie maar verwag salarisse ??

Moedeloos ·

Die mense daar buite moet besef dat dienslewering nie kan aangaan as daar nie finansies is nie. Moenie die munisipale werkers aanval nie. Dis die bestuur wat aangeval moet word. As jy n kar het maar nie geld het vir brandstof nie hoe kan jy die kar ry. Dis wat presies wat gebeur by onbevoegde rade. Die mense (kar) is daar maar daar is geen dienste (brandstof) nie. Ek sal ook staak want dit raak my indirek as die Munisipale Rade onbevoeg is dat ek my werk ordentlik kan doen waarvoor ek vergoed moet word.

pdbpta ·

Onbevoegdheid, kleur- en faksie-behebtheid maak die bevolking siende blind!

Tiny ·

Maar waneer ons later die jaar stembusse toe gaan, dan stem hulle maar net weer vir die cANCer…

andre ·

Die Menslike Hulpbronne by die munisipaliteit se belangrikste aanstellings vereisde is seker BEE

My siening ·

Beter as hulle nie werk dan gaan daar in elk geval geen verskil wees nie want as hulle betaal word werk hulle ook nie!

Adri ·

Toe ek die opskrif lees, het ek vir ‘n oomblik gedink die berig handel oor ons mislikepaliteit. Nou blyk dit dat ons mislikepaliteit nie staak nie – wel, nie amptelik nie.

Realis Thailand ·

As jy dink daar is nou swak dienslewering .
Wag tot na die verkiesing en wanneer die anc sien hoe hulle nog steeds aanbid word deur die meerderheid van die bevolking gaan die lewering verder verswak agv die geld wat net verder wan aangewend gaan word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.