Werkersdag-chaos ʼn ‘finale wekroep’, sê Nzimande

Blade Nzimande (September 2016) Foto: Ntswe Mokoena

Blade Nzimande, leier van die SAKP, het Maandag gesê die ineenstorting van die Werkersdagvieringe in Bloemfontein in die Vrystaat, waar pres. Jacob Zuma sou praat, is ʼn finale “wekroep” vir die drieparty-alliansie.

“Ek dink dis hartseer. Dis baie hartseer. Ek dink ons moet dit regtig as die finale wekroep sien, want as ons nie hierop reageer nie, sal ons baie streng veroordeel word as die generasie van leiers wat toegelaat het dat hierdie alliansie ineenstort. So ons moet hierdie saak behoorlik bespreek,” het hy gesê.

Toesprake by die vakbondfederasie Cosatu se hooffunksie in Bloemfontein om Werkersdag te vier is gekanselleer toe Zuma deur sommige toeskouers uitgejou is.

Beamptes moes bontstaan om die bakleiery tussen die pro-Zuma en anti-Zuma-groepe te keer.

Zuma het vroeër by die byeenkoms opgedaag en blad geskud met die alliansie-leiers en verskeie van sy ondersteuners het “Zuma, Zuma, Zuma” geskree.

Krete van “Zuma must fall” is egter ook in Loch Logan-park gehoor en die president, wat tussen Cosatu-president Sdumo Dlamini en Nzimande gesit het, het sy voorkop gevryf en afgehaal gelyk toe hy sy arms gekruis en die skare toegekyk het.

Die polisie moes ingryp om vakbondlede te verhoed om deur die grensdraad te bars wat opgerig is tussen die skare en die markiestent waar die president en ander beamptes gesit het.

Zuma se lyfwagte het hom daarna weggeneem toe dit duidelik geword het dat die skare hom nie gaan toelaat om te praat nie.

Cosatu en die SAKP het Zuma versoek om te bedank ná sy omstrede kabinetskommeling in Maart toe hy, onder andere, die minister van finansies Pravin Gordhan, afgedank het.

Ace Magashule, premier van die Vrystaat en leier van die ANC in die provinsie, het die gebeure as “ʼn doelbewuste poging om Zuma te verneder” beskryf.

“Dit was vooraf beplan om die leierskap te verneder. Daar is mense wat dit beplan het. Ek het gehoor daar is mense wat hierdie byeenkoms wou ontwrig wat nie eers van hierdie provinsie is nie. Ons het ons video’s geneem, ons sal dit analiseer. Ons vergader môre met alliansie-beamptes,” het Magashule gesê.

“Ek weet dit was ʼn nasionale byeenkoms, maar ek sê net mense in hierdie provinsie is gedissiplineerd. Dit is ʼn vernedering, maar ons het vir hierdie vryheid baklei. Ons het geveg vir werkers se regte.”

Magashule het ʼn boodskap vir leiers in die drieparty-alliansie ANC, SAKP en Cosatu: “Diegene wat ons wil bestuur en na die media toe gaan, asof hulle nie interne konflik het nie, vir hulle sê ons julle veroorsaak ʼn gemors vir hierdie land.”

Hy hou vol die “massas” is lief vir Zuma.

“Die mense ondersteun steeds Jacob Zuma. Miljoene van ons mense het vir die ANC gestem. Kyk waar Zuma gaan en kyk hoe word hy ondersteun. Dit gaan nie oor Zuma nie. Die vyande van die ANC weet hulle moet Zuma aanval. Hulle het [vroeër] Mandela en Mbeki aangeval. Nou val hulle Zuma aan. Hulle sal enigiemand aanval wat die president van Suid-Afrika word – om die ANC te verswak,” het hy gesê.

Zuma is nie die enigste lid van die ANC se topses wat ʼn koue ontvangs gehad het by Werkersdagvieringe nie. ANC-voorsitter Baleka Mbete, wat ʼn skare in KwaZulu-Natal toegespreek het, en die party se adjunk-sekretaris-generaal Jessie Duarte wat in Limpopo ontplooi is, is ook uitgejou.

Werkersdagvieringe waar adjunkpresident Cyril Ramaphosa, ANC-sekretaris-generaal Gwede Mantashe en tesourier-generaal Zweli Mkhize teenwoordig was, het vlot verloop sonder enige groot ontwrigtings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Waghond ·

Ace lewe in ‘n wereld van sy eie – ver weg van die werklikheid.

Johann Marx ·

Niemand is besig om jou te verneder nie ou beeswagter….jy’t dit aan jouself gedoen. Nogal interessant hoe die regerende party “White-monopoly Capital” gevat het en dit verander het in “Black Monopoly Money”……Don’t pass BEGIN, don’t collect R200,00, go directly to jail.

Jan maak n Plan ·

Maar deel van die ANC alliansie die sal hulle bly. Tyd om op jou eie te gaan Blyde.

John ·

Presies. En as die een stomp kant nie meer lekker werk nie gebruik hy die ander, nog stomper, kant. Die ANC skree ‘eenheid’, maar die kamma-party vorm uit brokkels en korsies wat met drome en rande aanmekaar gegom is. Dit wil groepe omarm soos die bedorwe kinderagtige jeugliga, soogende ou moeders, kom-muniste (wat net altyd gaan), unies x 10 wat net eish en eish, sjebeens in Egoli, stomende verroeste-vegters, massas konings en keisers op uitgestrekte velde vol vet vee, triljoene staatsdiens- en Sassa-suigelinge en ‘n gebalsemde orakel van Delphi e Zim wat sy goue pappot hier kom uitlek. En as die spul bedreig voel word alles wit voor hulle…

Maya Roon Joubert ·

Wonder wat verstaan Zuma nie! Mens hoor mos, sien en reageer, klim af van die troon en staan af – dis jou mense se belyd!

Justice ·

Maya dit is die resultaat wanneer jy en jou familie alreeds biljoene se loongunse (bribes) ontvang het en beloftes daarom gemaak het wat nog nie lekker gematerialiseer het nie – hy is nou letterlik tussen die duiwel en die diep blou see. Die tronk se deure wink boonop alles ook vir hom na die Presidentskap indien hy nie onder asiel in Dubai wil gaan aftree nie.

snoefie ·

ai ace magashule, pik by. jou “miljoene” het vir die anc gestem en zuma as straf gekry. hoe lank sê hulle nou hulle wil Zuma nie hê nie. maar niemand luister nie. dis mense soos jy en jou baas zuma, wat die land daagliks verneder en in gemors dompel. pak op, pak op sit jou goedjies op jou kop en sê koebaai. ons sal julle nie mis nie.

Neske ·

Wil hulle nie of sal hulle nie die boodskap kry nie.
Zuma moet uit!

humor ·

Kan n sg. leier van die sakp se begripsvermoe so te kort skiet dat hy nog steeds op n dooie perd sit en ry om n baie omstrede doel te beryk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.