Werkgewers gewaarsku wat WVF-voordele weerhou

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Thulas Nxesi, die minister van indiensneming en arbeid, het werkgewers gewaarsku wat WVF-terugbetalings ontvang het, maar nie die geld aan personeellede oordra nie.

“Ek wil dit onomwonde stel dat dit onmenslik is en werkgewers, wat geld uit die WVF se Covid-19 tydelike werknemer-werkgewer-hulpskema (Ters) weerhou, moet dadelik die betalings aan personeellede vrystel,” het hy gesê.

“Ons is in die middel van ʼn wêreldwye pandemie wat lande se ekonomieë op hul knieë gedwing het. Werkers word die swaarste hierdeur getref. Die ergste ding wat jy kan doen, is om geld te weerhou wat vir werkers bedoel is.”

Nxesi het gesê dit is “gevoelloos en onsensitief” teenoor die behoeftes van werkers, veral wanneer talle mense deur ʼn finansiële verknorsing in die gesig gestaar word weens die afsonderingsperiode om die verspreiding van die koronavirus te voorkom.

Die departement van indiensneming en arbeid het gesê die WVF word oorval met oproepe van werkers wat aanvoer hul werkgewer het nie hul voordele uitbetaal nie, ondanks die feit dat hulle die fondse namens die personeellede ontvang het.

Nxesi het gesê die WVF-stelsel is opgegradeer sodat werknemers die status van hul werkgewers se eise kan nagaan. Werknemers kan toegang bekom tot hul werkgewers se aansoeke deur hul ID-nommers in te sleutel. Die werknemers sal kan sien hoeveel geld aan die maatskappy uitbetaal is en die bedrag wat aan hulle, as werknemer, uitbetaal is.

“Sommige maatskappy mislei die werknemers en die publiek oor ons. Ons is byvoorbeeld deur ʼn maatskappy in die Oos-Kaap, Unibisco, beskuldig toe hul werkers die geld geëis het wat nog nie aan hulle uitbetaal is nie. Dit is van alle waarheid ontbloot. Ons rekords wys dat ʼn bedrag van R539 595 op 24 April aan die maatskappy uitbetaal is om aan hul werknemers oor te betaal,” het Nxesi gesê.

Die WVF het glo reeds byna R11 miljard in verligting uitbetaal. Die bedrag is voordele vir 1 924 060 werknemers deur 156 831 werkgewers.

Ander betalings deur middel van onderhandelingsrade vir 56 641 werknemers wat deur 909 werkgewers verteenwoordig word. Meer as R155 miljoen is uitbetaal.

Maroela Media het vroeër berig die Nasionale Werkgewersvereniging (Neasa) het egter Vrydag gesê die organisasie doen daagliks ʼn opname onder nie net Neasa se duisende lede nie, maar ook ander werkgewers, oor die uitbetaling van eise. Uit dié deelnemers het 54% van werkgewers tot dusver aangedui dat hulle meer as ʼn week ná betaaldag nog geen uitbetaling van die WVF ontvang het nie. Sowat 55% van diegene wat wél een of ander vorm van betaling gekry het, stem nie saam met die bedrag wat oorbetaal is nie. “Sommige mense kry absurde bedrae geld en ander herken glad nie enige van die bedrae nie,” het Neasa gesê.

Restauranteienaars wat aan die Tshwane Toerisme Vereniging (TTV) behoort het ook gesê die “teenproduktiewe aanlyn portaal van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) dra net verder by tot die rampspoedige situasie”. Van hulle moes al tot soveel as vyf keer dieselfde aansoek by die WVF indien voordat uitbetalings aan hul personeel gemaak is en in baie gevalle het dit steeds nie die volle tydperk gedek waarvoor geëis is nie. Lees meer.

Die volledige lys maatskappye aan wie betalings gemaak is deur die WVF is beskikbaar by uifecc.labour.gov.za of kontak die WVF by 0800 030 007.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harold ·

Min.Nxesi,ons wag nog vir betaling,met respek gesê ek wil dit ook noem dat ons inkomste lose werkgewers , wat ook werkers het ,wat ons graag wil help , ook onmenslik deur die owerheid behandel word…wie luister na ons
?

Pieter francois ·

Ek wonner net aan Wie die maatskapy behoort wat die geld ontvang het en is dit nie onmenslik wat julle aan wit onderneming doen nie

Pompies55 ·

Hier moet ek darem sê dat baie wit werkgewers nie hul mense se gelde wat deur uif uitbetaal is aan die maatskappye,vir hul werknemers uitbetaal nie.Ek stel voor,maak sulke besighede toe,wit en swart!

Erica ·

Ek verstaan nie jou boodskap nie. Of ek is blond of jy het n hele sin gemis. Dit kan ook wees omdat ek drie dae laas gerook het teen my sin.

Marius ·

Pleks vra jy al die unies wat julle rond swaai soos n pap vis waar is hulle bydrae maar net te bang om julle monde oop te maak teen hulle julle is n grap as leiers dink nie eers julle kan n perd na die water toe vat nie hou op speel en begin iets doen as die weerlig slaan dan smile julle dink dis n tv kamara klomp narre

Jannie van Niekerk ·

Iemand lieg vreeslik en dis nie die WERKGEWERS nie. Indien die geld wel volgens die minsister aan die werkgewer uitbetaal is, hoe seker is ons dat dit in die WERKGEWER se bankrekening inbetaal is en nie in ‘n ander rekening nie? Almal weet dat alle ANC ondersteuners en leiers se neuse langer as Pinnochio s’n is.

marius ·

Die voordeel moet aan die werknemer direk betaal word , nie aan die vorige werkgewer nie ! Weet hy dat dit beteken WERKLOOSHEID Versekering Fonds . Waarom verduidelik hy nie wat gaan met die vertragings van uitbetalings aan nie ? Voorts waarom daar nie volle voordeel is nie ? Die bydrae is op die persentasie van jou bruto salaris . Hoeveel geld is nog in die fonds meneer ? Daar is mos vertel dat daar geld “geleen “word by die fonds en staatspensioen om die gate te vul wat deur die wurms van die land veroorsaak is .

Lorette ·

Ek is uiters dankbaar dat ons Mpy se eis wel uitbetaal is en dat ons salarisadviese so aangepas is, dat die WVF se bydraes onder ‘n aparte kode wys Ons werkers sal dus dadelik kan sien dat die geld wel aan hulle oorbetaal is.

Boerkind ·

Hy praat van “gevoelloos” en “onmenslik” en “onsensitief”… Wat van sy ANC regering wat nie ALLE sakelui wil help nie?? Dubbele standaarde!!

Alet ·

Mnr die minister waarom word my huishulp betaal en nie my werkers nie??

Bloemies7 ·

Die minister praat deur sy nek en die UIF se sisteem is twak. Ek werk met die bank staat by die werk. Volgende die webwerf is al 80+werkers betaal einde April maar in realiteit het slegs 4 hulle geld gekry. Maar as ek my ID gaan intik staan daar lewensgroot ek is betaal, terwyl ek WEET dat ek fisies geen geld by UIF gekry het nie. Daar is niks vir my oorbetaal van UIF na die werkgewer toe nie, dus kon die werkgewer my nie betaal nie. En so mislei hulle en stook die mense op teen die (wit) werkgewers. Ek is so witwarm vir hierdie tipe twak en dubbele standaarde/praaitjies. En die massas glo hulle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.