‘Werklike matriekslaagsyfer is minder as 36%’ – AfriForum

eksamen 4 matriek toets uitslag

Argieffoto

Die burgerregteorganisasie AfriForum het gesê die gevolg van politiekery in plaas van leierskap is ʼn werklike matriekslaagsyfer van minder as 36%.

“AfriForum wens alle matrikulante wat in 2015 geslaag het, van harte geluk met dié prestasie en bedank hulle onderwysers wat die sukses moontlik gemaak het,” het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. “Terselfdertyd neem AfriForum met groot kommer kennis van die amptelike slaagsyfer van 70,7% in 2015 teenoor 75,8% in 2014. Indien gekyk word na die aantal leerlinge wat in 2004 die eerste keer in graad een was en hulle matriekjaar in 2015 suksesvol voltooi het, is die werklike slaagsyfer minder as 36%.”

Volgens Bailey dui ʼn verslag van die onderwysdepartement aan dat 1 278 120 leerlinge in 2004 die eerste keer in graad een in openbare skole was. Volgens die statistiek wat die minister van basiese onderwys bekendgemaak het, het slegs sowat 455 825 leerlinge in openbare skole in 2015 die matriekeksamen geslaag. Dit beteken dat die werklike slaagsyfer van 2004 se graad een-groep, minder as 36% van die amptelik aangekondigde persentasie was.

“Die minister se versekering dat die leerlinge se uitsaksyfer betekenisvolle aandag geniet, oortuig dus nie,” het sy bygevoeg.

Bailey beklemtoon dat dit dringend noodsaaklik is dat die departement aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om probleme soos ʼn gebrek aan moedertaalonderrig, ondoeltreffende kurrikulumopsies, handboekleweringsprobleme, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers, disfunksionaliteit van skole, dissiplineprobleme, asook eksamenbedrog wat die geloofwaardigheid van swaar verworwe kwalifikasies ondermyn, die hoof te bied.

Volgens Statistiek SA, is meer as 63,1% Suid-Afrikaners wat tussen 15 en 24 jaar oud is, tans werkloos. “Dit bewys dat die departement van basiese onderrig voor groot uitdagings staan om indiensneembare jongmense aan die arbeidsmark te lewer. Dit skep ook ʼn tydbom wat ekonomiese groei en stabiliteit in die land betref,” het sy gesê.

Bailey het bygevoeg die departement moet nou vir eens en vir altyd politiekery laat vaar en bewys dat dit die toekoms van die jeug ernstig opneem. “Dit kan alleen geskied as bogenoemde probleme daadwerklik aangepak word, in plaas daarvan om regstryde te voer teen instansies en skole wat maatreëls probeer bevorder om gehalte onderrig te waarborg. Dit sluit moedertaalonderrig en kleiner klasgroottes in,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

GES ·

Die prentjie wat betref werkloosheid is kommerwekkend. Ek glo nie cANCer besef dat SA op ‘n tydbom sit nie agv leierskap, politiekery en korrupsie. cANCer het die begrip proaktief nog nooit verstaan nie en probeer die saak beredder as dit te last is. “Too little too late”. Iets om voor dankbaar te wees, is dat die goeie prestasie hoofsaaklik kom van vorige model C skole. Dit onderstreep maar net weer die idee dat die enigste volhoubare oplossing selfbeskikking en afsonderlike ontwikkelling is.

Johann Marx ·

Vader maar julle gaan darem onverskillig om met die WAARHEID? Lees julle nie die hekse-jag op blankes wat die waarheid praat, en dan aangekla word vir “rassisme” nie? Julle moet versigtig wees…..en begin verstaan: As die deursnee “bevolking” nie by die standaard kan uitkom nie, dan verlaag jy eers die standaarde…..en as jy dan NOG nie by die standaarde kan uitkom nie, dan elimineer jy diegene wat die standaard handhaaf….sodat jy beter kan lyk!!

Elizabeth ·

Onderwysers wat in weerwil van die ontelbare negatiewe faktore in die Onderwys steeds hulle leerlinge eerste stel, elke periode in die klas is, nie vir elke bakatel afwesig is nie, nie in skooltyd staak nie, wie se voorbereiding deeglik gedoen is, wat vakkenners is en vir die leerlinge in hulle klasse meer gee as die yl feite wat die sillabus voorskryf, is die rede waarom leerlinge in sekere skole beter presteer as in ander. Die selfsugtige, selfgesentreerde, laks en roekeloos-onverskillige houding van sekere onderwysers en skoolhoofde waarvan ons gereeld in die media lees, is die direkte oorsaak van leerlinge wat swak presteer.

Grassie ·

Selfs die 70% wat volgens die uitslae geslaag het, is ook ‘n wanvoorstelling. Ek het met iemand gepraat wat vraestelle gemerk het, in een van die beter provinsies. Sy het twee vakke help merk en in albei vakke was die gemiddeld onder 40%. Meer as 50% het gepluk. Sy was bekommerd daaroor en het met die persone in beheer gepraat. Hul antwoord was dat sy nie moet “worry” nie, die punte sal “aangepas” word. Wat my ontstig is dat baie van daardie druipelinge waarskynlik met hul aangepaste matrieksertifikate by universiteite toegelaat gaan word en nog beurse ook kry terwyl baie van ons kinders, sommige met onderskeidings, nie plek kry nie. Geen wonder dat betogings en ontwrigting van die werksaamhede by universiteite altyd so min of meer in eksamentyd plaasvind nie en ook dat daar geëis word dat wit dosente deur andere vervang moet word.

Kobus ·

Ek was in 1968 in Matriek. My wiskunde was nie baie goed nie maar as ek 455000 wat “geslaag” het as persentasie van byna 800000 wat gekryf het,bereken, kom dit op ongeveer 57%. Het die ANC nou ook die berekeningsmetode verander dat hulle 70% kry? As die minister van onderwys (en die een wat die toesprake skryf) se rekeningkunde so swak is, dan is dit geen wonder dat die uitslae so swak is nie!

GES ·

Grassie – Jy raak ‘n baie punt aan. Die universiteite sit uiteindelik met die probleem opgeskeep. Om die probleem te oorkom moet daar nou noodgedwonge oorbruggingskursusse en verlengde kursustye ingestel word. Dit is nie die kernbesigheid van enige universiteit nie. Ekstra personeel en klaskamers moet gevind word vir werk wat eintlik tuis hoort by sekondêre skole. Bose kringloop! Een tree voerentoe en gly twee terug. Dit word nie beter nie, dit gaan stelselmatig net verder agteruit.

bekkie ·

Ek is self in die onderwys. Ek weet waaraan bestee skole hulle tyd. Te veel tyd word verspeel deur onderwysers wat betrokke is by die reel van geldinsamelingprojekte, sportgeleenthede en sosiale aangeleenthede. Bring die onderwysers terug klas toe vir 100% van die voorgeskrewe onderrigtyd, dan sal baie beter resultate bereik word. Te veel druk word op onderwysers geplaas om geld in te samel en sportspanne te laat presteer. Natuurlik is dit noodsaaklik dat daar sport en sosiale aangeleenthede moet wees, maar slegs as dit na skool gedoen en gereel word. Soos ek se: ek weet waarvan ek praat.

Adele ·

Bekkie- Jammer om te se maar ek stem nie met jou saam nie! In die pre-nuwe-Suid-Afrika-tydperk, was bereiking van hoogste prestasies in skolesport hoog op die agenda van enige skool. Ons het brei-kompetisies, pretlope, kermisse, koekverkopings en nog allerhande geldinsamelingsprojekte gehad. Daarmee saam was daar nog drilpelleton, kadetorkes en trompoppie-kompetisies gehou, waar onderwysers ook baie tyd afgestaan het.
Selfs voorheen-benadeeldes wat in daardie tydperk skoolonderrig ontvang het, erken dat hul standaard van onderrig baie hoer was as wat hul kinders deesdae ontvang.
Verklaar vir my hoe is dit dat amper elke tweede Jan-rap-en-sy-maat in die regering en ANC grade en sekeres doktorsgrade agter hul naam kan skryf? Hulle het tog sekerlik in die Ou-Suid-Afrika hul basiese skoolopleiding ontvang! Wat dan blyk nie te versmaai wa nie, anders sou hul nie keuring by buitelandse universiteite gekry het vir die verwerwing daarvan nie
Nee, ek dink daar is TOTAAL ander redes vir die swak resultate!
MAAR soos gewoonlik is dit ALLES en ALMAL se skuld, behalwe die wat eintlik die blaam daarvoor moet vat!

hettie ·

Ek is self n onderwyseres by n engelse laerskool Ons pas gemiddeld 40persent van die kinders in elke graad se punte aan om hulle te laat slaag Sommige verlaat Gr 7 sonder dat hulle ooit n graad geslaag het Hartseer maar waar

Onderwyser ·

Eerstens, kyk na gewone staatskole. Ek self is n onderwyser wat moet klas gee, na skool rugby en krieket afrig, ook atletiek en skaak. Ek kom nie voor 7 saans by die huis. Baie van my kinders bly op plase, ek moet dus ry om hulle te gaan haal, en weer terugvat huis toe (alles sonder vergoeding) ja ek kan dit los en ignoreer en klippe gooi soos Afriforum. Ek verkies eerder om deel van die oplossing te wees. Asb hou op om alles van die regering te badmouth en ondersteun n slag iets. Glo my elke bietjie help.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.