Werkloosheid: Geen draaipunt in sig

Argieffoto (Foto: Myriam Zilles/Pixabay)

Die jongste werkloosheidskoers vir die tweede kwartaal van 2021 wat Statistieke Suid-Afrika Dinsdag bekend gemaak het, weerspieël soos verwag ʼn voortslepende bloedbad van werksverliese in die land. Die werkloosheidskoers het nou tot 44,4% gestyg en is die hoogste sedert die aanvang van die peiling in 2008.

“ʼn Styging was te wagte inaggenome die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkings wat tot die verlies van verskeie werksgeleenthede gelei het, maar selfs met die verslapping van hierdie inperkings hou die werkloosheidskoers aan met styg en sien ons nie dieselfde mate van herstel in die arbeidsmark as in die res van die ekonomie nie,” sê Heloïse Denner, die VF Plus se woordvoerder oor arbeid.

Jeugwerkloosheid en die uitgebreide werkloosheidskoers wat ontmoedigde werksoekers insluit wat tot 44,4% gestyg het met 3,4 miljoen vergeleke dieselfde tydperk in die vorige jaar, is veral kommerwekkend.

Sowat 64,4% van die jeug tussen die ouderdomme van 15 en 24, is werkloos en 33% of 3,3 miljoen van hierdie ouderdomsgroep is in geen vorm van onderrig of opleiding nie. Jeug tussen die ouderdomme van 25 en 34 se werkloosheidskoers is 42,9%.

“Die feit dat werkloosheid onder die jeug so geweldig styg, dui op ʼn sistemiese probleem wat bloot tot verdere en volgehoue werkloosheid sal lei. Daar is verskeie faktore wat aanleiding gee tot die volgehoue styging in die werkloosheidskoers, waarvan die Covid-19-pandemie maar een is. Die werklike kernoorsake sluit in een van die swakste onderwysstelsels in die wêreld, verkeerde ekonomiese prioriteite, swak politieke leierskap en die totale mislukking van die regering om die privaatsektor, as die grootste werkskepper in die land, te bemagtig om die arbeidsmark te stimuleer.”

Die onlangse onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal sal bydra tot die stygende werkloosheidskoers wat na afloop van die derde kwartaal waarskynlik nog hoër sal wees.

Michael Cardo, die Demokratiese Alliansie se skaduminister oor indiensneming en arbeid, het gesê die jongste statistieke dui op ʼn wegholtrein wat op ʼn ramp afstuur.

“Die regering moet dringend werkskepping Suid-Afrika se nommer een prioriteit maak. ʼn Werk is die beste waarborg vir maatskaplike sekerheid. Al die regering se pogings moet daarop fokus om die privaat sektor in staat te stel om werk te kan skep. Dit is iets wat die ANC in gedagte moet hou wanneer hy na die voorleggings kyk oor ʼn R200 miljard se basiese inkomstetoelaag en die belaglike, onpraktiese aanbiedings in die groenskrif oor maatskaplike sekerheid en aftreehervormings wat die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, verlede week vrygestel het.

Cardo sê die sleutelpunte uit die statistieke is die volgende:

  • Tussen die eerste en tweede kwartaal van 2021, volgens die streng definisie van werkloosheid, het die getal werkloses van 584 000 tot 7,8 miljoen toegeneem.
  • Die getal ontmoedigde werksoekers het met 186 000 (5,9%) toegeneem.

“Dit beteken dat byna 12 miljoen Suid-Afrikaners nie ʼn werk het nie. Dit gaan mens se verstand te bowe.”

Volgens hom lyk dit of die regering moed opgegee het met werkskepping en oorweldig is deur die enorme strukturele oorsake van werkloosheid. “Hy wil eerder aan wensdenkery deelneem om die land se massiewe maatskaplike welsynsnet groter te maak, selfs al is daar net ʼn baie klein poel van al hoe minder belastingbetalers wat reeds tot die uiterste gedruk word. Maar ons kan begin om werkskepping te takel deur ons arbeidswetgewing te hervorm en die arbeidsmark vry te maak sodat dit meer buigbaar kan wees en meer werkers kan opneem.”

Cardo sê dit is hoekom die DA, onder andere, ʼn einde wil bring aan die vernietigende praktyk waarby die minister van indiensneming en arbeid, Thulas Nxesi, kollektiewe onderhandelingsooreenkomste met partye aangaan wat dit in die eerste plek nie onderteken nie. “Dit plaas groot koste op nuwe en klein ondernemings. Dit maak werkskepping dood.”

Hy sê terwyl die land probeer herstel ná die Covid-19-pandemie en inperkings, moet waardegedrewe, uitvoer-geleide sektore ondersteun word, veral toerisme, tuinbou, agro-prosessering en logistiek. “Hierdie sektore kan die getal en tipe poste skep wat in Suid-Afrika vereis word.

“Die kwartaallikse statistieke moet ʼn massiewe wekroep wees vir die regering. Dit is tyd om uitsluitlik te fokus daarop om die probleem van werkskepping op te los.”

Solidariteit het ook sy kommer uitgespreek oor die jongste werkloosheidsyfers nadat die algemene werkloosheidsyfer toegeneem het van 43,2% tot 44,4% volgens die uitgebreide definisie.
Volgens Solidariteit dui dié syfers op de-industrialisering, aangesien vervaardiging jaar op jaar ’n groot afname in werknemers getoon het.

“Dit is slegte nuus, omdat dit wys dat Suid-Afrika meer van ’n onttrekkingsekonomie word en al hoe minder nuwe waarde toevoeg,” verduidelik Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI). “Kortom, Suid-Afrika plunder sy grondgebied en verkwansel sy burgers se toekoms. Geen land kon nog ’n moderne, voorspoedige samelewing word deur net op landbou en mynbou te fokus nie.”

Du Buisson sê die huidige afname herinner aan die nadraai van die groot finansiële krisis van 2008/9 waarvan Suid-Afrika ook nooit volkome herstel het tot sy pre-krisis toestand nie. “Dit blyk dat ons weereens begin stagneer rondom ʼn nuwe laagtepunt met meer mense as ooit vantevore wat uit die produktiewe ekonomie gesluit word.”

Nadat Solidariteit verlede kwartaal sy skok uitgespreek het oor die rekordhoë jeugwerkloosheidsyfer is daar, volgens hom, steeds niks om oor bly te wees nie.

“Al het die werkloosheidsyfer van 75% in die eerste kwartaal teruggesak tot 64% in die tweede kwartaal, is dit grotendeels te wyte aan nuwe toetreders tot die arbeidsmark. Volgens die amptelike syfers was daar in die tweede kwartaal 172 000 meer werklose jeugdiges as in die eerste kwartaal,” sê Du Buisson.

“Dieselfde prentjie speel op ’n groter skaal af in die groep tussen 25 en 35, waar ’n ekstra 193 000 mense hulle in die tweede kwartaal by die werklose groep aangesluit het. Dit getuig opnuut van ’n staat wat sy burgers laat verhonger deur aan striemende beleidsrigtings vas te klou.”

Solidariteit doen daarom opnuut ’n beroep op die regering om sy burgers te vertrou om na hulle eie belange om te sien, deur onmiddellik die minimumloon te skrap en ander beleide, wat dit moeilik maak om werk te kry, te hersien.

“Die land se jong mense word van hulle toekoms beroof deur die ongunstige regeringsbeleide wat hulle uit die werkplek hou. Ons benodig ʼn dinamiese arbeidsomgewing wat vir mense geleenthede gee om sukses te behaal, of om te faal. Op die oomblik verhoed die regering enige vorme van vooruitgang weens ʼn vrees dat sommiges dalk nie volkome sukses sal behaal nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Johann ·

ANC LEGACY EN STRATEGIE! Hou die massas afhanklik van die staat vir als!

Jo ·

Ek dink as mense kan lees en skryf sal daar al reeds baie meer geleenthede wees. Ongelukkig kan die meeste mense tussen 15 en 25 nie lees of skryf !

Jacobus ·

Solank mense betaal word om nie te werk nie – dan gaan dit nié verbeter nie.

annie ·

Een ding is seker die ANC se volgende stap om werkloosheid aan te spreek gaan die probleem eerder vererger. Armoede onder Afrikaners is erg. Polonie en brood is aan die orde van die dag in baie huise. Unies stel net belang in die sorge van werkers want dit is ook hul brood en botter soos nou wanneer Covid die ekonomie laat kwyn, eis werkers steeds verhogings terwyl werkloses nêrens kan aanklop nie met kerke self in die knyp. Dit is tyd dat die werkersklas na hul werklose naaste omsien en vermoënde familielede van hul meerwaardigheid afsien.

jou gewete ·

mooi eerbare laaste gedagte, net so nikswerd soos anc beleid. mense moet in staat gestel word om te werk, nie bakhand te staan nie

Pieter ·

Maar julle sal bly stem vir die ANC kommuniste en ore het julle ook nie. Ek het geen simpatie vir julle klomp nie.

Danie ·

Pieter, dit is nie net ANC ondersteuners wat werkloos is en nie vir hul self of hul gesinne kan sorg nie.

melaney ·

Indien hulle werk kry, werk hulle vir ‘n maand waarna hulle buite die werkplek toi-toi vir meer geld, ens.

Rich ·

Dit moet als voor die ANC se voordeur gele word oor hul so korrup is.

Francois Le Cochon ·

Ryk en kundige mense in ‘n land skep werksgeleenthede. In SA raak werksgeleenthede al hoe minder omrede rykes en kundiges die land verlaat. Om mense net bloot op te lei, sal niks help nie, want daar is nie industriele ontwikkeling meer nie.

Casper ·

Die werkloosheid verhoog ook misdade soos huisinbrake,rowe,winkeldiefstal en vele meer.

Jaco ·

Wat dan van die toorwoorde regstellende aksie en BEE? Net die “regte” velkleur tel daar. Opleiding en ondervinding word meestal geïgnoreer. So eintlik behoort daar geen werkloosheid in SA te wees nie.

Schalk ·

Uitgediende politieke ideale en korrupsie met BEEEE regulasies het veroorsaak dat besighede nou eerder kleiner en slimmer te werk gaan. Risiko bestuur en meer ekonomies werk met dit wat tot jou beskikking is gaan maak dat daar nog werkloosheid gaan kom. Ek voel jammer vir die mense wat ly al het hulle nog altyd eerbaar hulle geld verdien. Dit is ‘n siek omwenteling van die politieke stelsel wat almal benadeel wat nie deel van die “elite” is nie.

Frans ·

Solank soos die President die eenheid van die ANC ‘Über alles.’ stel ,sal die toestand voortduur,want dit stel korruptes instaat om met hul korrupte praktyke aan te gaan,want eerder as van hul ontslae te raak word hul herontplooi.
In so’n omgewing voer die polisie ‘n vergeefse stryd want misdaad sindikate se tentakels strek wyd en ver en word mense wat teen korrupsie getuig maklik soos Babita Deokaran ,hoof finansiêle Direkteur
in die Gauteng Dept van Gesondheid uit die weg geruim.
In so’n omgewing met ‘n bedreiging van onteiening sonder vergoeding bly beleggers huiwerig en sonder
dit gaan die ekonomie nie aan die gang kom en werksgeleenthede geskep word nie.Suid Afrika word so nog net ‘n mislukte Afrikastaat.

Michael ·

Die wereldwye plan is om ekonomiee te vernietig van baie mense ontslae te raak en dan ‘n basiese inkomste aan die oorblywende slawe te gee wat die elite gaan bedien. CR word beheer sodat hierdie plan in werking kan kom. Daar is geen plan om werkloosheid hok te slaan nie-dis mos duidelik-hoe gouer ons dit besef hoe beter

Belinda ·

Ek kry net die mense jammer wat REGTIG wil werk en nie kan kry nie. Ek was vir 2 jaar sonder werk en vandag dank ek God elke dag dat hy my met n goeie werk geseen het. Dis moeilik om positief te bly as alles net so verkeerd gaan. Soms is dit net onmoontlik om jou eie ding te probeer doen vir n inkomste. Ek kry die mense verskriklik jammer wat so moet sukkel.

Swerwer ·

Nou wat word verwag, kyk net wie is in beheer van die land.

H.A. ·

Dis deur sulke dinge wat in die land aangaan dat terroruste organisasies sal begin toeslaan , hulle teer op agteruitgang van sulke lande wat tot op hulle vlak daal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.