‘Werkloosheid’ rede vir waterkrisis in Vrystaat-dorpe

water-kraan

Foto: Pixabay.com

Inwoners van Philippolis in die Vrystaat is ontstoke oor hulle nou al vir jare net “aan-en-af” water het.

Carin Pienaar, eienaar van ʼn gastehuis en slaghuis op dié dorp, het aan Maroela Media gesê daar was Dinsdag deur die dag weer nie water nie. “Gisteraand was daar redelik water en toe vanoggend weer niks. Ons (en ander) gastehuise moes oor Desember ons deure sluit en mense wegwys omdat ons nie water gehad het nie,” het Pienaar gesê.

Volgens Pienaar is daar geen amptelike kommunikasie van die Kopanong-munisipaliteit af nie. Nege dorpe val onder dié munisipaliteit: Trompsburg, Gariepdam, Springfontein, Bethulie, Philippolis, Jagersfontein, Fauresmith, Edenburg en Reddersburg.

“My niggie werk by een van die laerskole hier en sy vertel dat hulle leerders moet huis toe stuur as gevolg van die onhigiëniese toestande: die toilette spoel nie en die kinders het begin siek word,” het sy gesê.

Pienaar het bygevoeg hulle moet self plan maak en water by mense wat boorgate het gaan haal om net skottelgoed te was. “My eie geyser was vir drie weke nog nie vol genoeg om ʼn warm bad te kan vat nie. Mense se wasmasjiene se pompies brand ook uit omdat die watertoevoer sonder enige waarskuwing afgesny word en die masjien dan byvoorbeeld nog aan hou was,” het Pienaar gesê.

Solly Phama, woordvoerder van die Kopanong-munisipaliteit, het aan Maroela Media verduidelik dat die munisipaliteit R167 miljoen aan Bloemwater skuld. “Die munisipaliteit doen sy bes om die afbetalingsooreenkoms na te kom om seker te maak ons gemeenskappe sit nie sonder water nie,” het Phama gesê.

Volgens Phama het die munisipaliteit ʼn reëling aangegaan om die maandelikse rekening van Bloemwater te betaal aangesien inkomste-invordering tans op R1,8 miljoen staan.

Phama het ook genoem dat hulle minder kon invorder omdat die bevolking afgeneem het. Dit het ʼn vermindering van befondsing van R8 miljoen deur die tesourie aan die munisipaliteit tot gevolg gehad.

“Volgens ons ooreenkoms met Bloemwater word die persentasie van die water wat hulle aan ons gemeenskappe voorsien beperk. Dis hoekom die gemeenskappe minimale toegang tot water het,” het Phama gesê. Hy het bygevoeg dat die munisipaliteit sal seker maak dat Bloemwater die ooreenkoms nakom.

“Sowat 62,2% van ons bevolking is werkloos, dit maak dit uiters moeilik om geld by hulle in te vorder. Die raad van die munisipaliteit het onderneem om deurlopende gemeenskapsvergaderings te hou en gemeenskapslede aan te moedig om te betaal vir die dienste wat hul gebruik. Dié wat kwalifiseer vir deernisstatus sal weer eens herinner word om te bly by hul toegelate watertoelae en nie meer as wat in die deernisbeleid voorgeskryf word te gebruik nie,” het Phama gesê.

Volgens Phama gaan die munisipaliteit ʼn reuseveldtog van stapel stuur waarin alle huishoudings besoek en aangemoedig gaan word om vir hul munisipale dienste te betaal.

“Die 61% van water wat ons verloor as gevolg van die veroudering van die waternetwerke sal herwin word wanneer ons nuwe watermeters installeer in Bethulie, Gariepdam, Jagersfontein, Edenburg, Springfontein en Trompsburg. Ons vra om verskoning vir enige ongerief wat deur hierdie krisis veroorsaak word en verseker die inwoners dat ons na oplossings soek om dié kwessie so spoedig moontlik op te los,” het Phama gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

wilma ·

Dagsê
Kan u asb. paragraaf 2 hersien? Lees moeilik.
Dankie

Janie Monsieur ·

Dagsê Wilma,

Dankie vir jou kommentaar. Ons is jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

AL ·

Die ANC was so angstig vir kieserstemme dat hul vir baie jare n kultuur gevoed het van wanbetaling.
Nou slaan die paw-paw die fan en dis te laat!

w ·

Ai ma di phama vol verskonings. Plaas hy ma net erken hul isi bevoeg om muni te govern ni

Tertia ·

Ek wil verskil van Phama oor die watervoorsiening aan Philippolis. Daar is ‘n persoon met ‘n steenmakery wat soms water ontvang, al is die res van die dorp se watertoevoer af. Verder is die persoon wat die watertoevoer beheer nie altyd beskikbaar nie. Die bevolking neem nie noodwendig af nie, inteendeel, daar is nogal ‘n verhoging in verkoop van eiendomme!

Pateties ·

LMGA NEEEEEE incompetency is die REDE vir die watertekort. Julle is vooraf gewaarsku, maar die geld is uitgemors in plaas van om opgaardamme te bou. SA het al baie jare oorleef onder droogte, maar nee die nuwe regering wil vir NIEMAND luister nie, hulle het al die antwoorde, net tot die eerste krisis opduik dan is dit APARTHEID of Werkloosheid of Jan van Riebeeck se skuld. Julle moes lankal begin het met die beperking van kinders per huishouding, maar almal is aangepor om soveel kinders as moontlik te hê om die meerderheidstemme te kry. 62% van die bevolking WERKLOOS?? Geen simpatie nie, julle kry geld, HOU OP PARTIES hou en duur karre koop en BETAAL die water.

John ·

Selfs ‘n werklose is in staat om ‘n kraan toe te draai. ‘n Dorp het ook nie ‘n genie nodig om ‘n lekkende/stukkende waterpyp reg te maak nie maar net so bietjie olie in die gewone man se ‘pype’… wat interessant genoeg wel ‘n goeie salaris verdien om die werk te doen.

Johann ·

Die ouens kan niks bestuur en onderhou nie. Wat verwag jy van ‘n ‘bevryde’ Afrika land

Francie ·

Dries, ek stem saam. Baie huishoudings het sonwaterverwarmingstelsels gekry, wat verseker ‘n groot stap in die regte rigting was.
Ek besef dit sal aanvanklik ‘n groot kapitale uitleg wees, maar sal baie graag wil sien dat huishoudings ook van tenks voorsien word om rëenwater te oes. Dit sal onmiddelik die druk van watervoorsiening in areas waar dit rëen verlig. Selfs daar waar die rëenval laag is, sal daarby baat vind.Net een bui kan al ‘n verskil maak. Die bonus is dat dit skoon, onbesoedelde water sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.