Werkloosheid styg, maar minder ly honger

Foto ter illustrasie: (Foto: Facebook)

Ietwat minder kinders het tussen November verlede jaar en Februarie vanjaar honger gely teenoor vroeër verlede jaar, ten spyte daarvan dat werkloosheid in dieselfde tydperk toegeneem het. Só lui ʼn verslag van die nasionale studie oor inkomste-dinamika en mobiele koronavirus-opname (NIDS-CRAM), wat die afgelope week bekendgemaak is. Dit is die vierde opname van sy soort onder Suid-Afrikaanse huishoudings sedert die uitbreek van die pandemie in Maart verlede jaar.

Hiervolgens het 16% van kinders in Suid-Afrika teen November honger gely, teenoor 14% in Februarie vanjaar. Dit is egter steeds hoër as die 12% wat in Julie aangeteken is en amper dubbel soveel as die 8% respondente wat voor die Covid-19-pandemie aangedui het dat kinders in hul huishouding honger ly.

Meer as ʼn derde (39%) van huishoudings het aangedui dat hulle tussen November en Januarie nie genoeg geld gehad het om kos te koop nie. Dit is ook effens minder as die 41% in die voorafgaande maande. “As ons na die syfers sedert die begin van die pandemie kyk, het tweederdes van Suid-Afrikaanse huishoudings die afgelope jaar ten minste een keer ʼn tekort aan kos gehad,” lui die verslag. ʼn Derde (32%) van respondente het die afgelope jaar aangedui dat ʼn kind in hul huishouding die voorafgaande week honger gely het.

Die studie het ook na werkloosheid tussen November en Februarie gekyk. Dié opname wys dat minder Suid-Afrikaners (52%) tussen 18 en 64 jaar oud teen Februarie in diens was, in vergelyking met November verlede jaar (55%). “Dit dui daarop dat die tweede reeks streng inperkings, wat tussen Desember en Januarie ingestel is, tot verdere werksverliese gely het.”

Volgens die studie was vroue meer geneig om hul werk te verloor, en minder geneig om tussen November en Februarie aangestel te word. “Dit is waarskynlik omdat meer vroue in dié bedryfsoorte aangestel is wat die hardste deur inperkings geraak is.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Klipkop

As werkloosheid die realiteit word, SAL hongerlei een of ander tyd die realiteit word. Dit kom!!! Ongelukkig sal daardie nare realiteit nie ewig wegbly nie.

Pietertjie

As minder mense werk, maar terselfdertyd ly minder mense honger, beteken dit dat mense kos kry of koop sonder om daarvoor te werk. Dit beteken dat ander mense produseer of werk sonder om die regte waarde te kry daarvoor. Staatstoelaes en misdaad speel hier ‘n groot rol. Die uiteinde is noodwendig totale armoede, hongersnood en chaos. Daar kan nie ‘n ander uiteinde wees nie. Kyk maar na die res van Afrika : daar is niks verder Suid om dít wat kom te ontvlug nie.

Werner

Tipiese liberale snert wat die media weer soos soetkoek opeet.As daar nie werk is nie is daar nie kos nie.So maklik soos dit.

Hennie

Wat ‘n pot twak! Jy kan enige iets “aflei” van statestiek, veral as die statistiek opgekook word, soos bv die stats in hierdie artikel!

annie

Is dit vanaf Turkse kosskepe? Neig die staat in die rigting van koepons/druk van geld? As die ANC-geldlaai leeg is dan is die staat s’n ok. Ons daggaboompies is nog te klein vir ‘n groot inkomste al skimp die minister van finansies in daai rigting. 18 mj name was laas op die Sassa-lys en ? studente eet daagliks by die seemandjie in ontwerpersklere en ry in pa se 3e merc (dalk) klastoe. Hoeveel kry Covid-onderhoud en staan tou en/toi voor die (semi-)staatskantore vir nog meer, soos beloof?