Werkloosheidsfonds onder skoot oor sloerdery

(Foto: Facebook)

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) is toenemend onder skoot oor die sloerdery met die uitbetaling van die tydelike werknemer/werkgewertoelae wat in die handel en wandel as die Ters-toelaag bekend staan.

Die toelaag is met die ontstaan van die afsonderingsperiode op 27 Maart ingestel sodat werkgewers wat by die WVF geregistreer is, namens werknemers kon aansoek doen vir ‘n spesiale bykomende toelaag as hulle – spesifiek weens die aantoonbare ekonomiese impak van die afsonderingsperiode – nie hul werknemers kan betaal nie.

Die WVF se stelsels is egter heeltemal verswelg deur die stroom aansoeke en die stelsel het gestol. Die hulp van ander instansies soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en verskeie inbelsentrums moes ingeroep word om die las te hanteer.

Boonop is die stelsel in die middel van die proses aangepas om dit te vereenvoudig, en moes almal wat op die ingewikkelde manier aansoek gedoen het, van voor af op die eenvoudiger manier aansoek doen.

Al die ekstra hulp ten spyt het die prosessering van aansoeke vir April egter so gesloer dat heelwat uitbetalings eers teen die derde week van Mei gedoen is en baie mense steeds nie hul April-uitbetalings ontvang het nie, sê dr. Michael Cardo, DA-LP.

Volgens Cardo het die kommissaris van die WVF, Teboho Maruping, verlede week aan die parlementêre portefeuljekomitee oor arbeid die versekering gegee dat die fonds se webwerf  teen die afgelope Vrydag, of op die laaste teen die naweek volkome sal funksioneer.

“Daarvan het egter dadels gekom. Toe ek Maandagoggend op die webblad ingaan, was daar slegs ‘n boodskap wat gelui het ‘Ons kan nog nie u aansoek vir Mei hanteer nie en dankie vir u geduld’. Mense se geduld was reeds min, en nou is dit op,” het Cardo bygevoeg.

“Dit is nie hier ‘n geval van ‘n akademiese gekibbel oor rekenaarprogramme, vorms of prosesse nie. Dit is hardwerkende Suid-Afrikaners wat nou harder as ooit moet veg om die wolf van die deur te hou – as regstreekse gevolg van die gedrag van hul eie regering,” het Cardo uitgewys.

Hy het die minister van arbeid, Thulas Nxesi, dringend tot verantwoording geroep en amptelik versoek dat die SAID in die grootste moontlike mate die WVF se brouwerk oorneem sodat verdere swaarkry soveel moontlik gestop kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Maklik die bankrot regering het nie geld nie. En ou kop doek gee die bietjie wat hulle kon in kry weg. Een groot sirkus

marius

Dring aan op ‘n hofbevel dat daar bewys gelewer word van hoeveel geld daar oor is . Klaar !

Yolandie

Dis om van siek te raak. Mense se hardverdiende bydraes tot die fonds word nou van hulle weerhou noudat hulle geldelik in nood is. Die mense staan nie bak hand om kospakkies en geld gratis en vir niks doen te ontvang nie. Betaal die geld uit sodat die mense saans kan slaap!!!!

Carina

Ek het op een dag al ons werknemers geregistreer, van wie ek vir 12 moes TERS UIF eis. 8 van die 12 is toe uiteindelik verwerk en betaal, maar die ander 4 nie. Dis sisteem bly wys hulle is nie geregistreer nie. Ek het al verskeie eposse gestuur en telefoonoproepe gemaak. Die laaste dame het my verseker die 4 is in die sisteem – na sy die ID nommers nagegaan het – en gesê ek hoef niks verder te doen nie, dit sal verwerk word. Dis alweer 2wk later en nog steeds niks. My mense sit sonder geld en kos,… Lees meer »

Cleopatra69

Beloftes word gemaak om mense stil te hou vir n maand of 2 want eintlik is die fonds ook bankrot en daar word gepraat van best case senario sal 900 000 mense in Gauteng alleen hulle werk verloor agv die inperkings so daar is 900 000 mense minder wat bydra tot UIF maar wat nou ook gaan eis. Jy betaal jou hele lewe UIF maar kry net vir 6 maande n gedeelte so waar is daardie fondse.