Werkloosheidsyfer bly ʼn kopseer

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Suid-Afrika het steeds ʼn verstommend hoë werkloosheidsyfer van 29,1%. Dit beteken dat byna een uit elke drie Suid-Afrikaners nié ʼn werk het nie. Die werkloosheidsyfer het in 2017 op 27,7% gestaan.

Statistieke Suid-Afrika het Dinsdag sy kwartaallikse arbeidsmagopname (QLFS) vir die vierde kwartaal van verlede jaar bekend gemaak. Dié opname toon dat die amptelike werkloosheidsyfer onveranderd teenoor die derde kwartaal van 2019 gebly het.

Daar is egter geen rede om opgewonde te raak oor die onveranderde werkloosheidskoers nie aangesien die aantal ontmoedigde werksoekers in ʼn enkele kwartaal met 62 000 toegeneem het van 2,79 miljoen tot 2,85 miljoen. Diegene wat nié in die arbeidsmark werksaam is nie om enige ander redes as ontmoediging, het óók met 45 000 toegeneem van 12,68 miljoen tot 12,72 miljoen. Dit beteken 107 000 méér mense, teenoor die derde kwartaal, het nie in die vierde kwartaal werk gesoek nie.

Die persentasie mense wat vir ʼn jaar of langer werkloos was, het ook oor die afgelope tien jaar met 59,9% tot 73,3% gestyg.

“Dit beteken dat ʼn toenemende getal Suid-Afrikaners nie kan bekostig om brood op die tafel te sit, of om hul gesinne aan te trek en te versorg nie,” sê die DA in reaksie op die jongste opname.

(Foto: pixabay)

Volgens die opname het die getal Suid-Afrikaners wat tans in ʼn werk aangestel is, wel met sowat 45 000 toegeneem tot 164 miljoen. Dit is waarskynlik omdat die Suid-Afrikaanse bevolking op werkende ouderdom in die vierde kwartaal met 145 000 toegeneem het vergeleke met die derde kwartaal.

Die getal werklose persone in die vierde kwartaal het met 8 000 tot 6,7 miljoen afgeneem, vergeleke met die vorige kwartaal. Dit beteken daar is 38 000 meer mense in die arbeidsmag.

Werksgeleenthede het in die vierde kwartaal in twee van vier sektore toegeneem. Die grootste toename in indiensneming was in die formele sektor waar 117 000 mense nuut aangestel is, gevolg deur die landbousektor met 6 000 nuwe aanstellings. Indiensneming in die informele sektor het egter met 77 000 afgeneem en onveranderd gebly in die private sektor.

Die getal jong mense tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar wat nie werk het of onderrig word nie, het van 32,3% in die derde kwartaal tot 32,0% (3,3 miljoen) in die vierde kwartaal afgeneem, toon die opname.

Dr. Michael Cardo, DA-skaduminister vir indiensneming en arbeid, meen werklose Suid-Afrikaners word uitgesluit van die ekonomie en onderwerp aan ʼn lewe van swaarkry en verontwaardiging weens die ANC se mislukkings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

marius ·

Die “teer op belasting geld en leef soos ‘n koning ” konsep is geskep deur die regeerders van die land . Daar is geen begeerte om te werk , of werk te skep nie . Dis die waarheid .

Snowball ·

Die sosialistiese ideologie werk net solank die geld hou. Bloot te veel wat te veel kinders het en glo die staat sal sorg.

Michelle ·

Ek het 2 grade en sukkel al 4 jaar lank om werk te kry. Mense soek ervaring maar niemand is bereid om jou ‘n kans te gee nie.

Dries ·

Bevolkingsgroei is net so groot kopseer, dalk moet daar eerder bietjie ondersoek ingestel word.

Haan ·

Tydens die piek van die groot depressie was werkloosheid in Amerika n allemintige 15%. Dus 8s SA vir alle praktiese doeleindes al n dekade lank in n depressie gewikkel.

Woeter ·

Dit darem maar erg en om te dink Afrika se 2de grootste ekonomie het ‘n werkloosheid syfer van 29.1% dan praat mens nog nie eers van die jeug werkloosheid syfer nie of BEE nie. As dit die beste is wat Afrika kan lewer, wonder mens hoe gaan dit in die 54 ander Afrika lande.

Maar met hierdie stygende werkloosheid syfer gaan Suid-Afrika binnekort sy “Colour Revolution” oomblik he en dit nog voor 2025. Dan gaan die hele SADC soos domino’s laat val een na die ander. Net soos die “Arab Spring” van 2011 en “Autumn of Nations” van 1989.

Maar ek vrees daar is dalk n moontlikheid dat die EFF daai “Colour Revolution” oomblik kan hijack. Sal maar sien wat gebeur.

DieKriek ·

Ek weet darem nie. My dogter met matriek het altyd n plan gemaak om werk te kry, partykeer het sy 2 werke gehad om te oorleef. Sy wou nie op haar ouers teer nie. Vandag het sy haar eie suksesvolle besigheid. Dit gaan partykeer maar rof, maar harde werk help.

Is mense nie maar net te kieskeurig nie? Wat het geword van onder begin en stapsgewys jou opwerk? Werk is skaars, dis waar, en werkgewers wurg maar ook, maar daar is werk as jy net wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.