Werkloosheidsyfers skets donker prentjie

Argieffoto

Suid-Afrika se uitgebreide werkloosheidkoers het in die derde kwartaal van 2017 tot ʼn rekordhoogte van 36,8% gestyg.

Statistieke Suid-Afrika het Dinsdag gesê 92 000 werksgeleenthede is in dié kwartaal geskep, teenoor 33 000 werksoekers wat die mark betree het. Dit het daartoe gelei dat die amptelike werkloosheidkoers onveranderd gebly het op 27,7%.

Volgens StatsSA se kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS), is dit steeds 0,6% hoër in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

Die meeste bedrywe het kwartaal-tot-kwartaal-werkskeppingsgroei aangeteken, afgesien van vervaardiging, konstruksie en landbou wat onderskeidelik indiensnemingsafnames van 50 000, 30 000 en 25 000 getoon het. Die grootste afname in die werkloosheidkoers in provinsies is in die Vrystaat (afname van 2,6%), Limpopo (afname van 1,7%) en Mpumalanga (afname van 1,6%) waargeneem.

Die land se uitgebreide werkloosheidkoers wat mense insluit wat werk gesoek, maar moed verloor en ophou soek het, het met 0,2% tot 36,8% gestyg.

StatsSA het gesê mense met ʼn onderrigvlak laer as matriek dra 57,4% tot die werkloosheidkoers by. Jeug (mense tussen 15 en 34 jaar oud) is steeds weerloos in die arbeidsmark met ʼn werkloosheidsyfer van 38,6%, wat 10,9% hoër as die nasionale gemiddeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marous ·

Die leiers van die land is ‘n wonderlike voorbeeld vir die jeug …. om te steel , in plaas van werk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.