TLU SA en Sakeliga eis dat die ekonomie weer ten volle oopgestel moet word in die lig van die jongste kwartaallikse werkloosheidsyfers wat Dinsdag deur Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) bekendgemaak is.
Volgens die statistieke het werkverskaffing tydens die tweede kwartaal in alle sektore afgeneem as ’n direkte gevolg van die afsonderingstydperk wat steeds op vlak 1 van krag is.
Henry Geldenhuys, president van TLU SA, sê die landboubedryf het die kleinste aantal verliese getoon met ’n afname van slegs 7,6% teenoor 10,8% in die formele sektor, 21,9% in die informele sektor en 23,6% in private huishoudings.
“Landbou kon daarin slaag om ’n baie groot gedeelte van die werksmag te behou, en is daarom die sektor wat die beste vertoon,” sê Geldenhuys. “Ons hoop dat die regering twee en twee bymekaar kan tel en sien dat die afsonderingstydperk verwoesting gesaai het in die bedrywe wat verhoed is om te werk en dat dit verskeie langtermyn gevolge het.”
Geldenhuys sê hoewel daar ook ’n afname in die werkloosheidsyfer was, het StatsSA self erken dat dit geensins dui op ’n verbetering in die arbeidsmark nie, maar ’n resultaat is van die afsonderingstydperk. “Die amptelike definisie vir werkloosheid lui dat mense op soek moet wees na werk en beskikbaar moet wees vir werk. Dit was nie moontlik tydens die afsonderingstydperk nie.”
Geldenhuys sê dit sal ’n geruime tyd neem om werklik die totale en werklike invloed van die volgehoue afsonderingstydperk op die Suid-Afrikaanse ekonomie en inwoners te bepaal. “Tot tyd en wyl is dit duidelik dat die regering sy bestaande aanslag heeltemal moet verander om die reddingsproses te begin.”
TLU SA en Sakeliga doen ’n ernstige beroep op die regering om die ekonomie onmiddellik ten volle oop te stel om enige verdere verliese aan werkgeleenthede te voorkom en armoede te bekamp. Sakeliga sê dramatiese verligtingsmaatreëls, soos ’n moratorium op die minimumloon, behoort ook dadelik ingestel te word.
“Dit is die minste wat die regering vir werkloses en ondernemings kan doen nadat die afsonderingstydperk sakeondernemings, werknemers en die samelewing landwyd lamgelê het. Suid-Afrika is besig om ’n kruitvat vir politieke en maatskaplike onstabiliteit te word, om van die daling in lewensverwagting weens ekonomiese ontneming nie te praat nie. Die belangrikste hulppakkette is nie nog staatskuld en stimuluspakkette nie, maar die afskaffing van skadelike arbeidsbeperkings, soos met ’n moratorium op die minimumloon,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.
StatsSA het vanoggend bekendgemaak dat Suid-Afrika se werkloosheidskoers in hierdie stadium op ʼn skrikwekkende 42% vir die tweede kwartaal van 2020 staan. Die getal mense wat werk het met 2,2 miljoen tot 14,1 miljoen gedaal in vergelyking met die vorige kwartaal.
Strydig met dít wat ʼn mens sou verwag met so ʼn groot afname in indiensneming, het werkloosheid ook beduidend afgeneem – dit het met 2,8 miljoen tot 4,3 miljoen gedaal in vergelyking met die eerste kwartaal van 2020 en het gelei tot ʼn afname van vyf miljoen (ʼn daling van 21,4%) in die getal mense in die werksmag.
Die veranderings het gelei tot ʼn beduidende afname van 6,8 persentasiepunte in die amptelike werkloosheidskoers wat in die eerste kwartaal op 30,1% gestaan het. Dit staan in die tweede kwartaal op 23,3% – die laagste opgetekende koers sedert 2009.
Dit wat rerig nie iemand met ‘n hoe IQ om te weet dat die ANC lieg…..AL DIE TYD! Selfs ‘n 30percenter met frons op die voorkop, sou kon se “maar hulle lieg!”
So gaan dit as kommuniste n land best laat die wat vir die ANC gestem het maar weer vir hulle stem. So gaan dit as jy dink jy is slim ou cyril is mos bang vir sy unies wat hy deel van was en nog steeds is.