Werknemer ontvoer toe transaksie skeefloop

Die misdaadtoneel toe Rusa-lede beweerde ontvoerders vastrek. (Foto: Facebook/ Rusa)

ʼn Werknemer van ʼn hardewarewinkel in Durban is glo deur klante ontvoer nadat ʼn transaksie om sement te koop skeefgeloop het.

Volgens ʼn woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa) het twee mans die winkel in die middestad Vrydag binnegekom en aangedring op die 200 sakke sement waarvoor hulle reeds R10 000 oorbetaal het. Toe die winkelassistent aandui dat hy niks van die transaksie weet nie, het hulle hom glo gegryp en in hul motor, ʼn sjampanjekleurige Toyota, geforseer.

“Die bestuurder van die winkel het Rusa rondom 16:00 gekontak en gesê twee mans het hul werknemer teen sy sin in die motor gedruk en met hom weggery. Reaksiebeamptes het hulle toe by uitgangspunte in die middestad gereed gemaak. ʼn Kort rukkie later het ʼn voertuig wat die bestuurder se beskrywing pas, deur ʼn kruising gejaag en beamptes kon daarin slaag om die voertuig van die pad af te trek. Die werknemer van die hardewarewinkel is in die motor aangetref.”

Dit het later uitgekom dat die verdagtes die sakke sement telefonies by ʼn onbekende man bestel en die geld elektronies oorbetaal het. Die man het aan hulle gesê dat hy ʼn werknemer by die betrokke hardewarewinkel is, maar dit blyk nou die beweerde ontvoerders is uit R10 000 geswendel.

Die verdagtes is aan die polisie oorgegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.