Werknemer van parlement dood aan Covid-19

Die parlement in Kaapstad. (Foto: ANA)

ʼn Parlementêre werknemer wat in die kantoor van die adjunkspeaker gewerk het, is vroeër die week aan Covid-19 dood.

Amos Komeni (60) is Donderdag aan Covid-19 dood. Hy het sedert Mei 2014 as projekadministrateur in die kantoor van die adjunkspeaker gewerk.

Thandi Modise, speaker, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, het hul medelye betuig met Komeni se vrou, kinders, familie, vriende en kollegas.

“Ons is geskok en hartseer oor sy dood. Ons het almal gehoop dat hy die virus sal oorwin en uit die hospitaal ontslaan sal word. Hierdie skielike verwikkeling het ons almal verpletter,” het die voorsittende beamptes in ʼn verklaring gesê.

Lechesa Tsenoli, adjunkspeaker, het gesê Komeni het sy kantoor met toewyding en ywer gedien. “Hierdie onsigbare vyand het ons van ʼn nederige, sagmoedige reus wat ʼn rolmodel vir talle jonger werknemers was, ontneem.

“Hy was ʼn ware heer wat altyd meer gedoen het as wat van hom verwag is. Hy was ook ʼn aktivis wat by verskeie gemeenskapsopheffingsprojekte betrokke was. Hy het in verskeie strukture gedien en was ʼn aktiewe lid van die SAKP.”

Tsenoli sal na verwagting vandag van Komeni se familielede besoek om sy medelye te betuig.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydagaand bekend gemaak dat altesaam 5 951 bevestigde Covid-19-gevalle en 116 sterftes al in Suid-Afrika aangemeld is. Hy het ook gesê 2 382 pasiënte het reeds van Covid-19 herstel.

Die voorsittende beamptes het ook hul medelye betuig met al die families wat geliefdes aan die dood afgestaan het weens Covid-19.

“Ons doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om aan al die families te dink en vir hulle krag en genesing toe te bid in hierdie moeilike tyd. Ons wens ook almal wat met die virus besmet is ʼn spoedige herstel toe.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Net een vraag, as ons al 36 dae in lockdown is en die siekte vat tussen 2 tot 14 dae om te wys, en die parlement is ook toe, waar het hy die siekte op gedoen?

Lindi

Nou verstaan ek nie lekker nie. “Tsenoli sal na verwagting vandag van Komeni se familielede besoek om sy medelye te betuig.” Ek dog dan mens mag nerens gaan “kuier” nie?

Anel

Kan iemand sê of hy suiwer aan die virus dood is? Is daar iemand wat vir ons die wasrheid kan weergee van hoeveel wat dood is, is suiwer agv die virus. Hoekom is dit so ‘n groot staatsgeheim?

daniel

Die klomp mense wie herstel het ,was hulle ooit werklik siek?. Is hulle nie getoets met die BIOEASY toetser nie?.

Scalla

Die Zuma auntie het die week wetgewing verslap sodat mense na hul wonings mag terug keer vanaf ander provinsies en bestemmings, besoeke word nog steeds verbied, of is dit net op sekeres van toepassing.