Werknemer vas wat bejaarde glo stamp

Elize Devenish (79) na die voorval. (Foto: verskaf)

ʼn Kombuiswerker van Phelandaba by Bloemfontein is in hegtenis geneem nadat sy ʼn bejaarde inwoner van die Ons Tuiste-oord vir bejaardes na bewering só hard gestamp het, dat Elize Devenish (79) ʼn noodoperasie aan haar arm moes ondergaan.

Maroela Media het vroeër berig Devenish het hulpeloos op die grond gelê nadat die werker haar glo gestamp en toe met haar take aangegaan het. Die werker het later ʼn verpleegkundige gaan roep, wat Devenish klaarblyklik ook nie dadelik opgehelp nie.

Die voorval het plaasgevind nadat Devenish verlede Woensdag ná ontbyt ʼn jogurtbakkie wat op een van die etenstafels agtergebly het, klaarblyklik sonder toestemming geneem het.

Die voorval is op die sentrum se geslotebaantelevisie opgeneem en het groot onsteltenis by talle mense ontlok.

Buiten haar hand, het Devenish ook haar lies met die val seergemaak. Dit veroorsaak dat sy nou sukkel om self te loop en tydelik van ʼn rolstoel gebruik moet maak, het haar seun, Charl Devenish, gesê.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder in Bloemfontein, het gesê die 55-jarige kombuiswerker is ná die voorval in hegtenis geneem en verskyn môre in die landdroshof in die stad.

Sy word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer, het Covane gesê.

Ons Tuiste is ʼn deel van die Engo-welsynsorganisasie. Engo het die voorval in ʼn verklaring betreur en gesê dit was ʼn geïsoleerde voorval wat hoogs onaanvaarbaar is.

Die betrokke kombuiswerker en verpleegkundige is vroeër reeds geskors, hangende ʼn dissiplinêre verhoor.

“Engo sien die insident in ʼn ernstige lig. Die versorging en belang van inwoners word met die nodige erns bejeën. Engo tree in alle gevalle onmiddellik op en tref alle moontlike maatreëls om insidente soos hierdie te voorkom,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Goeie nuus

Baie goeie nuus, hoop Mevrou herstel gou.

liza

Hoop die tannie is ok…..Bid God se genade oor haar.

wraggies

Disgusting.

Boerin

Dis darem baie goeie nuus ! Ek hoop sy sit haar voete nie weer daar nie…raak sommer ontslae vd witte wat so doelloos daar rond dwaal…weet nie wat soek sy daar nie, het geen empatie nie ! Ek se net dankie vir die kameras anders het geen haan weer gekraai nie !
Die Devenish gesin moet hierdie saak deurdruk tot die laaste , moenie swig onder enige druk nie.
Mag die tannie gou gesond word!

Thys

En wat van di suster wat het sy oorgekom, sy moet gefire word liewe vader man m.a.w dit wat sy aan daai tannie gedoen het sal sy seker teenoor haar eie ma ook gedoen het om haar eers op di vloer te los voordat sy aanstaltes gemaak het daarna om haar op te help sies ek skaam my vir jou is dit wat jy aan jou medemens doen