Werknemersvertroue daal in eerste kwartaal van 2014

Grafika: Solidariteit

Grafika: Solidariteit

Die komponent vir werknemersvertroue in die Solidariteit-ETM Arbeidsmarkindeks (AMI) het in die eerste kwartaal vanjaar na 45,7 gedaal, nadat dit in die laaste kwartaal van 2013 op 46,5 gestaan het. Dié inligting is vervat in die Maart‒Junie-uitgawe van die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkverslag, uitgegee deur die vakbond Solidariteit in samewerking met markstrateë ETM Analytics.

Die AMI, wat benewens ’n werknemersvertroue-indeks ook maatstawe vir arbeidsbekostigbaarheid en sakesiklusbewegings insluit, het in geheel ’n klein verbetering getoon deur vanaf 44,9 tot 45,5 in die eerste kwartaal te verstewig. ’n Waarde van 50 verteenwoordig die gelykbreekvlak tussen stygende en dalende loon- en werksekerheid.

Volgens Piet le Roux, senior ekonomiese navorser, dui die daling in die werknemersvertrouekomponent op werknemers se ervaring van ’n moeilike arbeidsmark. “Die volgehoue telling van onder 50 vir elkeen van die indeks se afsonderlike komponente sowel as die indeks in geheel beteken dat werksekuriteit in Suid-Afrika ’n verswakkende tendens vertoon. Die indeks is reeds ’n geruime tyd benede 50. Dit was in die eerste kwartaal van 2013 byvoorbeeld maar 46,1 en was nog in elke kwartaal behalwe die tweede kwartaal van 2011 onder 50.”

Ander onderwerpe wat in hierdie uitgawe van die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkrapport bespreek word, sluit in:
• Die redes vir die uitgerekte Amcu-staking;
• SA se klein belastingbasis, waar slegs een uit tien volwassenes noemenswaardige belasting betaal;
• die omvang van transformasie in die staatsdiens;
• ’n oorsig oor die Suid-Afrikaanse ekonomie; en
• ’n blik op die werkinge van die sakesiklus.
Om die volledige weergawe van die verslag te besigtig, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.