Werknemersvertroue daal skerp in tweede kwartaal van 2014

Paul Joubert van die Solidariteit Navorsingsinstituut

Paul Joubert van die Solidariteit Navorsingsinstituut

Die komponent vir werknemersvertroue in die Solidariteit-ETM Arbeidsmarkindeks (AMI) het in die tweede kwartaal vanjaar skerp tot 33,3 gedaal, nadat dit in die eerste kwartaal 45,2 was.

Dié inligting is vervat in die Julie-September-uitgawe van die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkrapport, uitgegee deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) in samewerking met markstrateë ETM Analytics.

Die AMI, wat benewens ’n werknemersvertroue-indeks ook maatstawwe vir arbeidsbekostigbaarheid en bewegings in die sakesiklus insluit, het in geheel ook vanaf 44,3 na 39,3 in die tweede kwartaal gedaal. ’n Waarde van 50 verteenwoordig die gelykbreekvlak tussen stygende en dalende loon- en werksekerheid.

Volgens Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die SNI, dui die daling in die werknemersvertrouekomponent op werknemers se ervaring van ’n moeilike arbeidsmark.

“Die skerp daling weerspieël die groot ontwrigting wat deur die staking in die platinumsektor veroorsaak is. Die effek van die staking is nie slegs direk by die myne gevoel nie, maar het baie wyer uitgekring na verskaffers van produkte en dienste aan die myne. Van die eerste tot die tweede kwartaal het die groep respondente met die hoogste werksekerheid van 32% tot 22% geval, terwyl die groep met swak sekerheid van 16% tot 23% van al die respondente gestyg het,” sê Joubert.

Ander onderwerpe wat in hierdie uitgawe van die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkrapport bespreek word, sluit in:
• Sóveel inkomste het metaalstakers verloor;
• Rassetransformasie in die staatsdiens;
• Arbeidsverhoudinge: die goeie, die slegte en die toekoms
• ’n Oorsig oor toestande in die Suid-Afrikaanse ekonomie; en
• Die ontwrigtende invloed van die sakesiklus op die arbeidsmark.

Om die volledige weergawe van die verslag te lees, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.