Werksoekers teen bedrogspul gewaarsku

Applikante word kwansuis na ’n “assessering” genooi, maar eers moet hulle R1 500 betaal.

Die Stad Tshwane waarsku werksoekers teen ʼn slenter met ʼn advertensie vir ʼn kamstige kantoorpos.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die stadsraad, sê hulle was ontsteld toe hulle bewus word van die kennisgewing op Gumtree van ʼn kamma-betrekking vir ʼn kantooradministrasie-assistent by die munisipaliteit.

Sy vertel nadat werksoekers hul aansoeke op die aanlyn-snuffelgids ingedien het, ontvang hulle ʼn boodskap waarin hulle kwansuis na ʼn assesseringstoets in die munisipale hoofkantoor in Pretoria genooi word.

Die bedrieër(s) versoek die aansoeker dan om R1 500 te betaal om ʼn aanstellingsbrief te laat opstel wat die aansoeker van die werk verseker, sonder dat die stadsraad ʼn onderhoud met hom of haar voer. Die geld moet by ʼn geldmarktoonbank in winkels of in ʼn Absa-rekening gedeponeer word.

Mashigo sê die advertensie is “van alle waarheid ontbloot” omdat die stadsraad vakante betrekkings net in koerante of op hul “Job Forum”-bladsy op hul webtuiste, www.tshwane.gov.za, adverteer.

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om die advertensie te ignoreer omdat dit ʼn slenter is,” sê Mashigo. “Die stadsraad is ontsteld dat bedrieërs niksvermoedende werksoekers kan uitbuit deur inligting oor moontlike betrekkings so uit hul duim te suig.”

Sy sê dis laakbaar dat bedrieërs die kwesbare gemeenskap wat bitter graag werk wil hê, so om die bos probeer lei.

“Graag waarsku ons mense wat sulke valse inligting versprei dat hulle vasgetrek, aangekla en vervolg al word aangesien hul optrede aan misdadigheid grens.”

Sy vra enigeen wat “werkadvertensies” teëkom wat nie aan die stadsraad se norme en standaarde voldoen nie, moet dadelik die metropolisie by 082 891 8625 bel.

Maroela Media het Michael Monyuku, wie se naam en nommer in die advertensie verstrek word, Woensdagmiddag gebel. Hy het gesê hy is bewus daarvan dat die stadsraad sy besonderhede in verband met die slenter sirkuleer, en toe summier afgelui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.