Werner de Jager: Kanse vir vervolging, geregtigheid skraal ná sy dood

Werner de Jager, Liezel de Jager, moord, verhoor, hof, Amanzimtoti, hof, verhoor, borgtogaansoek, KwaZulu-Natal

Werner de Jager (45) tydens een van sy laaste verskynings in die landdroshof in Amanzimtoti. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Werner de Jager, die man wat van die moord op sy vrou, ds. Liezel de Jager, aangekla is, is weens “mediese komplikasies” dood, het die departement van korrektiewe dienste (DKD) bevestig.

Oor die moontlikheid dat hy ʼn oordosis medisyne of dwelms geneem het om sy eie lewe te beëindig, wou die departement egter nie uitbrei nie.

Mocheta Monama, DKD-woordvoerder, sê ʼn nadoodse ondersoek sal gedoen word om die presiese oorsaak van De Jager se dood vas te stel.

Volgens Monama is De Jager reeds op 5 April in die King Edward-hospitaal in Durban opgeneem. Hy wou nie uitwei oor wat daartoe gelei het dat De Jager na dié hospitaal – waar hy Maandag dood is –  gebring is nie.

“ ʼn Meer volledige verklaring sal later uitgereik word,” het Monama by navraag gesê.

De Jager was ten tyde van sy dood verhoorafwagtend en sou weer in Mei in die hof verskyn het. Sy dood laat egter ʼn skraal kans dat Liezel se moordverhoor sal voortgaan en geregtigheid sal seevier.

Benewens die moord op sy vrou het die 45-jarige De Jager ook op twee aanklagte van bedrog tereggestaan.

Dit het tydens sy borgtogaansoek aan die lig gekom dat De Jager ook van moord in ʼn ander saak aangekla sou word. Dié saak hou verband met ʼn motorongeluk op 15 April verlede jaar – presies ʼn jaar voor De Jager se dood – waarin twee vroue dood is.

Guy Eales, Gaitlin Eales, Linda Eales, Berniee Eales, Werner de Jager, ongeluk, Kroonstad, Koppies

Linda Eales (regs) saam met haar skoonma, Berniece Eales. (Foto: Verskaf)

Berniece Eales en haar skoonma, Linda Cornelia Eales, is in die ongeluk dood en nog drie mense, onder wie Linda se dogter, Caitlin, is beseer.

Guy Eales, Linda se man, het Dinsdag aan Maroela Media gesê hy het gemengde gevoelens ná  De Jager se dood.

“Niks kan nou meer gedoen word nie,” sê hy.

“Dat hy [De Jager] skuldig was, is gewis; hy was die enigste persoon in die kar,” het Eales bygevoeg.

Die ongeluk het op die N1-snelweg naby die Koppies-afrit in die rigting van Kroonstad in die Vrystaat plaasgevind. De Jager, wat toe nog op vrye voet was, het glo met sy sedanmotor van agter teen die Toyota Fortuner, waarin die Eales-vroue gery het, vasgejaag.

Linda en Bernice is op die toneel dood.

“Dit is ʼn tragedie wat nooit moes gebeur het nie,” het Eales hartseer gesê.

Guy Eales, Gaitlin Eales, Linda Eales, Berniee Eales, Werner de Jager, ongeluk, Kroonstad, Koppies

Linda Eales saam met haar dogter, Caitlin, wat die ongeluk oorleef het. (Foto: Verskaf)

Hy en sy dogter het Maandag stil-stil die dood van hul geliefdes herdenk.

“My dogter wou iets spesiaal doen, maar ons het daarteen besluit. Die emosies is vir ons nog te rou.”

De Jager is sowat sewe maande ná die motorongeluk vir Liezel se moord in hegtenis geneem. Sy is op 13 Oktober 2021 met wurgmerke aan haar nek dood by die pastorie van die NG Kerk Suidkus op Amanzimtoti aangetref nadat sy saam met ʼn groep mense gaan draf het. Liezel, wat ten tyde van haar dood aan dié gemeente verbonde was, het saam De Jager en hul twee jong kinders in die pastorie gewoon.

Volgens die staat het De Jager die moord op sy vrou haarfyn beplan. Tydens sy uitgerekte borgtogaansoek het die hof ook gehoor dat die egpaar se huwelik verbrokkel het.

De Jager het glo verskeie lewenspolisse op Liezel uitgeneem en haar testament kort voor haar moord so gewysig dat hy alleen uit haar boedel sou baat indien sy sou sterf.

De Jager het glo tydens sy inhegtenisneming in fyn besonderhede gebieg dat hy Liezel vermoor het en om vergifnis vir haar dood gevra – iets wat hy later tydens sy borgtogaansoek ontken het.

Hy het wel erken dat hy kort ná Liezel se moord probeer het om sy eie lewe te neem. De Jager het bewerings ontken dat hy al by verskeie ander geleenthede ook probeer het om sy eie lewe te neem.

In sy beëdigde verklaring het hy destyds gesê: “Ek het nou tot die gevolgtrekking gekom dat die enigste wyse hoe ek my onskuld kan bewys, is om my verhoor by te woon. As ek weer sou probeer selfmoord pleeg, sal mense outomaties aanvaar ek het dit gedoen oor ek skuldig is. Ek het nuwe krag gekry om terug te baklei teen die aantygings wat daar teen my gemaak word en om die verhouding met my kinders te herstel.”

Sukses op verdere vervolging skraal

Dr. Llewelyn Curlewis, ʼn strafregkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het by navraag gesê hy is bekommerd oor die sukses van enige toekomstige vervolging in die moordverhoor al word daar later dalk nog verdagtes in hegtenis geneem.

Hy het bevestig dat vervolging uiteraard nie verder teen De Jager ingestel kan word nie. Wanneer die staatsaanklaer sy doodsertifikaat met die volgende hofverskyning van die saak by die hof indien, is die saak teen hom afgehandel.

Werner de Jager, Liezel de Jager, hof, moord, Amanzimtoti, Action Society

Betogers het Maandag geel blomme by hulle gehad ter nagedagtenis van die vermoorde ds. Liezel de Jager. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Tydens De Jager se borgtogaansoek het dit aan die lig gekom dat ʼn tweede verdagte binnekort aangekeer sou word.

So ver Maroela Media kon vasstel is dié verdagte nog nie in hegtenis geneem nie.

“Al is dit so dat daar ander beskuldigdes is wat in hegtenis geneem kan word, sal dit moeilik wees om ʼn saak teen hulle te bewys. Nie ontmoontlik nie, maar baie moeilik,” sê Curlewis.

Die kanse is groot dat enige ander verdagtes bloot net die blaam sal verskuif en sê De Jager was verantwoordelik vir die moord op Liezel.

Wat betref die Eales-saak meen Curlewis dit is ook die einde van daardie verhoor.

“Die familie kan wel ʼn eis teen sy boedel in stel, maar hulle sal eers moet bewys hy was op ʼn oorwig van waarskynlikheid verantwoordelik vir enige skade. Kanse op sukses is hier ook uiters skraal; ek is bevrees dit is die laaste sien van die blikkantien.”

Werner de Jager, Liezel de Jager, moord, Amanzimtoti, hof

Werner de Jager. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Dit het ook maar LANK gevat om hom in hegtenis te neem en toe ook maar net na kwaai druk op die polisie. Maar nou ja, sy slagoffer was “mos maar net wit”. Dan gee dié simpel anti-wit regering van SA nie juis om nie.

Casper ·

Die tweede verdagte,daar was speaker dat hy ‘n verhouding gehad het met ‘n ander man en dit was die rede vir die vebrokkeling van hulle huwelik.Kan die familie van die oorledenes in die Fortuner nie eis van die padongelukkefonds nie.Hoe sterk was sy boedel.

Bolandse Nooi ·

Maroela Media, kyk na jul beriggewing:

“Dit het tydens sy borgtogaansoek aan die lig gekom dat De Jager ook van moord in ʼn ander saak aangekla sou word. Dié saak hou verband met ʼn motorongeluk op 15 April verlede jaar – presies ʼn jaar voor De Jager se dood – waarin twee vroue dood is …”

Dit sou beteken dat Past. De Jager dan nou maar eers pas dood is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.