Werner de Jager neem glo eie lewe in tronk

Werner de Jager, Liezel de Jager, hof, moord, Amanzimtoti, Action Society

Plakkate met die vermoorde ds. Liezel de Jager se foto daarop buite die landdroshof in Amanzimtoti tydens haar man, Werner de Jager, se borgtogaansoek vroeër die jaar. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Werner de Jager (45), wat tereggestaan het vir die moord op sy vrou, ds. Liezel de Jager, is in aanhouding dood. De Jager het vermoedelik sy eie lewe in die Westville-gevangenis, waar hy verhoorafwagtend was, geneem.

Ian Cameron, deesdae DA-lid en voorheen verbonde aan die drukgroep Action Society, het aan Maroela Media bevestig De Jager is in die tronk dood.

Hy het ook bevestig dat daar nou ʼn amptelike proses is wat die omstandighede na De Jager se dood sal ondersoek.

Die departement van korrektiewe dienste kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

Cameron, wat sedert die moord Liezel se ouers, Henk en Salomé van Zyl, bygestaan het, sê dis te gou om te sê wat hulle reaksie op die nuus is.

“Al wat ons kan sê is dat dit skokkend is en baie om in hierdie stadium te verwerk,” sê Cameron.

Henk en Salomé van Zyl, Liezel se ouers. (Foto: Verskaf)

Henk van Zyl, Liezel se pa, het aan Maroela Media gesê hulle het self sowat drie ure gelede eers verneem Werner is Maandagoggend in die tronk se hospitaal dood. “Ons het self nog nie al die besonderhede nie en moet nou eers die nuwe werklikheid verwerk en aan die kinders meedeel. Al wat ons wel kan sê, is dat ons ons medelye met sy familie betuig.”

Dit het altesaam 863 dae geneem vir De Jager om in hegtenis geneem te word ná Liezel se moord op 13 Oktober 2021 by die egpaar se woning in Amanzimtoti. Liezel was ten tye van haar moord verbonde aan die NG Kerk Suidkus-gemeente.

De Jager is op 23 November verlede jaar in hegtenis geneem vir sy beweerde aandeel in die moord.

Ds. Liezel de Jager is in Oktober 2021 vermoor. (Foto: Facebook)

Tydens sy uitgerekte borgtogaansoek het die hof gehoor alle vingers wys na hom en dat hy die moord op sy vrou vooraf haarfyn beplan het. Volgens die staat sou die egpaar se huwelik verbrokkel het. De Jager het glo verskeie lewenspolisse uitgeneem op Liezel en ook haar testament kort voor haar moord so gewysig dat hy alleen uit haar boedel sou baat sou sy sterf.

Verder sou De Jager glo ook tydens sy in inhegtenisname in groot detail gebieg en om vergifnis gevra het vir Liezel se moord. Hy het dit tydens sy borgtogaansoek ontken.

Action Society het in ʼn verklaring hul medelye met Liezel se ouers en twee dogters te kenne gegee.

“Ons harte gaan uit na Liezel se jong dogters wat nou albei hul ouers verloor het. Ons bid vir krag vir Liezel se ouers, Henk en Salomé, wat hulle voogde geword het ná Liezel se dood,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Christine ·

Ek hoop hy het hom bekeer en as n ware wedergebore christen gesterf het
My meegevoel met sy dogters en familie

sopbeen ·

Jesus het vir elkeen van ons se sonde gesterf. Verag die sonde en nie die mens nie. Sterkte aan sy familie. Mag die Here se genade hulle hierdeur dra.

Dries ·

Julke wat nou so die Bybel voor almal se koppe gooi, oor wat almal nou moet doen om hom jammer te kry, het hy sy Bybel gelees en daar aan vol doen. Nee hy het nie.
So julle klmop priestess bly net sit. Julle wil altyd vir almal se en voorskryf wat die Bybel se, maar julle is net so skuldig soos hy. Maak of julle nou die grootste christenne is.

Delia ·

Arme kindertjies. Dink net waarmee word hulle groot. Ma e Pa kry kinders. Die huwelik werk nie. Pa vermoor vir ma. Pa pleeg selfmoord. Hulle lewenspad begin woes. Mag die Oupa en Ouma lank leef en gesond bly om daardie kindertjies n stabieler kinderlewe te gee.

Martie ·

Die tronk sal moet antwoord. Soos die gewese speaker se die omstandighede is woes in die tronk.

Hannelie ·

Ek wonder hoe waar is die, is dit dalk nog n Thabo Bester geval???? daar is mos miljoene in sy vermoorde vrou se lewenspolisse.

Juanita ·

Hierdie man het ‘n vreeslike daad gepleeg, maar dis nie vir ons om te oordeel nie. Ek voel vreeslik jammer vir sy geliefdes en kinders. Mag hul almal vrede vind en aan beweeg. Ek hoop ook regtig hulle lees nie die kommentare van mense wat nie dink voor hulle praat nie. Die wat agter bly is alreeds deur genoeg pyn en lyding.

Republikein in die Wes Kaap ·

Inderdaad, Hannelie, enige ding is moontlik in SA.

Bolandse Nooi ·

“Good riddance” en al daai. Net jammer die ouers van die vermoorde word nou die geleentheid misgun om reg en geregtigheid te sien geskied. Nou sal niemand die waarheid weet nie en daar sal altyd gespekuleer word. Het hy of het hy nie sy vrou en die ma van sy kinders vermoor nie? Is hy of is hy nie skuldig aan die wederregtelike dood van die 2 vroue in wie hy vasgery het, nie?

Cassie Carstens ·

Jammerlike gebeurtenis as mens aan die kinders dink wat nou wees is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.