Werner na hospitaal gevlieg

Werner de Jager se motor is Woensdag in ’n suikerrietplantasie in Illovo Suid gevind. Foto: Emer-G-Med

Die wewenaar Werner de Jager is Woensdag in ’n “ernstige toestand” na ’n hospitaal gevlieg nadat sy motor in ’n suikerrietplantasie gevind is.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, sê paramedici is vroeër vandag na Illovo‑Suid ontbied nadat ’n boer op ’n motor op sy plaas afgekom het.

Illovo‑Suid is minder as 15 km se ry van Amanzimtoti waar De Jager woon en vermis geraak het.

Veiligheidswagte het glo vroeër vandag ondersoek ingestel en De Jager in die wit Renault Kwid in die suikerrietplantasie gevind.

Volgens Van Reenen is De Jager in ’n ernstige toestand gevind.

Hy is deur paramedici op die toneel gestabiliseer voordat hy per helikopter na ’n nabygeleë spesialisfasiliteit gevlieg is vir verdere mediese behandeling.

“Die man is glo sedert verlede week Saterdag vermis. Die feite van die man se verdwyning sal deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersoek word,” het Van Reenen gesê.

Werner en Liezel de Jager. (Foto: Facebook)

Die polisie het intussen bevestig dat De Jager lewend gevind is, maar wou geen verdere inligting bekend maak nie.

De Jager, eggenoot van die vermoorde Liezel de Jager, is Sondag as vermis aangemeld nadat sy skoonpa, Henk van Zyl, hom glo Saterdag omstreeks 10:00 vir die laaste keer gesien het.

Liezel is meer as twee weke gelede onder raaiselagtige omstandighede in die erf van die NG Kerk Suidkus in Amanzimtoti se pastorie vermoor.

Liezel was ten tyde van haar moord ’n leraar by dié gemeente.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wielspore

Vreemde verloop van sake?

Aai

Hy vra homself dalk hoe kon so iets gebeur het .Dit moet die ergste wees as jy iemand naby jou verloor het en jy was nie daar om te help veral met ‘n moord.Sterkte aan almal en mag die skuldige een gevang word.

Daleen

Nie eerste keer wat hy vermis of “in ernstige toestand” aangetref is nie. Duidelik het hy ‘n probleem. My hart bloei vir daai twee kindertjies.

Jeffrey

Ergere trauma kan n mens ongewone goed laat doen. Ek dink die arme man cope heel duidelik nie. Uiters tragies. n Hele gesin gaan nou deur hel.

Lubbe

Watse petrol kanne staan hier agter die kar?