Wes-Kaap bibber tydens beurtkrag

(Argieffoto: pixabay)

Kapenaars het Woensdag gebibber toe reën in vlae in dele van die Wes-Kaap neergesak het. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het sommige plekke tot 70 mm reën gekry. ʼn Inwoner van Kaapstad het Woensdag as “die perfekte wintersdag” beskryf en gesê mis in die middestad was Woensdagaand so dig dat ʼn mens nie eens tot oorkant die pad kon sien nie.

Midde dié stormweer moes Kapenaars boonop met beurtkrag opgeskeep sit, nadat Eskom Woensdag fase 2-beurtkrag ingestel het. Beurtkrag sal na verwagting tot Vrydag voortduur.

Maroela Media het vroeër berig ʼn kouefront wat met heelwat reën en sterk wind gepaardgegaan het, het Dinsdagaand die Suidwes-Kaap getref. Die weerdiens het ʼn waarskuwing uitgereik dat dit skade aan strukture soos informele huise kan veroorsaak.

Xolani Matlou, ʼn weervoorspeller verbonde aan die SAWD, sê die ergste stormweer is vandag (Donderdag) opgeklaar. Bewolkte tot gedeeltelik bewolkte weer word vir die grootste gedeelte van die Wes-Kaap voorspel. Enkele reënbuie sal langs die kusgebied en die suidelike binneland uitsak. Temperature het Woensdag tot in die lae 20’s gedaal.

Matlou sê die Kaap het Woensdag goeie reën ontvang. Reënval van sowat 60 mm en 77 mm is onderskeidelik in die Kirstenbosch- en Kaap Agulhas-omgewing aangemeld. Weerkenners beskou dit as ʼn goeie vooruitsig vir die naderende reënseisoen.

Weens die koue het die vraag na elektrisiteit ook toegeneem. Die Stad sê nou hy besef opnuut dat die inwerkingstelling van onafhanklike kragopwekking geprioritiseer moet word.

Dan Plato, die uitvoerende burgemeester van die Stad, het in Januarie ʼn brief aan Gwede Mantashe, die minister van minerale bronne en energie, gerig om meer duidelikheid te kry oor die inwerkingstelling van onafhanklike kragprodusente (IPP). Die Stad beoog om in die volgende drie jaar meer bekostigbare, skoner en betroubare energievoorsiening in te stel. Dit sluit die bou en verkryging van sy eie kapasiteit vir hernubare opwekking in.

Tans bestee die Stad ongeveer 65% van sy inkomste uit elektrisiteitstariewe om grootmaatenergie by Eskom aan te koop.

“Aangesien die koste van hernubare energie voortdurend daal namate nuwe tegnologie ingespan word, hou dit groot potensiaal in vir groot stede om vir hul klante skoner energie te bekom teen potensieel laer grootmaatpryse, en terselfdertyd energie toegankliker te maak,” sê die Stad in ʼn verklaring.

“Die Stad hoop om teen ongeveer 2022-’23 ʼn sonkrag-aangedrewe fotovoltaïese (PV) aanleg op die grond te laat bou, indien dit volgens plan verloop. Met die huidige regulasies van die Wet op die Munisipale Finansiële Bestuur en die regulering van die Energiewet, kan dit egter tot vyf jaar neem vir krag om die eerste keer onafhanklik opgewek te word. Die stad doen tans studies hieroor,” sê die Stad in ʼn verklaring.

Die Stad sê hy gaan groter druk op Eskom en die regering plaas om die Eskom-monopolie so gou moontlik te verbreek. “Ons kan eenvoudig nie so voortgaan nie. Ons huishoudings en ekonomie word weer in die duisternis gedompel op ʼn tydstip waarin ons almal probeer herstel van die voortslepende Covid-19-pandemie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SomeOne ·

dan sal ek eerder in die kaap wil bly, jy kan aantrek tot jy warm kry, maar uitrek tot jy koudkry moet nog uitgevind word
skiet my omdat ek se dat ek in die kaap sal aard, maar pensioenaris, ouderdom, onkologie afd., (wat my jare lank al behandel) en skedule 5 & 6 pille, maak dat ek nie soontoe kan verhuis nie

tweeling ·

Die wind en koue is te veel vir my vrou sy sal dit nie maak nie.

Boon ·

Dan Plato se kommentaar wys hoekom die WK suksesvol bestuur word. Wat krag betref is hy 100% reg, dat die kern van die probleem is dat Eskom n monopolie is, en slegs mededinging hulle uit hul gemaksone sal skud. Hoe vinniger private son-, wind en ander bronne gebruik word, hoe gouer sal die ekonomie herstel. Hoekom? Want mededinging is die brandstof wat die ekonomie se wiele glad laat loop. Nie n staatsamptenare wat in onkunde besluite neem en beleide opstel wat n klein politieke elite bevoordeel nie.

Casper ·

Daar is net een goeie ding in die Kaap.Die pad terug Transvaal toe.LOL.

Francois Le Cochon ·

Maar dankie vir die paar duisend rand wat jy in die Kaap spandeer het. Kom gou weer!

Willempie ·

Casper ge Vries….. die probleem met daardie pad is, hoe verder jy vorder in die rigting van TVL, word die pad al swakker, vol slaggate, sinkgate….en aan die einde van die pad is daar net gatte….

Ria ·

Hulle sal nooit die monopolie opgee nie, want niemand sal uit vrye wil van hulle patetiese diebs gebruik wil maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.