Wes-Kaap blink weer uit op munisipale ranglys

Die Swartland-munisipaliteit én die Kaapstadse metro is uitgesonder vir buitengewone dienslewering (foto: Swartland-munisipaliteit/Facebook)

Die Swartland-munisipaliteit is deur die navorsingsmaatskappy Good Governance Africa (GGA) as die beste kleindorpse munisipaliteit in die Wes-Kaap, asook die beste munisipaliteit in die land aangewys.

Dit is volgens die bestuursprestasie-indeks (BPI) vir 2024, wat deur die GGA uitgereik is. Die Kaapstadse metro is boonop aangewys as die metro met die hoogste posisie in bepaalde GPI-kategorieë.

Hierdie indeks het data oor verskeie kategorieë in ag geneem, wat die meeste gewig en oorweging gegee het aan die kernmandaat van kleindorpse munisipaliteite. Die kategorieë behels dienslewering, beplanning, monitering en evaluering, leierskap, bestuur en administrasie.

In 2021 se indeks was 13 van die 20 topmunisipaliteite in die Wes-Kaap. Dit het in 2024 tot 15 gestyg. Die Wes-Kaap het ook die hoogste telling (4,3) van al die provinsies behaal. Dié provinsie is die enigste met ʼn telling van 4 of meer in al vier kategorieë waarin munisipaliteite beoordeel is

Die Swartland-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas, sê: “Dit is ʼn ongelooflike erkenning vir ons hele munisipaliteit asook die gemeenskap. Dit wys dat ons toewyding aan goeie bestuur en ons kernfunksie dividende lewer.”

Volgens Cleophas is hierdie erkenning ʼn bewys dat suksesvolle regering die resultaat is waar goeie regering en harde werk die leidende beginsel is, ondanks die uitdagings.

Cleophas bedank alle amptenare, raadslede en die gemeenskap vir hierdie erkenning.

“Dit is werklik ʼn samewerkingspoging, met almal wat hul rol speel. Wat ons doen, is vir die verbetering van die gemeenskap wat ons dien. Ons is verheug om erkenning te kry vir ons toewyding om nie net die Swartland nie, maar Suid-Afrika as geheel te verbeter,” voeg Cleophas by.

Die Kaapstadse metro beklee ook die topposisie vir ekonomiese ontwikkeling. Dit is bepaal deur die mees onlangse syfers van StatsSA te gebruik. Hiervolgens het Kaapstad sy laagste algehele werkloosheidsyfer in Suid-Afrika gehandhaaf, met 363 000 nuwe werksgeleenthede wat geskep is sedert die nuwe munisipale administrasie in November 2021 aan bewind gekom het.

Volgens die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, is ʼn goeie regering die grondslag van ʼn werkskeppende ekonomie en beter dienslewering, veral vir die mees kwesbares.

“Die feit dat Kaapstad weer as die beste metro in hierdie mees onlangse opname geplaas is, bied optimisme terwyl ons aanhou werk aan ons doelwit om ʼn stad van hoop te vestig deur meer mense te help om uit armoede te ontsnap en werk te kry,” sê Hill-Lewis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jo-Anne ·

Natuurlik sal hulle uitblink. Kyk wie is in beheer teenoor die res van die land wat soos ashope lyk en ruik.

Michael ·

Dit wys weereens wat die gevolge is van bevoegde mense in die regte poste.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die African Nationalist Congress het Pandor aangewys as hul WK premierskandidaat. Nou weet julle waarom ons moet afstig. Pronto.

Cassie Carstens ·

Veels geluk Swartland en Kaapstad, asook ander munisipaliteite. Hou net so aan. Wees trots op julleself!

Gaitsigubib ·

Die ANC se onvermoe word hier bewys. Doen so voort DA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.