Wes-Kaap-brande: Name van oorledenes bekend

Maandagaand, 29 Oktober in die George-omgewing. Foto: Facebook via Bitou Fire Association.

Die verwoestende brande in die Wes-Kaap woed steeds onverpoos voort.

Die dodetal van dié brand het intussen tot agt gestyg. Twee volwassenes en ses kinders onder 12 jaar oud is dood.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het die oorledenes as Elsabe Windvogel (42), Ethan Windvogel (2), Eljade Windvogel (12),  Andrea Bewee (21), Nalaya Oelf (5), Niah Oelf (3), Aliyah Oelf (13 maande) en Nalani Oelf (11 maande) geïdentifiseer.

Die polisie doen geregtelike doodsondersoeke.

Pojie het ook laat hoor die polisie het ʼn ondersoek van stapel gestuur na die oorsaak van die brande.

Teen 12:50 was die N2 tussen die Tsitsikamma-tolhek en die Stormsrivierbrug gesluit weens veldbrande in die omgewing.

Teen 09:00 vanoggend is nagenoeg 1 000 mense reeds uit die Karatara-omgewing naby Knysna na veiligheid gebring asook honderde uit die westelike deel van Rheenendal.

Die brand in die Karatara-omgewing was volgens die Tuinroete-munisipaliteit teen 11:00 nog nie in bedwang nie en die meeste hulpbronne is daar ontplooi. ʼn Plaas in Ganzekraal het Maandagaand onder die brand deurgeloop en daar was om 11:00 steeds ʼn drie kilometer lange aktiewe brandlyn in dié omgewing.

Die munisipaliteit sê die veiligheid van die publiek, nooddienswerkers en die beskerming van infrastruktuur is die hoofprioriteit. “Die hooffokus van die spanne is om die verspreiding van die veldbrand buite die bestaande brandlyne te verhoed,” het die Tuinroete-munisipaliteit in ʼn verklaring gesê.

Die ou tolhuis in George is onder die talle huise, strukture en plantasies wat in die slag gebly het tydens dié brand.

Die George-munisipaliteit het om 13:00 gesê hoewel die Outeniekwapas weer oopgestel is vir motoriste is daar steeds aktiewe brandlyne. Spanne op die grond is besig met opruimingsbedrywighede en noodvoertuie beweeg deurentyd tussen die aangetaste gebiede.

“Mense word gevra om nie te stop en foto’s te neem nie aangesien hulle hulself en die brandpersoneel in gevaar stel.”

George-munisipaliteit het om 12:00 bevestig alle staproetes in die Outeniekwaberge is steeds onbepaald gesluit weens die brande.

“Ons het berigte ontvang van mense op die staproetes wat foto’s neem. Ons vra almal om hulself asseblief daarvan te weerhou om die roetes te gebruik, ter wille van hul eie veiligheid, asook om nie brandbestryders van hul onmiddellike pligte weg te neem nie.”

Robinsonpas is intussen weer oopgestel vir verkeer.

Skenkings van die publiek, groot maatskappye en instansies stroom intussen in vir die brandbestryders.

Die Tuinroete DBV het om 14:00 gewaarsku Knysna is ook in gevaar van erge brande en skade. “Asseblief, ondersteun Knysna Animal Welfare (KAWS). Ons neem vir hulle kos en bring diere terug sodat hulle plek het vir meer.”

Kos en voorraad kan ook by die DBV afgelaai word. Besoek gerus hul Facebook-blad vir ʼn lys van dringende benodigdhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Genieve ·

My hart se trane loop vir hierdie mense wat so moes sterf baie sterkte aan die naas bestaandes.

Alida ·

DJ het jy al iets geskenk afgesien van waar George gelee is. Word groot asb.

Alida ·

Penellope sommige mense voel niks vir tragedies nie. Dit is hartverskeurend en tragies. Prys die Here vir al die helpers en skenkings.

Ann ·

Ons bly in Knysna en om net weer daai stres te herleef was ‘n nagmerrie. Sterkte aan die familie, Elsabe is een van my klaskinders se tannies. Dis hartseer!

BITTER HARTSEER ·

My hart breuk!!! daai arme kindertjies. en die mamma….. ek dink dis verskriklik om so te moet sterf. sterkte vir families.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.