Wes-Kaap brande: Polisie ondersoek brandstigting-beweringe

Brandbestryders by die Du Toitskloof-brand. Foto: www.sullivanphotography.org

Brandbestryders by die Du Toitskloof-brand. Foto: www.sullivanphotography.org

Die Wes-Kaapse polisie het Donderdag gesê hy verneem met kommer van aantygings op verskeie sosialemediaplatforms wat beweer sekere individue is verantwoordelik vir van die verwoestende brande wat in die provinsie woed.

Maroela Media het by die polisie navraag gedoen, nadat minstens twee stemboodskappe aan die lig gekom het van mense wat aandui hulle het gesien hoe brande gestig word.

Lt.kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie neem kennis van die aantygings.

“Mense, geklee in politieke drag, is glo gesien toe hulle die brande in die Paarl-omgewing gestig het. In reaksie hierop het die polisie ʼn ervare speurder aangewys om al die bewering te ondersoek om agter die kap van die byl te kom,” het Traut geantwoord.

Hy het gesê sodra die ondersoek afgehandel is, sal die polisie die uitslag daarvan bekendmaak.

Traut het ʼn beroep op die publiek gedoen om met inligting na vore te kom wat die polisie kan bystaan oor die oorsaak van die brande en as hulle verdagte optrede sien. Mense word aangeraai om hul naaste polisiestasie te bel, of Crime Stop by 08600 10111.

“Inligting wat met die polisie gedeel word, sal baie help met die ondersoek en sal hoogs vertroulik hanteer word. Ons wil mense waarsku dat brandstigting ʼn ernstige strafbare oortreding is.”

James-Brent Styan, woordvoerder Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Donderdag aan Maroela Media gesê behoorlike ondersoek na die oorsprong van die brande kan eers gedoen word as dit geblus is.

“Ons is nog besig om al die brande te bestry, want dit is nou die belangrikste. Die ondersoeke oor die oorsake daarvan gaan beslis gedoen word en is ʼn prioriteit, want dit sal bydra tot voorkomende optrede in die toekoms.”

Styan het ook ʼn beroep op mense gedoen om verdagte optrede onmiddellik by die owerhede of polisie aan te meld. Hy het gesê Donderdag se probleemgebiede is steeds die Paarl, Stilbaai en Tulbagh.

Colin Deiner, hoof van die provinsie se rampbestuursentrum, het Donderdag gesê die sentrum neem kennis van verskeie berigte wat beweer die oorsaak van die brande is brandstigting.

“Geen gerugte is egter bevestig nie. Geen vlieëniers het tot op datum enige verdagte optrede opgemerk nie. Inteendeel, sommige van ons baie bekwame brandbestryders dra heldergeel hemde en doen gekontroleerde voorbrande in sommige gebiede. Die publiek word versoek om versigtig te wees as hulle onbevestigde inligting oor beweerde verdagte optrede versprei,” het hy gesê.

Jeanne Boshoff, kommunikasiebestuurder van Agri Wes-Kaap, het aan Maroela Media gesê wat die brande in die Suid-Kaap aanbetref, is hulle bewus van vyf strukture en duisende hektaar dekriet en fynbos wat afgebrand en skape wat doodgebrand het.

“Ons is bewus van die klankopnames wat baie paniek saai en wat in hierdie stadium nie lyk of dit op enige feite gegrond is nie. Ons versoek dat mense met inligting dit eerder aan die owerhede of Agri Wes-Kaap rapporteer, sodat dit opgevolg kan word,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaanse Lugmag word ingespan om brandbestryders, wat tot die uiterste gerek is om minstens 19 veldbrande oor die Wes-Kaap heen te bestry, by te staan.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit by die Kaapstadse munisipaliteit, het Dinsdag gesê die vlaag brande is werklik verdag en spanne is aangewys om die oorsaak van die brande behoorlik te ondersoek, aangesien die moontlikheid dat die brande doelbewus gestig is, nie uitgeskakel kan word nie.

Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het die Somerset-Wes-omgewing Maandag besoek. Hy het gesê die brande is waarskynlik deur mense gestig en moet ondersoek word.

Enviro Wildfire Services, ʼn private onderneming wat forensiese ondersoeke oor brande doen, het intussen in ʼn verklaring gesê ʼn brandondersoektaakspan, wat bestaan uit lede van die polisie, die stad Kaapstad en Enviro Wildfire Services, is op die been gebring.

“Die ondersoek na die oorsaak van die verskillende brande oor die afgelope paar weke vorder goed. Die taakspan het Woensdag vir die eerste keer vergader. Opdaterings en inligting met betrekking tot die oorsake van die brande, belonings wat aangebied word en inhegtenisnemings, sal deurgegee word, soos en wanneer dit geskik is,” lui die verklaring.

Brande en verdagte optrede kan by die volgende nommers aangemeld word:

  • Kaapstad – 107 (vanaf ʼn selfoon) of 021 480 7700 (vanaf ʼn landlyn)
  • Overberg – 028 425 1690
  • Weskus – 022 433 8700
  • Eden – 044 805 5071
  • Sentraal-Karoo – 023 414 2603
  • Kaapse Wynlande – 021 887 4446

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mareli ·

Het dit al van te vore gebeur dat 19 verskillende brande spontaan/ per ongeluk begin?

Karma ·

Terwyl dit moontlik kan wees dat Rampbestuur se werkers, in hul geel T-hemde, besig is om voorbrande te maak in die Wes-Kaap se berge/veld, is daar berigte dat die mense wat die brande gesien stig is, inderdaad nie geel hemde gedra het nie, maar rooi …..

Ek dink daar is tog gewig aan die storie dat politieke elemente besig is hier in die Wes-Kaap met hul voorneme (en dreigemente) om die Wes-Kaap onregeerbaar te maak. Juis net voor die Kersseisoen het ek 100’e Oos-Kaap taxi’s wat tjok-en-blok volgelaai was met reisendes en hul bagasie opgemerk wat in die provinsie ingekom het. Net ná Kersfees? Weer streep-op-streep Oos-Kaap taxi’s: dolleeg oppad terug Oos-Kaap toe. Laat mens wonder: begin sekere politieke elemente voorbrand maak vir tussen-tydse verkiesings en die groot verkiesing van 2019?

TDW ·

@karma jy slaan die spyker op sy kop. Hulle bring nommers in om die ras wat vir DA stem minder belangrik te maak deur die ras wat vir die ANC/EFF stem meer te maak. Hulle probeer al baie lank om dit te doen, nou bring hulle die mense in met beloftes wat eintlik leeg is, maar die mense weet dit nie. Hulle skuif nou hul pionne.
Daar is ‘n hele paar mense wat alreeds brandstigting ingebel het, maar die regering probeer dit stilhou. Die agteraf maneuvers van die regering ken geen perke. As jy iets sien bel dadelik die Agri Wes Kaap. So kan jy seker wees dat die klagte op die boeke kom.

Cherokee ·

Hoe lyk politieke drag? Of is dit dalk kultuurdrag? En wat is die meervoud van bewering? Is dit bewerings of beweringe? Eersgenoemde klink net lekkerder op die tong.

andrea van vuren ·

Politieke drag kan wyd verklaar word. ‘n T hemp met groen geel en swart strepe, of ‘n rooie of oranje blanje blou… laasgenoemde sal NOOIT sulke brande stig nie. Brandstigting is nou ‘n nuwe tendens om ons land tot in die grond af te brand. Die probleem is, hulle gaan saam met ons honger ly.

Dwaas ·

Dwaas dwaas, sal boer wat sy sout werd is nie die verskil weet tussen geel hempie en rooi hempie ens. Mense jy weet en ken die mense van jou destrik vuurslaners het uniforms aan! Brandstigters het hempies aan werklikwaar dis nie moeilik nie!

Reinhardt ·

Voorbrand terwyl brande woed?
Ondersoek gaan gedoen word om toekomstige brandstigting te verhoed?
Ondersoeke moes reeds afgehandel wees want die toekoms is GISTER…

En moet dit in vadersnaam nie op kinders blameer nie. Kinders doen snaakse goed in opdrag van ander. Veral as daar ‘n beloning gekoppel is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.