
Twee van die gelukkige brakke wat ‘n veilige huis gekry het. Die foto is deur hul eienaar, Cathryn Reece, geneem.
Twee video’s volg onderaan die berig.
Twee van die grootste dierebeskermingsorganisasies in die Wes-Kaap is ingelig dat hulle binne drie maande moet trek om plek te maak vir lae-inkomstebehuising.
Susan Harris Jones, ʼn direkteur en woordvoerder van die Uitsig Animal Rescue Centre, het Woensdag aan Maroela Media gesê dié geregistreerde nie-winsgewende organisasie en die Lucky Lucy Foundation, huur tans 12 hektaar grond op die Uitsig-plaas 40km buite Kaapstad.
“Die eienaars wat die grond aan ons verhuur het, was geweldig vrygewig en het vir ons die grond teen ʼn goedkoop tarief laat huur sedert ons in 2009 gestig is,” het Harris Jones gesê. “Ongelukkig is die planne vir die lae-inkomstebehuisingskema al lank op die tafel, en hulle het ons drie maande kennis gegee om ʼn ander heenkome te vind. Ons respekteer die besluit en daar is geen kwade gevoelens nie. Ons besef ook dat lae-inkomstebehuising broodnodig is. Ons sal alles in ons vermoë doen om fondse in te samel sodat ons ons eie grond kan koop en ʼn nuwe heenkome vir die diere wat ons versorg, kan vind. Opgee is nie ʼn opsie nie!”
Uitsig Animal Rescue Centre versorg ook diere van ander diereorganisasies op hul perseel. Dié organisasies sluit Fisantkraal Animal Welfare, Adopt a Pet, Western Cape Husky Rescue en die Animal Rescue Team in.
Die Lucky Lucy Foundation is op dieselfde perseel, maar die organisasie word onafhanklik bedryf met sy eie werkers wat na die diere omsien.
Tussen die twee organisasies sorg hulle tans vir ongeveer 780 diere wat katte, honde, perde, varke, ʼn bokke, ʼn donkie, hase en hoenders insluit.
“Ons organisasie glo nie daarin om diere van kant te maak as daar nie vir hulle ʼn huis gevind kan word nie,” het Harris Jones bygevoeg. “Ons sal slegs ʼn dier uitsit as dit baie siek en in pyn is, of as ʼn kwaai hond nie gerehabiliteer kan word nie. Die diere leef hier in een groot familie. Hier is nie sementhokke nie; hulle het groot grasperkhokke waarin hulle heerlik kan baljaar, wurms kan uitgrou en vlinders kan jaag,” het sy bygevoeg.
Die organisasies werk ook saam met ander dierebeskermingsorganisasies om mense in informele nedersettings en agtergeblewe areas oor diereversorging op te lei, diere van mediese behandeling in die gebiede te voorsien en massa-sterilisasies uit te voer.
“Ons word oorweldig deur die publiek se ondersteuning, maar ons gaan nog baie geld benodig as ons ons eie perseel wil koop,” het sy verduidelik. “Ons wil ons eie grond hê sodat ons nie weer in die toekoms hoef te skuif nie. Ons wil ook ʼn selfsorgsentrum op die been bring, sodat ons nie te veel afhanklik is van donasies nie.”
Die organisasie het ʼn projek van stapel gestuur waar die publiek ʼn baksteen kan koop vir die oprig van die nuwe sentrum. Besoek die webwerf by www.uitsig.org.za of Facebook-blad vir meer inligting.
http://youtu.be/RM3msBxQUE0
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
5 Kommentare
Opregte dank met wat julle doen – julle is die stem van diere. Ek hoop uit die diepte van my hart dat daar ‘n engel oor jul pad sal kom, en dat die deur wat nou toegemaak is, sal lei na ‘n volgende oop deur. Dis te DIERBAAR – “Die diere leef hier in een groot familie.” ! Dankie ook dat julle nie voor die voet ‘n dier uitsit nie, maar slegs in siekte, pyn en lyding. Vanaand, as ek huistoe gaan en voor my hek stilhou, sal my honde en katte my nogmaals stertswaaiend en met ‘n skuur teen… Lees meer »
Gaan maak asb n skenking as jy kan:
http://gogetfunding.com/project/the-lucky-lucy-project#.UzrVmzjeEbQ.facebook
Hierdie 2 organisasies is Engele “walking this earth”!!! Ons is bevoorreg om 2 honde (onse wackapoodles…geensins familie van n poodle) by Uitsig te kon aanneem en hierdie 2 organisasies te kon besoek!!!! Hulle is “heaven” vir hierdie diertjies wat deur MENSE mishandel of net “discarded” is en nie deur die laagste inkomste groepe nie mense; deur mense uit “gegoede buurte” waar Kitty nou “oorbodig en stout” is en Wagter by die hek uitgehol het en Boetie en Sus vir 3 dae gesoek het en toe besluit het om n nuwe cute baba Wagter te koop. Diertjies wat net so gelos… Lees meer »
Elke bietjie help! sms LUCY na 48899 om R10 te skenk.