Wes-Kaap gee miljoene om sprinkane te bestry

Die sprinkane teister boere in veral die Noord-, Oos- en Wes-Kaap. (Foto: WC Dept of Agriculutre/Twitter)

Die departement van landbou in die Wes-Kaap het R5 miljoen beskikbaar gestel om die sprinkaanplaag te help pak.

Persoonlike beskermende toerusting, spuitpompe en lugbespuitingsteun sal aan spanne verskaf word wat help om die swerms in bedwang te hou.

Die sprinkane teister boere in veral die Noord-, Oos- en Wes-Kaap al maande lank.

Die Wes-Kaapse departement sê die bekamping van die plaag is van sleutelbelang vir voedselsekerheid en om werksgeleenthede in landelike gebiede te beskerm.

“Die aantal sprinkane het enorme druk op ons boere in die Sentraal- en Klein-Karoo geplaas, waaronder die nuwe gebiede waarheen dit gemigreer het,” sê die departement.

Vrugte- en wynkommoditeitsgroepe is onder erge druk, met sprinkaanswerms wat na die Calitzdorp-, Ladismith- en Oudtshoorn-gebied migreer.

Dele van Swellendam en Barrydale, wat bekend is vir hul weivelde, kleingraangewasse en vrugte, word ook nou deur die swerms bedreig.

Nasionale wetgewing vereis dat provinsies ʼn aktiewe rol speel om migrerende plae te bestuur en ʼn ramp af te weer.

Ivan Meyer, LUR van landbou in die Wes-Kaap, sê die departement werk saam met sy sektorvennote, die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, asook distriksmunisipaliteite, aangewese distriksprinkaanbeamptes en die provinsiale rampbestuursentrum.

ʼn Gesamentlike operasionele komitee oor sprinkane is geaktiveer en ʼn 24-uur-aksieplan is ingestel wat sal geld tot die plaag in bedwang gebring is.

“Ek het ook ʼn beroep op die minister van landbou, Thoko Didiza, gedoen om bykomende ondersteuning te verleen terwyl ons die huidige plaag beveg,” sê Meyer.

“Ons sal voortgaan om met belanghebbendes saam te werk om ʼn blywende oplossing te vind om die landbousektor in die Wes-Kaap te beskerm. Dit sluit in skakeling met die Oos- en Noord-Kaap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

Ek spook al jare met die vraag. Hoekom word die gratis proteine nie geoes nie. Ekologies is dit nie eers debateerbaar nie. Dit kan waarskynlik met suigpomp of op ander slim maniere geoes word. Dit is voedsaam en kos vir mens en dier en die natuur skenk dit gratis. Gaan leer by uganda wat om te doen. Ons het genoeg werkloses om die werk te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.