Wes-Kaap: George- en Karatarabrande het saamgesmelt

Vroeër vandeesweek in die George-omgewing. Foto: Verskaf.

“Ek sal nie sê ons het hom verloor nie, maar om hom onder beheer te kry gaan nog ʼn rukkie neem.”

So sê Colin Deiner, hoof van rampbestuur en brandweer in die Wes-Kaap, Woensdagoggend aan Maroela Media.

Deiner het gesê die George‑brande in Herbert en die Karatara‑vure het gekombineer tot een vuur.

ʼn Reuse-oppervlak, sowat 68 000 ha, het al gebrand.

“Die brand het twee ‘koppe’ gemaak. Die een is by De Vlugt in ʼn noordelike rigting en die ander een loop deur die Keurboomsrivier,” het rampbestuur gesê.

ʼn Vergadering sal vanoggend belê word om skade aan infrastruktuur en in die algemeen te bepaal.

Die Tuinroete-munisipaliteit het teen laatmiddag boere in De Vlugt gewaarsku om hulle vir ontruimings voor te berei. Volgens Deiner was dit in dié stadium nog nie nodig om die ontruimings te doen nie.

Maandagaand, 29 Oktober in die George-omgewing. Foto: Facebook via Bitou Fire Association.

Deiner meen die wind is vanoggend gunstig, om en by 15/16 km/h, maar gaan vanmiddag weer optel na tussen 20 – 30 km/h. “Vir nou is die ouens tevrede om te vlieg.”

Deiner het ook gesê spanne sal terug na George se kant toe gestuur word, net om seker te maak alles is daar onder beheer aangesien die windrigting na verwagting môre weer sal draai. “Daar is nog baie ‘hotspots’ wat steeds brand en ons wil net seker maak dit is nie môre ʼn probleem nie,” het Deiner gesê.

Intussen het die brandweer in George ’n dringende beroep gedoen op die publiek om skenkings te doen aan die brandbestryders aangesien hul voorraad min is. Hulle het spesifiek klein botteltjies water (nie 5ℓ nie), sap, Energade, lipsalf, oogdruppels, Vaseline, wet wipes, Rehydrate, sjokolade, energiestafies, Bar One sjokolade en vrugte soos appels of piesangs nodig.

Donasies kan by die brandweer in Mitchellstraat afgelaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oujongvrou ·

My hart so seer oor die vernietiging. Brandweer mense verdien medaljes. Wens ek was nader om voorraad te bring. Is daar nie bankbesonderhede waar mens maar geld kan insit, dan kan die hoof die goedjies gaan aankoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.