Wes-Kaap: Kommer oor prys van gebottelde water

Argieffoto

Die parlementêre portefeuljekomitee vir handel en nywerheid het Woensdag sy kommer uitgespreek oor “gewetenlose handelaars” wat glo die prys van gebottelde water verhoog het om na bewering te baat by die droogtekrisis wat die Wes-Kaap in die gesig staar.

Joanmariae Fubbs, voorsitter van die portefeuljekomitee, het in ʼn verklaring gesê die komitee beoog om Rob Davies, minister van handel en nywerheid, en die Nasionale Verbruikerskommissie by die saak te betrek deur te versoek dat die prys van gebottelde water tydelik gevries word.

Fubbs het gesê wanneer die droogtekrisis in die Wes-Kaap in ag geneem word, is enige prysverhoging van gebottelde water “uitbuiting”.

“Die huidige prysverhoging vir gebottelde water deur sommige gewetenlose entrepreneurs kom neer op uitbuiting van die armes en die mees kwesbare inwoners, en dit verteenwoordig boonop nie waarvoor die Grondwet staan nie,” het sy gesê.

Sy het gesê Fubbs en die Verbruikerskommissie moet vinnig optree om te verseker dat sulke “onregverdige sakepraktyke” nie suksesvol sal wees nie.

Die ANC én die DA het intussen ook hul stemme by die debat gevoeg en vir “ingryping” geëis.

“In beginsel vra ons vir ingryping sodat iets gedoen kan word om te verseker dat die gewone prys van gebottelde water nie verhoog word sonder dat die verbruikers, veral die mees kwesbares, in ag geneem word nie,” het Adrian Williams van die ANC gesê.

Ghalieb Cachalia, DA-LP, het gesê maatreëls moet in plek gestel word om te verseker dat sulke “onregverdige handel” nie die armstes benadeel nie.

Die DA het Dinsdag aangekondig dat Dag Zero, met verwysing na wanneer die stad se krane amptelik leeg sal loop, met vier dae aangeskuif is tot op 16 April danksy Kapenaars se waterbesparingspogings die afgelope paar dae.

Volgens Mmusi Maimane, leier van die DA, is die stad se daaglikse watergebruik van 580 miljoen ℓ tot 540 miljoen ℓ verminder. Hy het gesê die stad sal Dag Zero moontlik heeltemal vryspring indien die daaglikse watergebruik tot 450 miljoen ℓ per dag verminder word.

Kaapse gesinne sal vanaf Donderdag met so min as 50 ℓ per persoon per dag oor die weg moet kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

PJC ·

Sal ń goeie ding wees as die prys van bottelwater vasgepen kan word. Ons weet mos almal dat besighede soos gewoonlik die situasie gaan probeer uitbuit.

Lynne ·

Is dit nie die Regering se verantwoordelikheid om gebottelde water te voorsien nie? Water is ‘n basiese reg!

gatiep ·

Seker nog ons eie Kaapse water ook nog wat hulle verkoop aan ons.
Nestle se eienaar glo nie dis n mens se reg om water te he nie.

Marinda ·

Die mense behoort hulle te skaam om die situasie so uit te buit. Kan die prys van die gebottelde water nie in die media geadverteer word nie.
Ek dink ook aan die armes wat nie kan bekostig om gebottelde water te koop nie.

Ek bid met alles wat in my is dat die reën binnekort sal val en verligting sal bring aan die situasie. Ons moet net glo en vertrou. Sterkte aan almal wat deur die droogte geraak word.

Johan ·

Het R25 vir n 500ml valpre betaal by n restaurant in Desember. Het n 5L kan laat volmaak by een van die water winkels en R12 vir dit betaal. Hoe verduidelik mens dit?

Anoniem ·

Daarsy, hoe meer ek dit sê hoe minder wou mense dit glo en daar het ons dit nou! BEPERK MAATSKAPPYE WAT GEBOTTELEERDE WATER VERKOOP!!!

Walter ·

Skynheiliig is hulle, hulle praat oor gebotellde water pryse. In die selfde tyd probeer hulle die WATER BY-LAW deur te druk. N ondeurdagte wet teen al die burgers wat property het om meer geld uit die sakke te ruk.

Jacobus ·

Maroela, sien asb. paragraaf 8; hoekom sal Ghalieb Cachalia DA-LP sê dat die armstes benadeel moet word, moet dit nie lees “nie benadeel word”

Groete.

Tania Heyns ·

Dagsê Jacobus

Dankie vir jou valkoog, ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Eish ·

Wat is n gewetenlose entrepreneur?
Wat is n billike winsmarge?
Hoe verdiskonteer jy die gewetenlose entrepreneur se arbeid en onkoste om die water te bekom en versprei?
Hoe regverdig jy groot besighede soos Pick n Pay en ander se Rabatte wat die entrepreneur sonder moet klaarkom?
Daar gaan waterkollekteerpunte wees, daar is voldoende kompetisie tussen die groot supermarkte.
Niemand is verplig om by die gewetenlose entrepreneur te koop nie.

susan ·

Dit is regtig vreeslik hoe mense geld wil wurg uit mense wat reeds gebuk gaan oor kommer en dors. GEWETENLOOS.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.