Wes-Kaap kry dalk minder onnies, dokters oor sensus

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: StatsSA)

Wes-Kaapse inwoners kan moontlik duisende minder dokters, verpleegsters en onderwysers tot hul beskikking hê indien meer inwoners nie binnekort aan die 2022-sensusopname deelneem nie.

Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het vroeër sy kommer oor die stand van sake uitgespreek, maar het opnuut besluit om inwoners met harde feite aan te moedig om hulle te laat tel.

Met net nege dae tot die sensusopname in die Wes-Kaap tot ʼn einde kom, het meer as 60% van die inwoners in dié provinsie hulle al laat tel, terwyl die gemiddelde getal in die res van die land op 88% staan.

ʼn Peiling wat Maroela Media verlede week onder lesers gedoen het, wys dat ʼn skrikwekkende 44% van lesers nié aan vanjaar se sensus gaan deelneem nie, aangesien hulle nie hul inligting met die regering wil deel nie. Meer as 10 000 lesers het aan die peiling deelgeneem.

Die oorblywende 56% het gesê dat hulle óf reeds getel is óf getel sal word as ʼn sensus-opnemer aan hul deur klop.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA), wat vir die sensusopname verantwoordelik is, het verlede maand aangekondig dat hy die sperdatum vir inwoners van die Wes-Kaap om deel te neem aan die 2022-sensusopname met twee weke verleng het, aangesien dit tóé reeds geblyk het dat min huishoudings al deelgeneem het, in vergelyking met ander provinsies. Die opnames sal nou op 14 Mei tot ʼn einde kom.

Sou net 70% van Wes-Kaapse inwoners in die 2022-sensusopname getel word, kan die provinsie broodnodige befondsing verloor waarmee altesame 1 615 dokters, 5 981 verpleegster en meer as 9 300 onderwysers in diens geneem sou kon word. Dit volgens benaderde projeksies deur die Wes-Kaapse provinsiale tesourie.

“As dit sou gebeur, sal dit die gehalte van gesondheidsorg- en onderwysdienste wat ons bied, ernstig ondermyn in ʼn tyd waarin die vraag na dienste al hoe meer druk,” sê Winde.

In terme van geld, sal die Wes-Kaap altesaam R9,7 miljard verloor, of meer as 16% van sy provinsiale aandeel, as net 70% van inwoners getel word.

“Dit sal R2,6 miljard van ons gesondheidsbegroting en R4,2 miljard van ons onderwysbegroting wegvat, met kleiner departemente wat ook verliese sal ly.

“Dienslewering in die Wes-Kaap sal dus oor die algemeen ʼn groot knou kry as inwoners nie seker maak hulle word getel nie.”

Winde het gesê hy is bekommerd oor die min dae wat oor is, aangesien baie mense nog getel moet word om by 70% van die provinsiale bevolking uit te kom. “Hoewel ons toenames gesien het in die aantal mense wat getel word, bly die getalle steeds te laag.”

Winde het Wes-Kapenaars opnuut aangemoedig om deel te neem aan die sensusopname  of om die sensusvraelys aanlyn in te vul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Petrus Albertus ·

Ek dink Maroela se opname spreek boekdele, dalk moet Premier Winde tog poog om dit onder die regering se aandag te bring dat die burgers nie die staat genoeg vertrou om selfs eers aan ‘n sensus deel te neem nie.

Manie ·

Ek het nog bloedweinig sensus opnemers hier rond gesien, sit seker weer onder die koelte bome of by Kentucky.

Karel Kobus Kruger ·

Dit gaan nie vir my oor vertroue nie. Ek stel net GEENSINS belang in wat enige politieke party (ANC, DA, VF, noem maar op) dink, sê of doen nie.

Manie ·

Korrek, sedert wanneer is dit my plig om myself te tel? Dalk die regering se manier om die Wes-Kaap fondse moedswillig te sny, want dinge werk mos nog hier?

Johan D ·

Ek is geensins verbaas nie, in die area waar ons bly het ek net een dag twee opnemers hoor raas en gesien sit en daarna nie weer nie! In daardie tyd het nie een van die twee by huise aangeklop nie!
Ek sit elke dag vir lang tye op my voorstoep dus weet ek dat hierdie area geen of bitter min aandag geniet het!
Die elektroniese opname was ook vroeg gesluit en bitter min mense weet dat dit weer oopgestel is!
Ek mag verkeerd wees maar dit klink so al asof dit so beplan was!

Manie ·

Ditto! Dinge werk mos hier, so sny die befondsing, dan kan dit ook agtergeblewene raak.

Jaco ·

Regte catch 22 situasie: Neem jy nie deel nie, is daar minder dokters en polisie. Neem jy wel deel, word jou besonderhede oor ‘n jaar of twee vir radikale ekonomiese transformasie en onteiening sonder vergoeding gebruik

Marius ·

Het nog nie ‘n sensus beampte in sig gehad nie. Lê seker êrens onder ‘n boom en slaap.

Jedi Knight ·

As jy weet jy het net 70% getel, deel jou antwoorde deur 7 en maal met 10 om die geprojekteerde resultate vir 100% te kry.

Mieke ·

Hier het nog geen sensus amptenaar by ons opgedaag nie! Ek sien dit as die regering se verantwoordelikheid om ‘n ordentlik sensusopname te doen. Swak beplanning en swak toesig.

capie ·

Kry die Weskaap onafhanklik en dan begin ons praat. So werk dit mos in “nuwe Suid Afrika”

DieKriek ·

Miskien as die opnemers hulle werk doen, sal mense getel word. Daar was geen opname in my gebied nie.

Swerwer ·

As Binnelandse sake se stelsel korrek hanteer is en bevoegde personeel in die regte poste aangestel was, sou dit baie maklik gewees het om die regte inligting tot hul beskikking te hê, en geen sensus van stapel gestuur te gewees het nie. Die Regering moet ophou om hul onbevoegdheid te gebruik as verskoning tot hul kommunistiese besluitnemings. Ongelukkig met al die bedrog en onbevoegdheid van staatsamptenare sal geen inligting van hierdie land ooit korrek wees nie.

Althes ·

Ek kom net tot by Migrasie waar ek ons huishouding se name insit aanlyn. Ek probeer telkemale die next knoppie druk,maar sonder sukses kan ek klaar registreer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.