Wes-Kaap laat ook sy stem hoor oor Covid-19-strategie

Blommeverkoper Faldielah Gamieldien by die varsblommemark in Kaapstad (19 Maart 2020) (Foto: Ian Landsberg/African News Agency/ANA)

Verskeie maatskappye in die Wes-Kaap het Maandag insette gelewer oor die regering se Covid-19-risikoaangepastestrategie.

David Maynier, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, het gesê sy departement was in gesprek met verskeie ekonomiese belanghebbendes in die provinsie om seker te maak dat die ondernemings se stemme gehoor word in die regering se versoek om insette te lewer oor die aangepaste strategie om Covid-19 te bekamp.

“Ons ondersteun steeds die landswye afsondering, maar dit is noodsaaklik dat, waar mense kan terugkeer werk toe, dat dit so vinnig as moontlik moet gebeur om seker te maak dat hul lewensbestaan volhou kan word en dat ons weer aan die ekonomie kan bou,” het Maynier gesê.

Sy departement het met 445 ekonomiese belanghebbendes (ondernemings en bedrywe in die Wes-Kaap) in gesprek getree, en meer as 40 voorstelle ontvang wat by die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) ingedien is.

“Ons het ook voorstelle by Cogta ingedien wat betref die voorwaardes, regulasies en insluiting van sekere ekonomiese aktiwiteit vir koronavirus-vlak 4,” het hy bygevoeg. “Hierdie aanbevelings neem die streng gesondheid- en veiligheidsmaatreëls in ag wat deur ondernemings ingestel sal word om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.”

Die voorgestelde wysigings aan vlak 4 sluit die volgende in:

  • Om ʼn getal landbou en ander produkte in te sluit vir uitvoere, soos wyn en hop, seiljagte en bote, enjinonderdele, plante en kruieprodukte en enige ander produkte wat in ander lande as noodsaaklik beskou word, asook die vervoer van ingevoerde produkte na pakhuise.
  • Om die konstruksiebedryf toe te laat om bedrywighede te hervat, veral waar daar minimale arbeid is en met die opsie om skofte te verdeel om seker te maak daar word voldoen aan sosiale distansiëring.
  • Om die vervaardigingsbedryf toe te laat om op 50% kapasiteit te werk waar dit veilig is om dit te doen en sekere sektore toe te laat om nagskofte onder die klokreël toe te pas.
  • Om ʼn getal bykomende bedrywe toe te laat om te hervat, veral dié bedrywe wat klein, medium en mikro-ondernemings en die informele bedryf sal toelaat om hul deure oop te maak, soos kwekerye, filmvervaardiging, spesialiteitswinkels soos bakkerye, slagters en gesondheidswinkels en droogskoonmakers en wasserye.
  • Om e-handel onder vlak 4 toe te laat, omdat dit sal beteken mense bly eerder by die huis in plaas daarvan om winkels te besoek.

Klik hier om die volledige dokument af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harold ·

Pragtig!!!!Amper te laat ,maar lyk my die lig begin nou deurkom ,van meer kante!
Hoop net vir ons mikro outjies en vrouties ,wat so uitgesluit word ,begin die finansiële lig ook uiteindelik skyn.

Chris ·

Ek stem Harold almal moet die reg he om te kan werk. bly by reels van maskers en als maar laat mense werk (wat wil werk)

Willem ·

My maggies die DA is nog hier . Dis goeie nuus hoop hulle gaan nou meer op die voorgrond wees

Hennie ·

Seiljagte en bote vir nóu ‘n noodsaaklike uitvoerproduk? Wat jy waar kry?

Marisa W ·

Daar is ‘n groot industrie in SA vir seiljagte en bote – as hulle nie kan uitvoer of hulle deadlines nakom nie is hulle ook in hulle tjops

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.