Wes-Kaap ly R800 miljoen verliese oor voëlgriep

hoenders

Foto: Klimkin/Pixabay.com

ʼn Uitbreking van voëlgriep in die Wes-Kaap beloop voorlopig tot produksieverliese van ongeveer R800 miljoen.

Alan Winde, LUR vir ekonomiese geleenthede, het in ʼn verklaring gesê daar is minstens 36 bevestigde gevalle van voëlgriep. Sewentig volstruisplase is onder kwarantyn geplaas en meer as 2 miljoen voëls is óf vrek of van kant gemaak.

“Die Wes-Kaap is die provinsie wat die ergste hierdeur geraak word. In sommige gebiede is pluimveevervaardigingsplase naby mekaar in ʼn spesifieke gebied geleë,” het hy gesê. “Die uitbreking het die Wes-Kaap in die Paardeberg-gebied getref, die streek met die hoogste konsentrasie pluimveeplase.”

Die LUR het gesê ʼn gesamentlike bedryfsentrum is ingerig om te reageer op die uitbreking en ʼn herstelplan, waar verskeie belanghebbendes betrokke is, word van stapel gestuur.

Anton Bredell, LUR vir omgewingsake, plaaslike regering en ontwikkelingsbeplanning, het gesê die provinsiale rampbestuursentrum lewer sy bystand “om die krisis te bestuur”.

“ʼn Groot deel waarmee ons besig is, sluit die welstand van die betrokke plaaswerkers in. Die departement van omgewingsake se vullisbestuureenheid verseker ook die veilige verwydering van karkasse op die betrokke plase.”

Die gesamentlike bedryfsentrum sal die nasionale rampbestuursentrum versoek om die uitbreking van die H5N8-voëlgriep ʼn provinsiale ramp te verklaar.

Quantum Foods het Maandag tydelik twee persele van die Lemoenkloof-plaas gesluit. Altesaam 17% van die groep se nasionale eierverskaffing word deur die voëlgriep geraak. Die maatskappy het gesê die uitbreking het plaasgevind ondanks streng bioveiligheidsmaatreëls wat by al sy plase ingestel is en het bygevoeg dat alles moontlik gedoen word om seker te maak die uitbreking word geïsoleer.

Die onlangse uitbreking van die virus is in Junie vir die eerste keer opgemerk. Die voëlgriep het deur Suid-Afrika versprei toe meer gevalle van die uitbreking in ses van die nege provinsies aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leahim ·

Die wes kaap gaan die laaste tyd van een ramp na die ander as dit nie brande is nie dan is dit die droogte en nou die voël griep my oupa het altyd gesê die rampe kom in drieë so hopelik is dit nou die einde van die ellende en die begin van voorspoed vir die beste provinsie in Suid Afrika

Boet Fasie ·

Hoop nie dit is ‘n KFC hoendertjie nie, gelukkig is hulle nie wit hoenders nie anders is hulle op hok gehou.

John ·

Wat doen hulle met die dooie hoenders aangesien dit glo nie mense aantas nie? Eet ons troeteldiere dit in verwerkte vorm of word dit opgekoop deur slinkse handelaars en in swart buurtes verkwansel? Wys asb vir ons hoe die vernietiging geskied. Tydens die varkgriep in Sjina is van die dooie varke in die naaste riviere gegooi. En die eiers? Word dit gebreek en dan, wat dan?

Fires ·

Baie snaaks dat dit nou skielik gebeur. Klink amper vir my asof dit moedswillig geplant word op sekere plase veral die Wes Kaap. Is dit dalk n manier om van boere op hul plase ontslae te raak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.