Wes-Kaap maak voorstelle vir internasionale toeriste

Argieffoto (Foto: Michał Parzuchowski/Unsplash.)

Die Wes-Kaapse regering het Woensdag ʼn alternatiewe benadering aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, gestuur om internasionale reise veilig te hervat sonder enige verwarring en onsekerheid.

David Maynier, provinsiale LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het gesê die risikogebaseerde benadering oor internasionale reise wat die nasionale regering verlede week vrygestel het, het onnodige verwarring veroorsaak in die reis- en toerismebedryf.

“Die huidige beperkings laat sakereisigers van hoërisikolande toe om Suid-Afrika te besoek indien hulle negatief getoets het vir Covid-19, maar nie vakansiegangers nie. Dit maak glad nie sin nie en dit is onregverdig. Daar is eenvoudig geen groter risiko gebaseer op die doel waarom jy reis nie, en tog is daar ʼn uiterste beperking op vakansiegangers na Suid-Afrika.”

Maynier het gesê internasionale markte is ʼn sleutel- ekonomiese drywer vir die toerismebedryf in die Wes-Kaap en dit is uiters noodsaaklik vir die bedryf se onmiddellike herstel om die grense aan vakansiegangers oop te stel, met streng gesondheidsprotokol.

Die Wes-Kaapse regering stel die volgende voor:

  • Raak ontslae van die risikogebaseerde model waarvolgens lande gekategoriseer word.
  • Vereis van alle reisigers om die uitslag van ʼn Covid-19-toets te verskaf met aankoms. Die toets moet minstens 72 uur voor hul aankoms gedoen wees.
  • Die toets hoef nie deur ʼn mediese praktisyn onderteken te wees nie (in talle lande word toetse deur ʼn laboratorium hanteer en die uitslag word elektronies uitgereik).
  • Vereis van alle reisigers om die Covid-19-app af te laai en die toeris-opspoor-vorm te voltooi wat die besonderhede van die reis uiteensit, insluitend akkommodasie en lengte van verblyf.
  • Monitor alle reisigers met aankoms by die lughawe deur gesondheidsbeamptes.
  • Indien ʼn reisiger enige simptome toon, sal hulle na ʼn toegewyde privaat toetssentrum verwys word by die lughawe (dit moet ingestel word), en dit sal geskied op die reisiger se eie onkoste. Dit sal voorkom dat openbare vervoer gebruik word om na toetsfasiliteite te reis en beperk dus die moontlike verspreiding van die virus.
  • Enige reisiger wat positief toets, sal vir 10 dae in kwarantyn moet bly by akkommodasie van hul keuse en op hul eie onkoste.
  • Papierlose prosesse moet dringend ontwikkel word vir alle visum-aansoeke en ander binnelandse sake-prosesse.
  • Maklike en eenvoudige toegang tot inligting op die regering se webwerwe en dit moet gereeld bygewerk word.
  • Sakereisigers moet toegelaat word om hul verblyf vir ontspanningsdoeleindes te verleng.

Maynier het benadruk die toerismebedryf maak ʼn groot bydrae tot die ekonomie en indiensneming in Suid-Afrika en die Wes-Kaap. Internasionale toerisme het in 2019 minstens R81,2 miljard bygedra in direkte buitelandse spandering in Suid-Afrika. Vakansiegangers van die Verenigde Koninkry, die VSA, Nederland en Frankryk maak die meeste gebruik van gunstige wisselkoerse en het ʼn hoë spanderingsmoontlikheid wat ʼn positiewe impak sal hê op die plaaslike ekonomie.

“Werkverliese sal na verwagting die ergste wees in die toerismebedryf weens die Covid-19-pandemie. Na raming word 75 000 poste onmiddellik bedreig en 43,1% van die bedryf word hierdeur geraak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Die Wolf ·

Om hierdie voorstelle te implimenteer sit nie in hulle broek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.