Wes-Kaap: Provinsiale rede gaan voort, sê DA

helen-zille-da-op-flickr

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap en voormalige leier van die DA. Foto: DA/Flickr.com

Die Demokratiese Alliansie het Woensdag gesê hy het ná “noukeurige oorweging” besluit dat dit “in die beste belang van die inwoners van die Wes-Kaap is” om steeds met die provinsiale rede voort te gaan soos daar aanvanklik beplan is.

Groot onsekerheid het geheers nadat die staatsrede wat Donderdagaand gelewer sou word, Dinsdag tot verdere kennisgewing uitgestel is. Baleka Mbete, speaker van die parlement, het die aankondiging Dinsdagmiddag voor die parlement gemaak. Volgens Mbete het die parlement gereed gemaak om ʼn versoek aan pres. Jacob Zuma te rig om die staatsrede uit te stel, toe hulle verneem het dat Zuma glo reeds in die proses was om dieselfde te doen.

Talle versoeke uit verskeie oorde om as president te bedank staar pres. Jacob Zuma in die gesig.

Mark Wiley, DA-hoofsweep, het gesê die DA-regering in die Wes-Kaap het ooreengekom dat die provinsiale rede wel in die beste belang is vir die provinsie – selfs al beleef die Wes-Kaap die ergste droogte sedert 1906.

“Dit is belangrik dat ons met die provinsiale rede voortgaan soos daar beplan is sodat die premier [Helen Zille] belangrike inligting oor die droogte kan deel,” het hy gesê.

“Ons is dit verskuldig aan die inwoners van die Wes-Kaap en ons kan nie gyselaar gehou word deur die ANC-faksievorming of deur ʼn president wat nie in staat is om ʼn onderskeid te tref tussen sy persoonlike belangstelling en die eed wat hy vir die mense van Suid-Afrika afgelê het nie.”

Wiley het gesê deur voort te gaan met die provinsiale rede, is dit duidelik dat die regering in die Wes-Kaap die belange van die inwoners bo di֖é van partye plaas. “Die provinsiale rede is nou – meer as ooit vantevore – van kardinale belang vir ons mense.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

Helen kan jy, De Lille en Thuli asseblief `n party begin? Julle sal enige dag my stem kry.
MM kan gaan vlieg ek stem nie vir daai wolf in jakkals klere nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.