Wes-Kaap se vyfpuntplan teen koronavirus

(Foto: CTICC/Facebook)

Die Wes-Kaap het ʼn vyfpuntplan teen Covid-19, het dr. Keith Cloete, provinsiale direkteur-generaal van gesondheid, Woensdag tydens ʼn virtuele parlementsitting gesê.

Hy het ʼn vorderingsverslag oor die provinsie se vordering teen die verspreiding van Covid-19 voorgelê op dieselfde dag as die Oos-Kaapse voorlegging, maar die Wes-Kaapse inset het baie meer besonderhede bevat.

Die vyfpuntplan is gedragsverandering, waarneming, kapasiteitsvermeerdering, fokus op Covid-19 bo ander siektes en die welsyn van gesondheidswerkers.

Met die hele Wes-Kaap ʼn brandpunt het die provinsiale regering besluit om wetstoepassing teen veral alkoholgebruik op te skerp. Die verbod op alkoholverkope en openbare alkoholgebruik het ʼn afname van sowat twee derdes in traumagevalle in Wes-Kaapse hospitale in die hand help werk.

Die Wes-Kaap het ʼn databesigtigingsprogram van wêreldgehalte wat ook vir die publiek toeganklik is op die webblad van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement en aan die parlementariërs vertoon is.

Intussen het die Wes-Kaap ook begin om rioolvuil vir Covid-19 in Kaapstad, die Overberg-distriksraad en die Breedevallei-munisipaliteit in Worcester te toets. Daaruit kan byvoorbeeld afgelei word dat virusgetalle afneem in Rawsonville, maar toeneem in Touwsrivier en De Doorns.

Hoewel die tweede golf infeksies dubbeld soveel as die eerste is, het Cloete gesê dit lyk asof die draaipunt na vermindering van gevalle tans bereik word, met die Tuinroete reeds oor die ergste, maar die Weskus wat dit nog moet bereik.

Die Wes-Kaap meet dit daaraan dat die reproduksiekoers van die virus nou minder as een is.

Hoewel die omvang van die tweede golf dubbeld dié van die eerste golf is, is die ouderdomsverspreiding volgens die Wes-Kaap se navorsing byna presies dieselfde as tydens die eerste golf.

Cloete het gesê die bewering dat meer jong mense as tydens die eerste golf nou siek is, is net omdat daar oor die algemeen meer mense siek is. Die gevaar bly die grootste in die ouderdomsgroep 60 tot 69 jaar.

Die gevaarlikste onderliggende siektes as bydraers tot erge koronavirusgevalle blyk suikersiekte en hoë bloeddruk te wees, met ouderdom ook ʼn belangrike bydraer. Tuberkulose en MIV/vigs is nie so erg bydraend nie.

Binne die Kaapse metropool blyk dit die noordelike stadsgebiede, die Weskusgebiede tot by Atlantis en die oostelike gebiede rondom Kuilsrivier, Brackenfell en Kraaifontein te wees wat die ergste deurloop onder die tweede golf infeksies.

Minder gevalle word in die Klipfontein-strook (Athlone en dele van die Kaapse Vlakte), Khayelitsha en Mitchells Plain aangeteken.

Ontledings van rioolvuil toon dat die Klipheuwel-gebied (Joostenbergvlakte), Wesfleur in Atlantis, Scottsdene, Kraaifontein en Zandvliet) ʼn groot voorkoms van Covid-19 het.

In die Wes-Kaap is daar genoeg hospitaalbeddens en plek in lykshuise om die tweede golf te akkommodeer, het Cloete gesê.

Die situasie het in so ʼn mate gestabiliseer dat 93% van hospitaalbeddens in die metro nou beset word, 61% in die George-streek, 74% in die Paarl-streek en 73% in die Worcester-streek.

Die ergste druk word tans in die Brackengate-gebied in die noordooste van die Kaapse metro ondervind, met die Khayelitsha-, Mitchells Plain-, Wesfleur-, Eersterivier-, Helderberg- en Karl Bremer-hospitaal ook redelik onder druk.

Kritieke sorg- fasiliteite in die Worcester-omgewing is ook onder druk

Geen staatshospitaal in die Wes-Kaap moes nog sluit nie, maar sommige private hospitale het al tydelik hul deure toegemaak.

Om aan te toon hoe Covid-19 die gesondheidsorglandskap in die Wes-Kaap verander het, het Cloete uitgewys dat die Wes-Kaap gewoonlik 12 ton suurstof per dag in sy staatshospitale benodig. Tans word 48 ton per dag in staatshospitale in die provinsie gebruik en in totaal 73 ton per dag. Die provinsie het tesame met die maatskappy Afrox sy storingskapasiteit vir suurstof na 300 ton opgestoot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanniepetoors ·

Ordentlike, insiggewende verslaggewing sonder om paniek te saai. Hoekom kan ander provinsies nie so optree nie. Ag toemaar, ek trek die vraag terug.

BOKKIEBEK ·

Dis vir my snaaks dat mense met suikersiekte en hoe bloeddruk erger geteiken word as mense met TB?? TB is dan ‘n longsiekte??? En is die siekte nie juis bekend dat jy asemhalings nood het met C19 nie? VREEMD…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.