Wes-Kaap-skole: Meer as 180 000 aansoeke reeds verwerk

(Argieffoto: ANA)

Ouers in die Wes-Kaap het slegs 16 dae oor om aansoek te doen vir toelating tot staatskole vir die 2022- akademiese jaar. Die provinsiale departement van onderwys se aansoekstelsel sluit op 26 Maart 2021.

Altesaam 180 080 aansoeke is reeds van 54 236 ouers en versorgers geprosesseer, het Bronagh Hammond, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê. “Tot dusver het ons reeds die getal aansoeke oorskry as wat ons verlede jaar teen hierdie tyd ontvang het – met 83 704 meer aansoeke wat reeds op dag 12 van die aanlyn aansoekproses verwerk is, in vergelyking met 2020,” het Hammond gesê.

“Ons wil ouers bedank wat reeds aansoek gedoen het en ons moedig ander ouers aan om in hul spoor te volg.”

Aansoeke kan aanlyn gedoen word by https://admissions.westerncape.gov.za/admissions/login.

Ouers word versoek om by minstens drie skole aansoek te doen, insluitend die een naaste aan die huis, en hul voorkeur ook op die stelsel aan te dui. Ouers moet daarna binne sewe dae die oorspronklike afskrifte by die skole indien om die proses af te handel asook enige ander vorm wat ʼn spesifieke skool vereis.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het twee video’s vervaardig om ouers te help om aanlyn te registreer en aansoek te doen.

Hoe om te registreer:

Hoe om aansoek te doen:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.