Wes-Kaap spog met drie topmatrikulante

Ulrich Le Roux van die Hoër Jongenskool Paarl. (Foto: Facebook)

Die Wes-Kaap het stof in die ander provinsies se oë geskop nadat dié provinsie die drie toppresteerders in die 2021-matriekuitslae van kwintiel 5-skole opgelewer het.

Ulrich le Roux van Hoër Jongenskool Paarl, ook bekend as Boishaai, is aangewys as die toppresteerder met ’n allemintige gemiddeld van 97,86%.

Simoné Wessels van Hoërskool Stellenberg en Ah-Young Moon van Rhenish Girls’ High School in Stellenbosch is op hul beurt as die tweede en derde toppresteerders vir 2021 aangekondig.

Derek Swart, skoolhoof van Boishaai, sê dié skool is ongelooflik trots op Le Roux wat sewe onderskeidings (Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, fisiese wetenskappe en inligtingstegnologie) behaal het.

“Ons is selfs meer trots op die karaktervolle jong man wat hier uitstap,” sê Swart.

Nié net het dié slimkop volpunte in drie van sy vakke behaal nie, maar was hy ook ’n goeie hokkiespeler en middelafstandatleet by Boishaai. Hy het ook aan verskeie olimpiades deelgeneem.

“Hy is net ’n gemaklike, aangename, lekker, gewone ou. Hy is ’n ongelooflike inspirasie vir ander en dien as voorbeeld dat jy net ʼn skerp en oopkop ou hoef te wees wat lekker deelneem – ʼn ‘good guy’.”

Le Roux het sedert gr. 8 elke jaar diep in die 90’s behaal.

Hy gaan vanjaar aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer waar hy ’n inwoner van die Eendracht-manskoshuis gaan wees.

Simoné Wessels van Hoërskool Stellenberg (Foto: Verskaf)

Wessels gaan ook ʼn Matie word. Sy gaan B-Rek aan US studeer nadat sy self sewe onderskeidings by Hoërskool Stellenberg  ingeryg het. Sy het ʼn gemiddeld van 97,77% behaal met onderskeidings in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, besigheidstudies, rekeningkunde en lewensoriëntering.

Charné Wessels, Wessels se ma, sê hulle was aangenaam verras deur Simoné se prestasie. “Dit is onverdiende genade, baie harde werk en deursettingsvermoë van haar kant af wat tot hierdie prestasie gelei het. Ons is geweldig trots op haar en baie dankbaar.”

Charné vertel dat haar dogter elke jaar akademiese erekleure verwerf het hoewel sy ook baie besig was met sport en kultuur. “Sy is ’n baie besige kind en het relatief min tyd aan haar akademie bestee. Die Covid-19-pandemie het haar eintlik gedwing om meer tyd daaraan te bestee toe sport- en kultuuraktiwiteite nie kon voortgaan nie en dit is toe dat sy regtig begin uitstyg het.”

Wessels gaan ’n inwoner van Nerina-dameskoshuis by Maties wees.

Ah-Young Moon van Rhenish Girls’ High School (Foto: Facebook)

Yolandé Havinga, skoolhoof van Stellenberg Hoërskool, bestempel Simoné as ’n veelsydige presteerder en ’n trotse ambassadeur vir dié skool.

Sy het sedert gr. 8 elke jaar akademiese erekleure verwerf en is verlede jaar as dux-leerder aangewys.

“Buiten haar briljante akademiese prestasies is sy ook op sport- en kultuurgebied ʼn kranige presteerder en ʼn voorbeeld van Hoërskool Stellenberg se veelsydige leerderkorps. Sy is ʼn waardige draer van Hoërskool Stellenberg se hoogste toekenning, die ‘Summa cum laude’.”

Rhenish Girls’ High School spog op sy beurt met Moon wat ʼn gemiddeld van 97,43% behaal het.  Sy kon egter nie bereik word vir kommentaar nie aangesien sy tans in Suid-Korea is.

Simoné Wessels by haar ouers, Bennie en Charné Wessels, en Yolandé Havinga, skoolhoof van Hoërskool Stellenberg. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Shakespeare ·

My klein niggie het 9 onderskeidings gehad en word nie eers genoem nie. What a farce !!!

Leon ·

Ek het ook al gewonder hoe bereken hul hierdie ‘rankings’. Hoe vergelyk 80% vir 9 vakke teenoor 98% vir 6 vakke? Hoe vergelyk ‘n onderskeiding in houtwerk teenoor ‘n onderskeiding in Natuurwetenskappe?

Johanna ·

Gaan kla by jou klein niggles se skoolhoof. Hy moet sien dat sy erkenning kry wat sy verdien.
Baie geluk aan jou klein niggie. Fantasties!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.