Wes-Kaap staal hom vir derde vlaag

Inentings in die provinsie duur voort, terwyl die Wes-Kaap hom staal vir ‘n styging in Covid-19-gevalle. (Foto: Alan Winde/Twitter)

Die Wes-Kaap het ʼn omvattende plan opgestel om die derde vlaag Covid-19-infeksies in die provinsie te hanteer.

Daar is groot kommer oor die verspreiding van die hoogs aansteeklike Delta-variant wat tans die meeste infeksies in Suid-Afrika veroorsaak. Gauteng was tot dusver die episentrum van die nuwe vlaag, maar daar is nou ook al hoe meer gevalle in die Wes-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.

Dr. Keith Cloete, hoof van die departement van gesondheid in die Wes-Kaap, het Vrydag gesê die provinsie het “baie geleer” uit die vorige twee vlae en het reeds nie-Covid-19-dienste by sy hospitale begin afskaal om ruimte vir Covid-19-pasiënte te skep.

Teen volle kapasiteit sal die Wes-Kaap 2 300 beskikbare beddens in staatshospitale hê.

Die provinsie het bedrywighede by sy veldhospitale tussen vlae afgeskaal, maar nooit heeltemal gesluit nie. Dié hospitale word nou weer in werking gestel.

Cloete sê in hierdie stadium word 960 mense in staatshospitale vir Covid-19 behandel en 1 320 in private hospitale. Dit is sowat 16% van die algehele getal mense wat tans in hospitale in die provinsie behandel word.

Volgens die jongste korttermynvooruitskatting gaan tot 500 mense per dag weens Covid-19 in hospitale in die provinsie opgeneem word. In dié stadium staan die syfer op ʼn gemiddeld van 170 nuwe opnames per dag.

Daaglikse infeksies in die Wes-Kaap neem toe en daar word nou gemiddeld meer as 2 000 nuwe gevalle per dag bevestig. Sterftes het ook toegeneem, met nagenoeg 35 wat elke dag in die provinsie bevestig word.

Meer as 620 000 inentings is reeds in die provinsie gedoen.

Cloete sê traumagevalle het met 25% gedaal nadat die hernieude verbod op alkohol in werking getree het en naweke het dié syfer met tot 33% afgeneem.

Die stad het ook ʼn massasterftesentrum waar tot 240 liggame op ʼn slag gehanteer kan word.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Oom Hennie Pennie

Ja dis winter en griep seisoen. Of is daar nie meer verkoue en griep nie, net covid??

Jack

Ek neem aan die trauma is minder weens drank en nie normale loop van sake nie. Maklik om na die anc se pype te wil dans.

Gert

Om van persentasies te praat kan misleidend wees, bv. daar was 4 traumagevalle, nou is daar 3. Dit is ‘n 25% vermindering.

annie

Mens vermoed iemand op die bevelsraad het dalk ‘n drankprobleem. Indien ‘n tjokolis nie sy… haar… lus vir ‘n blokkie kan beteuel nie, moet almal ophou om dit te koop? Ek versoek dringend die raad om so ‘n bevel af te dwing… nie vir my nie… vir vèrlangse familie…