Wes-Kaap steeds op hoë gereedheidsgrondslag

Stormweer in Paarl (Foto: Drakenstein Munisipaliteit/ Facebook)

Verskeie hoofroetes en selfs skole in die Wes-Kaap is steeds gesluit ná stormsterk wind groot dele van die Wes-Kaap oor die naweek lamgelê het.

Kaapstad se ramprisikobestuursentrum (DRMC) het Maandagoggend weer vergader oor sy reaksie op die gure weer.

Charlotte Powell, woordvoerder van die Kaapstad-metro se rampbestuursentrum, sê die metrogebied word steeds gemonitor en ʼn behoefte aan enige optrede vanuit die sentrum gekoördineer.

Optrede sluit in die vroegtydige ontruiming van gebiede waar inwoners se veiligheid in die gedrang is, assesserings om die aard en omvang van nodige humanitêre hulpverlening te bepaal, die herstel en vervanging van beskadigde infrastruktuur in die stad, en noodleniging ná enige weerverwante situasies.

Talle padsluitings weens bome wat op paaie omgeval het, elektriese foute, dakke wat afgewaai het en brandverwante skade en opruiming word dopgehou en bestuur.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ʼn verdere vlak 6-waarskuwing vir rowwe wind- en seetoestande en ʼn vlak 9-waarskuwing vir reëntoestande vir dele van die Wes-Kaap uitgereik.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ook ʼn beroep op mense gedoen om nie oorstroomde of verspoelde brûe oor te steek nie, asook sterk vloeiende water te vermy.

 

Help só of kry hier hulp

Mense wat wil help, kan skenkings aan diegene wat weens die gure weer of brande dakloos gelaat is, regstreeks aan welwillendheidsorganisasies of ander instellings in hul gemeenskap skenk. Alternatiewelik kan skenkings by die kantoor van die ramprisikobestuursentrum in Goodwood (agter die brandweerstasie) afgelaai word. Donasies kan niebederfbare kruideniersware, komberse, toiletware en dies meer insluit.

Lede van die publiek kan enige weerverwante noodgeval, waar lewe of eiendom in gevaar is, by die stad se noodkommunikasiesentrum aanmeld deur 021 480 7700 vanaf ʼn selfoon of 107 vanaf ʼn landlyn te bel.

Groot skade reeds aangerig

‘n Woning in die Paarl se dak is verwoes deur die stomweer. (Foto: Facebook)

Maroela Media het vroeër berig dat skole in die Overberg-, Wynland- en Helderberg- (Somerset-Wes)-distrik Maandag gesluit gaan wees weens die risiko van wydverspreide vloede en gure weer.

Groot skade is ook reeds aangerig. Volgens Colin Deiner, hoof van rampbestuur in die Wes-Kaap, is skade aan die Helderberg-hospitaal in Somerset-Wes en die Paarl-hospitaal aangerig. Die Mediclinic Stellenbosch moes ontruim word en drie pasiënte is na ander hospitale oorgeplaas.

Chapmanspiek- en Clarence-rylaan is ook gesluit tot verdere kennisgewing. Talle brande woed ook oor verskillende dele van die provinsie en word deur sterk wind aangedryf.

Verskeie risikoverminderingsmaatreëls is intussen ingestel, onder meer die opskort van groot openbare byeenkomste en die monitering van damvlakke en riviervloei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nici ·

Die Kaapse regering het vandag ons skole toegemaak en dit het skaars gereen. Niks gebeur nie. Nou maak hul weer more toe. Kan skole nie self besluit nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.