Wes-Kaap stig noodfonds vir kunste, sport

(Foto: Kilyan Sockalingum/Unsplash)

Die departement vir kultuursake en sport in die Wes-Kaap het sy eie noodfonds geskep vir plaaslike kunstenaars en sportlui.

Luidens ʼn mediaverklaring deur die departement gaan die kuns-, kultuur-, erfenis-, en sportsektor gebuk onder swaar finansiële druk sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie en die inperkingsmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

Dié noodfonds, waarvan die omvang nog nie bekend is nie, sal spesifiek vir Wes-Kaapse kunstenaars en sportlui aangewend word. Die fonds word geskep benewens die R150 miljoen wat op 25 Maart deur Nathi Mthetwa, minister van sport, kuns en kultuur, aangekondig is om Suid-Afrikaanse kunstenaars en sportlui te ondersteun.

Volgens die departement se verklaring is Anroux Marais, LUR vir kultuursake en sport in die Wes-Kaap, ten gunste van die nasionale noodfonds.

Die Wes-Kaapse provinsiale regering is egter van mening dat dit belangrik is om die provinsie se eie fonds te stig sodat hulle hul plaaslike kreatiewe ekonomie kan ondersteun omdat hulle bewus is wat die bydraes van kultuur en sport in die provinsie is.

Heeltydse kunstenaars ouer as 18, wat binne die grense van die Wes-Kaap woon, sowel as kunsteorganisasies kan aansoek doen vir hulp uit die provinsiale noodfonds. Die fonds is egter net beskikbaar vir diegene wat weens die pandemie hul inkomste tussen Maart en Junie 2020 verloor as gevolg van kansellasies van vertonings.

Daar is vyf kategorieë waarin aansoek vir hulp gedoen kan word en elke kategorie het sy eie kriteria waaraan voldoen moet word. Die kriteria is hier uiteengesit.

Volledige aansoeke moet voor of op Dinsdag 19 Mei om 16:00 na [email protected] gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Julle mag nie julle eie noodfonds vir kunste en sport stig nie. Die ANC moet dit beheer. Ek vrek eintlik vir soe bietjie vermaak…..’n fliek, die teater – Nkosazana Dlamin-Zuma wat snaakse gesigte trek, en haar perd slaan met haar doek!

Willem

Mooi so maar daar moet glad nie geld vir Bb eee gaan nie