Wes-Kaap: Teiken vir waterverbruik nou nóg laer

Argieffoto (Foto: RayMark, Pixabay)

Die Stad Kaapstad het Maandag gesê hy het die teiken vir gesamentlike watergebruik per dag met 100 miljoen liter verminder.

Die teiken vir waterverbruik in dié stad is nou 600 miljoen liter per dag. Die stad sê in ʼn verklaring hy was genoodsaak om die waterverbruikteiken nog verder te verlaag weens die voortdurende daling van damvlakke in die provinsie en die ongewone warm weer wat tot gevolg gehad het dat waterverbruik toegeneem het.

“Die damvlakke is tans op 23,3% (stoorvlakke), wat 0,9% minder is as ʼn week gelede. Met 10% van die damme se water wat grootliks onbruikbaar is, is damvlakke in werklikheid op 13,3%,” lui die verklaring. “Die mees onlangse verbruik was 745 miljoen liter per dag, wat 45 miljoen liter meer as die vorige teiken van 700 miljoen liter is.”

Volgens die verklaring kan nog strenger waterbeperkings moontlik binnekort geïmplementeer word. Tans het die Stad inwoners versoek om geen munisipale water in buite-areas te gebruik nie en so ver moontlik gryswater en reënwater te gebruik vir nie-drink doeleindes.

“Inwoners moet asseblief dadelik hul persoonlike watergebruik afbring na minder as 100 liter per persoon per dag. Teen die huidige verbruikingsvlakke is daar slegs 88 dae se water oor.”

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir waterdienste, het inwoners bedank vir hul pogings om water te spaar, maar gesê meer sal nou gedoen moet word. “Die weerstoestande is wisselvallig en dit lyk asof watergebruikers direk hierop reageer. Met ander woorde hulle gebruik meer water sodra dit warmer word, maar gebruik skynbaar ook baie water wanneer dit reën. Dit is nie volhoubaar nie. Ons moet water op ʼn konsekwente manier verbruik in hierdie krisistydperk,” het Limberg gesê.

Die verklaring lui verder dat die Stad voortgaan met ʼn uitgebreide program om die druk van die watervloei te verminder, asook om lekplekke in die waterverspreidingstelsel te herstel.

Inwoners kan die Stad by [email protected] kontak met enige navrae of om oortredings van waterbeperkings aan te meld. ʼn SMS kan ook na 31373 gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

Intussen maak century city hulle grasperke amper elke dag met sproeiers nat. Hulle let ook nie op as dit wel reën nie, want onlangs toe daar darem so ‘n ligte reëntjie geval het, het die sproeiers steeds gewerk TERWYL dit reën…

Michael ·

Vergeet van ‘n standbeeld vir Mandela en bou ‘n ontsoutings aanleg om vars water te voorsien aan mens en dier in die weskaap

BOLANDER ·

Kan nie meer saam met jou stem nie!!!!!!!!!!!!!!! Maar ongelukkig het net ek en jy en sekere ander mense hierdie briljante idee. Die mense wat dit moet weet, is of te dom of blind daarvoor!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.