Wes-Kaap-toerisme verloor meer as 75 000 poste in 2020

Kaapstad (Foto: Heinrich Botha/Pixabay)

Die toerismebedryf in die Wes-Kaap het na raming ongeveer 75 477 poste in 2020 verloor weens afsonderingsregulasies teen Covid-19.

David Maynier, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, sê die bedryf het in 2019 in die Wes-Kaap sowat R15,5 miljard bruto waarde toegevoeg en 174 982 poste in die provinsie ondersteun. Alhoewel die Wes-Kaap die laagste werkloosheidskoers in die land het, het 75 477 poste na raming verlore gegaan.

“Dit is hoekom dit so belangrik is om toerisme weer aan die gang te kry vir werkskepping en die ekonomie in die Wes-Kaap.”

Maynier sê dit is noodsaaklik dat die nasionale regering moet oorweeg om afsonderingsregulasies op te hef wat nog ʼn impak het op ondernemings in sy provinsie.

“Waar dit veilig is om dit te doen, moet beperkings op die verkope van alkohol, die aandklokreël en die grootte van byeenkomste opgehef word. Hulle moet ook oorweeg om groter konferensiefasiliteite toe te laat om hul kapasiteit te verhoog, asook die bywoning van sportbyeenkomste vir diegene wat ten volle ingeënt is.”

Maynier sê die plaaslike regering sal alles in sy vermoë doen om seker te maak dat dit die mees suksesvolle somerseisoen is deur hindernisse te takel wat groei in die toerisme- en gasvryheidsbedryf belemmer. “Ons sal ook van ons bekroonde bestemmingsbemarking-veldtogte gebruik maak om die beste te wys wat Kaapstad en die Wes-Kaap aanbied.”

Volgens hom was daar ʼn merkbare toename in plaaslike toeriste ná die winter en die eerste afsonderingsperiode. “Ons verwag vanjaar ʼn soortgelyke patroon wanneer plaaslike lugrederye bedrywighede hervat.”

Soos wat beperkings ook opgehef word op reis na en van Suid-Afrika sal al hoe meer internasionale lugrederye ook na Kaapstad-lughawe terugkeer. “Met sleutelmarkte in Europa soos Duitsland, Frankryk en Nederland wat nou na Suid-Afrika mag reis, is ons optimisties dat dié somerseisoen ʼn baie beter seisoen sal wees as verlede jaar. Ons sien reeds die bewyse hiervan by Kaapstad-lughawe wat ʼn 21%-passasiersherstelkoers gehaal het vir die eerste drie weke van Augustus 2021, in vergelyking met dieselfde periode in 2019. Internasionale vlugte het ʼn herstelkoers van 50% vir die eerste keer sedert internasionale dienste in Oktober 2020 hervat het.”

Manier sê die provinsie se toerisme- en bemarkingsagentskap Wesgro werk hard aan veldtogte vir die somerseisoen met ʼn internasionale veldtog in Duitsland en Nederland en ʼn plaaslike veldtog wat vir Oktober beplan word.

“Tydens toerismemaand sien ek uit daarna om oor die provinsie heen te reis om verskeie opwindende toerismeprodukte bekend te stel en sodat ons reisigers daaraan kan herinner dat die Wes-Kaap ʼn wêreld in een provinsie is met ʼn verskeidenheid van bekostigbare ervarings, toeganklik vir almal.”

Besoek Wesgro se webwerf vir inspirasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Ons in die Wes Kaap kry baie toeriste,veral uit die Oos kaap en die res van Afrika,maar hulle spandeer nie,want hulle hèt nie….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.