Wes-Kaap-treindiens dalk opgeskort weens betogings

Een van die beskadigde Metrorail-treine by die Chris Hani-stasie in die Wes-Kaap (Augustus 2014) Foto: @kevinjohnbrandt, Twitter

Een van die beskadigde Metrorail-treine by die Chris Hani-stasie in die Wes-Kaap (Augustus 2014) Foto: @kevinjohnbrandt, Twitter

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het Donderdag gewaarsku dat volgehoue gewelddadige aanvalle op treine in die Wes-Kaap tot ʼn opskorting van dié diens kan lei.

“Die volgehoue wetteloosheid kan moontlik daartoe lei dat ons sentrale lyne in die Wes-Kaap moet sluit totdat betogers nie meer staatsbates vernietig nie en wanneer gemeenskappe hierdie misdadigers uitken,” het Mosenngwa Mofi, uitvoerende hoof van Prasa, gesê. “Ons kan nie dit waag om nuwe treine en infrastruktuur beskikbaar te stel indien die huidige diens nie veilig is nie.”

Mofi het Donderdag Khayelitsha besoek om die skade aan ʼn trein en stasie te ondersoek nadat betogers dit aan die brand gesteek het.

Riana Scott, streekswoordvoerder vir Metrorail, het gesê ʼn groep betogers het Woensdag omstreeks 19:00 ʼn brand gestig in ʼn leë trein by die Chris Hani-stasie. Die drywer en veiligheidswag moes vlug. Vier waens is vernietig en oorhoofse elektriese toerusting en pale is beskadig.

Betogers het net daarna probeer om die Kuyasa-stasie af te brand. “Konserwatief beraam beloop die skade minstens R8 miljoen,” het Scott gesê. Die skade aan die stasie en oorhoofse elektriese toerusting is nie hierby ingesluit nie.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het die vandalisme as “skokkend en weersinwekkend” veroordeel. Hy het gesê ʼn MyCiTi-bus is ook omstreeks 18:00 naby Kuyasa-stasie met klippe bestook. Geen passasiers is beseer nie en die bus is uit die diens onttrek weens ʼn stukkende venster.

Herron het gesê hulle het gratis Myconnect-buskaartjies by die Kuyasa-stasie beskikbaar gestel, maar dit is nou gesluit tot verdere kennisgewing. “Dit is ongelukkig die inwoners van Khayelitsha wat die ergste geraak word hierdeur,” het hy gesê.

Mofi sê indien die geweld voortduur, is dit slegs ʼn kwessie van tyd voordat mense beseer word of sterf. “Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat, ná 20 jaar van demokrasie, persone steeds hul frustrasie oor dienslewering uitdruk deur middel van geweld en moedswillige vandalisme,” het hy gesê.

Altesaam 31 waens is in die 2013/14 finansiële jaar beskadig deur brand of brandstigting. Die organisasie het die afgelope drie jaar R382 miljoen verloor weens diefstal en vandalisme. “Dit is baie jammer dat hierdie bates wat aangeval word ons vermoë beperk om ʼn behoorlike diens aan ons klante te verskaf,” het Mofi bygevoeg.

Metrorail is gedwing om treindienste op die Khayelitsha-Kuyasa-Chris Hani-roete op te skort tot verdere kennisgewing.

Pendelaars moes van Donderdag af van alternatiewe vervoer gebruik maak, aangesien die situasie nog nie stabiel genoeg is om ʼn buspendeldiens in te stel nie. Die treindiens van Kaapstad na Khayelitsha en ander lyne is steeds beskikbaar.

Kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap het gesê ʼn saak van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.